Amos 5

5
1 Luister na hierdie woord, huis van Israel, wat ek as 'n treurlied oor julle aanhef:
2 “Sy het geval,
die jongvrou Israel
sal nie weer opstaan nie.
Verlate lê sy op haar grond
met niemand wat haar ophelp nie.”
3Ja, so sê my Heer, die Here:
“Die stad wat uittrek met duisend,
hou honderd oor;
en die een wat uittrek met honderd,
hou tien oor vir die huis van Israel.”
4 Ja, so sê die Here vir die huis van Israel:
“Soek My, dan sal julle leef.
5Moet Bet-El nie besoek nie;
na Gilgal mag julle nie gaan nie
en na Berseba die grens nie oorsteek nie.
Want Gilgal sal beslis
in ballingskap gaan
en Bet-El sal 'n nietigheid word.”
6 Soek die Here, dan sal julle leef –
anders vlam Hy op soos 'n vuur
in die huis van Josef;
die vuur sal verteer
en daar is niemand wat dit
vir Bet-El kan blus nie –
7 julle wat die reg verander
in wildeals,
en geregtigheid teen die grond gooi.
8 Hy wat die Sewester en Orion maak,
wat stikdonker verander in môre
en dag in nag laat verdonker;
wat die water van die see roep
en dit uitgiet oor
die oppervlakte van die aarde –
Here is sy Naam.
9 Dit is Hy wat verwoesting
laat losbars oor 'n vesting,
ja, verwoesting kom
oor 'n versterkte stad.
10 Hulle haat die een
wat in die stadspoort teregwys
en verafsku hom wat reguit praat.
11 Daarom, omdat julle
graanbelasting van armes eis,
en 'n heffing op graan
van hulle neem,
het julle huise van gekapte klip gebou,
maar julle sal nie daarin woon nie;
het julle pragtige wingerde geplant,
maar julle sal die wyn daarvan
nie drink nie.
12 Ek weet immers
hoe baie julle oortredings
en hoe talryk julle sondes is,
julle wat vyandig is teenoor regverdiges,
wat omkoopgeld vat
en behoeftiges in die stadspoort
wegwys.
13 Daarom is die verstandige
in hierdie tyd stil,
want dit is 'n bose tyd.
14 Soek die goeie, nie die slegte nie,
sodat julle kan lewe;
dan sal die Here, die God
wat Heerser is oor alle magte,
só by julle wees soos wat julle sê.
15 Haat die slegte,
wees lief vir die goeie,
en vestig die reg in die stadspoort.
Miskien sal die Here, die God
wat Heerser is oor alle magte,
dié wat oor is van Josef, genadig wees.
16 Daarom, so sê die Here,
die God van alle magte, my Heer:
“Op al die dorpspleine
klink die rouklag op.
In al die strate roep hulle,
‘O wee! O wee!’
Hulle roep plaaswerkers
om deel te neem aan
die rouplegtigheid en die rouklag,
saam met die kenners van treursang.
17 In al die wingerde
klink die rouklag op,
want Ek trek deur jou midde.”
Dit het die Here gesê.
18 Wee dié wat uitsien
na die dag van die Here.
Wat hou dit vir julle in?
Die dag van die Here
is duisternis, nie lig nie,
19 soos wanneer iemand vlug
vir 'n leeu,
maar 'n beer val hom aan.
As hy wel in die huis kom
en met sy hand teen die muur leun,
dan pik 'n slang hom.
20Die dag van die Here,
is dit nie duisternis,
en nie lig nie,
donker met geen ligglans nie?
21“ Ek haat, Ek verwerp julle feeste;
Ek wil julle feesvierings nie ruik nie.
22Ja, selfs al lê julle vir My
•brandoffers en julle •graanoffers
op die altaar,
Ek aanvaar dit nie;
'n •maaltydoffer van julle
vetgemaakte kalwers
sien Ek nie raak nie.
23 Hou die lawaai van julle liedere
weg van My;
die klank van julle harpe
wil Ek nie hoor nie.
24 Laat die reg voortrol soos water
en geregtigheid soos
'n standhoudende stroom.
25 Het julle slagoffers
en graanoffers vir My gebring,
die veertig jaar in die woestyn,
huis van Israel?
26Julle sal Sakkoet, julle koning,
en Kajjawan, julle beelde,
die ster van julle gode wat julle
vir julle gemaak het, moet dra.
27Ek gaan julle tot anderkant
Damaskus in ballingskap wegvoer,”
het die Here gesê.
God wat Heerser is oor alle magte,
is sy Naam.

Tans Gekies:

Amos 5: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid