AMOS 5:1-9
AMOS 5:1-9 Bybel vir almal (ABA)
Mense van Israel, luister na wat ek sê. Ek huil en treur oor julle soos 'n mens treur oor iemand wat dood is: Die mense van Israel het geval, hulle sal nie weer opstaan nie. Hulle het op hulle eie grond geval, en niemand help hulle om op te staan nie. Ja, die Here sê: “Wanneer 1 000 mense van Israel uit 'n stad gaan om oorlog te gaan maak, dan sal 900 sterf. Wanneer 100 manne gaan, dan sal 90 sterf.” Ja, die Here sê vir die mense van Israel: “Julle moet vra wat Ek wil hê julle moet doen, dan sal julle lewe! Julle moenie in die stad Bet-El gaan vra nie, en julle moet ook nie na die stad Gilgal gaan nie. Julle moenie verder gaan na die stad Berseba nie. Die vyande sal die mense van Gilgal vang en na 'n ander land vat en hulle sal Bet-El verwoes.” Vra wat die Here wil hê, dan sal julle lewe! As julle dit nie doen nie, dan sal Hy 'n vuur na julle toe stuur om die Israeliete te brand. Daar sal niemand in Bet-El wees wat die vuur kan doodmaak nie. Julle doen nie reg aan mense nie, julle laat hulle baie swaar kry. Dit is die Here wat die sterre gemaak het, Orion en die Sewe-ster. Hy laat dit lig word ná die nag, Hy laat dit donker word ná die dag. Dit is Hy wat die wolke uit die see bring en wat dit laat reën op die land. Sy Naam is die Here. Die Here maak sterk mense vinnig dood. Hy laat sterk mure omval.
AMOS 5:1-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
HOOR hierdie woord wat Ek oor julle as klaaglied aanhef, o huis van Israel! Die jonkvrou van Israel het geval, sy sal nie weer opstaan nie; neergewerp lê sy op haar land, niemand rig haar op nie. Want so sê die Here HERE: Die stad wat met duisend uitgetrek het, hou honderd oor; en die wat met honderd uitgetrek het, hou tien oor vir die huis van Israel. Want so sê die HERE aan die huis van Israel: Soek My, dan sal julle lewe! Maar soek Bet-el nie, en kom nie na Gilgal nie en trek nie deur na Berséba nie. Want Gilgal sal gewis in ballingskap gaan, en Bet-el sal tot niks word nie. Soek die HERE, dan sal julle lewe, sodat Hy nie teen die huis van Josef uitbreek soos 'n vuur wat verteer sonder dat iemand dit vir Bet-el kan blus nie. Julle wat die reg in wildeals verander en die geregtigheid teen die grond gooi! Hy wat die Sewe-ster en die Oríon gemaak het en die duisternis in môrelig verander en die dag tot nag verduister, wat die waters van die see roep en dit uitgiet oor die oppervlakte van die aarde — HERE is sy Naam! Hy wat verwoesting laat aanblits oor die sterke, en verwoesting kom oor die vesting!
AMOS 5:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hoor hierdie woord wat ek teen julle moet sê, hierdie treurlied, Israel: Israel het geval en hy sal nie weer opstaan nie; hy lê neergegooi op sy grond en niemand help hom op nie. So het die Here my God gesê: Die stad wat met duisend gaan aanval, hou net honderd oor, en dié een wat met honderd aanval, hou net tien oor vir Israel. So sê die Here vir Israel: Vra na my wil, dan sal julle lewe! Moenie in Bet-El gaan raad soek nie, moenie na Gilgal toe gaan of verbygaan Berseba toe nie. Gilgal sal in ballingskap weggevoer word, en Bet-El sal tot niet gaan. Vra na die wil van die Here, dan sal julle lewe! As julle dit nie doen nie, sal die Here vir Josef soos 'n vuur tref, 'n vuur wat vir Bet-El sal verteer sonder dat iemand dit kan blus. Julle maak van die regspraak 'n bitter saak, julle trap die reg in die grond in. Hy deur wie die Sewester en Orion gemaak is, Hy wat die donker in oggendlig verander en die dag donker nag laat word, Hy wat die water van die see roep en dit oor die aarde uitstort, sy Naam is die Here. Dit is Hy wat die magtige met vernietiging tref, wat vernietiging oor die vestingstad bring.
AMOS 5:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Luister na hierdie woord, huis van Israel, wat ek as 'n treurlied oor julle aanhef: “Sy het geval, die jongvrou Israel sal nie weer opstaan nie. Verlate lê sy op haar grond met niemand wat haar ophelp nie.” Ja, so sê my Heer, die HERE: “Die stad wat uittrek met duisend, hou honderd oor; en die een wat uittrek met honderd, hou tien oor vir die huis van Israel.” Ja, so sê die HERE vir die huis van Israel: “Soek My, dan sal julle leef. Moet Bet-El nie besoek nie; na Gilgal mag julle nie gaan nie en na Berseba die grens nie oorsteek nie. Want Gilgal sal beslis in ballingskap gaan en Bet-El sal 'n nietigheid word.” Soek die HERE, dan sal julle leef – anders vlam Hy op soos 'n vuur in die huis van Josef; die vuur sal verteer en daar is niemand wat dit vir Bet-El kan blus nie – julle wat die reg verander in wildeals, en geregtigheid teen die grond gooi. Hy wat die Sewester en Orion maak, wat stikdonker verander in môre en dag in nag laat verdonker; wat die water van die see roep en dit uitgiet oor die oppervlakte van die aarde – HERE is sy Naam. Dit is Hy wat verwoesting laat losbars oor 'n vesting, ja, verwoesting kom oor 'n versterkte stad.
AMOS 5:1-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hoor hierdie woord wat Ek oor julle aanhef, 'n klaaglied, o huis van Israel! Die maagd van Israel het geval; sy sal nie meer opstaan nie; sy is in haar land verlaat; daar is niemand om haar op te rig nie. Want so sê die HERE HERE: Die stad wat by duisend uitgetrek het, sal honderd oorbly, en wat by honderd uitgetrek het, moet tien oorbly vir die huis van Israel. Want so sê die HERE aan die huis van Israel: Soek My, en julle sal lewe. Maar soek Bet-El nie en gaan nie in Gilgal in nie, en trek nie na Berséba oor nie; want Gilgal sal sekerlik in ballingskap gaan, en Bet-el sal tot niet gaan. Soek die HERE, en julle sal lewe; dat hy nie soos 'n vuur in die huis van Josef uitbreek en dit verteer, en daar is niemand om dit in Bet-el te blus nie. Julle wat die oordeel verander in alsem en die geregtigheid op die aarde laat staan, Soek Hom wat die sewe sterre en Orion maak en die doodskaduwee in die môre verander en die dag donker maak met nag, wat die waters van die see roep en dit op die aarde uitgiet: Die HERE is sy naam: wat die geplunderdes versterk teen die sterkes, sodat die geplunders teen die vesting kom.
AMOS 5:1-9 Die Boodskap (DB)
Luister na die woorde van die lied wat op julle begrafnis gesing gaan word, Israel: “Israel was ’n jongmeisie. Sy het so diep in die sonde weggesak dat sy nooit weer daar kan uitkom nie. Sy het so diep in die moeras van verkeerde dinge weggesak dat niemand haar ooit weer daaruit kan trek nie.” Die Here sê oor Israel: “Van die stad waarvan daar 1 000 soldate weggegaan het om in die oorlog te gaan veg, het daar net 100 teruggekom wat nog lewe. “Van die dorp waaruit 100 man gaan veg het, het 10 by die huis teruggekom.” Dit is wat die Here vir Israel sê: “Kom terug na My toe, dan sal julle bly lewe. Moenie My gaan soek by die plek van aanbidding by Bet-El nie. Moenie na die altaar by Gilgal toe gaan nie. Moenie aftrek na Berseba om daar te gaan bid nie. Die pad waarlangs die vyand julle uit julle land sal wegvat, begin by Gilgal. Bet-El is die plek waar ’n ramp julle gaan tref. Soek na die Here self, dat julle kan bly leef. As julle nie by Hom uitkom nie, sal Hy soos ’n vuur wees wat Josef se nageslag gaan wegbrand. Dit sal Israel heeltemal laat verdwyn. By Bet-El sal dit so erg brand dat niks dit sal kan keer nie.” “Julle verdraai die wet en die dinge wat reg is, só dat alles eintlik bitter onregverdigheid word. Julle trap die dinge wat regverdig is, in die grond in weg.” “Hy wat tussen die sterre in die lug die Sewester en die Orion gemaak het, wat donker nag weer lig kan laat word in die oggend, die dag kan omdraai dat dit donker nag kan word, wat die waters van die see in ’n bondel bymekaarmaak in wolke wat reën uitgooi oor die aarde, sy Naam is ‘Die Here’. “Hy kan geweldige sterk mense in ’n oomblik op hulle knieë bring, Hy kan sterk vestingmure in ’n oomblik inmekaar laat stort.”
AMOS 5:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Volk van Israel, luister na die woorde van die treurlied wat ek oor julle sing: “Die jong meisie Israel het geval. Sy sal nie weer opstaan nie! Sy lê verlate op die grond met niemand om haar op te help nie.” So sê die oppermagtige HERE: “As ’n stad in Israel 1 000 manskappe uitstuur, sal net 100 oorleef. As ’n stad 100 manskappe uitstuur, sal net tien dit oorleef.” Verder sê die HERE vir die volk Israel: “Kom terug na My toe, en leef! Moenie afgode raadpleeg in Bet-El nie. Moet ook nie na Gilgal gaan of na Berseba toe nie. Die mense van Gilgal sal in ballingskap gaan. Niks sal oorbly van die mense van Bet-El nie.” Kom terug na die HERE toe en leef! As julle dit nie doen nie, sal Hy soos vuur deur die nageslag van Josef trek. Die vlamme sal Bet-El verteer sonder dat iemand dit blus. Julle verdraai die reg tot onreg, regverdigheid verwerp julle. Hy, die Skepper van die Sewester en Orion, sy Naam is HERE. Hy verander donkernag in môrelig en die dag in nag. Hy roep die water uit die see en giet dit weer oor die aarde. In ’n oogwink oorweldig Hy magtige mense en vernietig Hy vestings.