AMOS 3:1-7 - Compare All Versions
AMOS 3:1-7 AFR83 (Afrikaans 1983)
Luister na die woord wat die Here teen julle rig, Israeliete, teen al die stamme wat Hy uit Egipte laat trek het: Ek het net vir julle uitgekies uit al die volke van die aarde, daarom sal Ek julle straf oor al julle sondes. Sal twee saamloop as hulle dit nie afgespreek het nie? Sal 'n leeu in die bos brul as hy niks het om te vreet nie? Sal hy in sy boerplek roep as hy nie gevang het nie? Sal 'n voël in 'n wip op die grond val as daar nie 'n strik vir hom gestel is nie? Sal 'n wip op die grond toeklap as dit nie iets gevang het nie? Sal daar in 'n stad op 'n ramshoring geblaas word as die inwoners nie geskrik het nie? Sal daar 'n ramp oor 'n stad kom as die Here dit nie gebring het nie? Die Here God doen niks as Hy nie sy besluit bekend gemaak het aan sy dienaars die profete nie.
AMOS 3:1-7 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
HOOR hierdie woord wat die HERE oor julle gespreek het, o kinders van Israel, oor die hele geslag wat Ek uit Egipteland laat optrek het, naamlik: Julle alleen het Ek geken uit al die geslagte van die aarde; dáárom sal Ek by julle besoeking doen oor al julle ongeregtighede. Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het? Sal 'n leeu brul in die woud as hy geen prooi het nie? Sal 'n jong leeu sy stem uit sy lêplek laat hoor as hy niks gevang het nie? Sal 'n voël in 'n net val op die grond as daar vir hom geen strik gestel is nie? Sal 'n wip van die grond af opspring as dit glad nie gevang het nie? Sal die basuin in die stad geblaas word en die bevolking nie skrik nie? Sal daar 'n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie? Want die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.
AMOS 3:1-7 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Luister na hierdie boodskap wat Ek, die HERE, oor julle te sê het, mense van Israel. Dit raak die hele volk wat Ek uit Egipte laat trek het. “Ek het net vir julle gekies uit al die volke op die aarde. Daarom sal Ek julle straf vir al julle sondes.” Sal twee mense saam op reis gaan sonder om eers af te spreek om dit te doen? Sal ’n leeu in ’n bos brul sonder dat hy ’n prooi het? Sal ’n leeu grom in die ruigtes as hy niks gevang het nie? Sal ’n voël gevang word as ’n wip nie gestel is nie? Sal ’n wip toeklap op die grond as dit nie iets gevang het nie? As die oorlogstrompet blaas, sal mense dan nie skrik nie? As ’n ramp ’n stad tref, het die HERE dit dan nie veroorsaak nie? Die oppermagtige HERE doen niks sonder om sy diensknegte, die profete, daaroor in te lig nie.
AMOS 3:1-7 DB (Die Boodskap)
Luister wat sê die Here oor julle, Israel. Hoor wat Hy sê van die volk wat Hy uit Egipte laat wegtrek het: “Uit al die nasies wat daar op die aarde is, het Ek julle gekies en My net aan julle verbind. Julle sal vir My moet kom verduidelik hoekom julle dan soveel sonde teen My doen.” Sal twee mense saam die pad vat as hulle dit nie voor die tyd met mekaar so afgespreek het nie? Sal ’n leeu in die bos brul as daar niks is om te vang nie? Sal ’n jong leeu grom as daar nie eens ’n prooi vir hom is nie? Sal ’n voël ooit teen die grond neerslaan as dit nie ’n wip is wat hom gevang het nie? Sal ’n vangstrik toeklap as daar nie iets is wat dit afgetrap het nie? Wanneer die oorlogstrompet blaas, is dit vanselfsprekend dat mense sal skrik. Wanneer ’n ramp ’n stad tref, is dit vanselfsprekend dat dit van die Here kom. Die Here laat niks gebeur as Hy dit nie eers voor die tyd vir sy boodskappers gesê het nie.
AMOS 3:1-7 ABA (Bybel vir almal)
Mense van Israel, die Here het julle almal uit Egipte gebring. Luister wat sê Hy vir julle: “Daar is baie volke op die aarde, maar dit is vir julle wat Ek gekies het. Daarom sal Ek julle straf oor alles wat julle verkeerd doen.” Twee mense besluit eers dat hulle saam wil loop, en dan doen hulle dit. 'n Leeu in die bos vang eers iets, en dan brul hy. Iemand sit eers 'n vangstrik op die grond, en dan vang hy 'n voël daarin. 'n Vangstrik vang eers iets, en dan klap dit toe. Wanneer iemand die ramshoring in die stad blaas om te sê die vyand kom, dan skrik die mense. Wanneer die Here sê dit moet sleg gaan in 'n stad, dan gebeur dit. Ja, die Here sê eers vir sy dienaars, die profete, wat Hy wil doen, en dan doen Hy dit.
AMOS 3:1-7 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
“Luister na hierdie woord wat Ek, die HERE, teen julle uitgespreek het, Israeliete, teen die hele geslag wat Ek uit Egipteland laat optrek het, ‘Net julle, uit al die geslagte van die aarde, het Ek geken; daarom gaan Ek van julle rekenskap eis oor al julle sondeskuld.’ ” Loop twee saam sonder dat hulle afgespreek het? Brul 'n leeu in die bos as daar vir hom geen prooi is nie? Laat 'n jong leeu sy stem hoor uit sy lêplek sonder dat hy iets gevang het? Duik 'n voël af op 'n wip op die grond as daar vir hom geen lokaas is nie? Klap 'n wip toe op die grond as dit glad nie iets vang nie? As 'n •ramshoring in 'n stad geblaas word, bewe mense nie? As daar teenspoed in 'n stad is, het die HERE dit nie gedoen nie? Ja, my Heer, die HERE, doen niks nie, tensy Hy sy vertroulike besluit openbaar aan sy diensknegte, die profete.
AMOS 3:1-7 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Hoor hierdie woord wat die HERE oor julle gespreek het, o kinders van Israel, oor die hele geslag wat Ek uit Egipteland laat optrek het, en gesê: Jy alleen het Ek geken van al die geslagte van die aarde; daarom sal Ek jou besoek vir al jou ongeregtighede. Kan twee saam loop, tensy hulle ooreengekom is? Sal 'n leeu brul in die bos as hy geen prooi het nie? sal 'n jong leeu uit sy kuil uitroep as hy niks gevat het nie? Kan 'n voël in 'n strik op die aarde val, waar geen jenewer vir hom is nie? Sal 'n mens 'n strik van die aarde opneem en niks gevang het nie? Sal 'n basuin in die stad geblaas word en die volk nie bang wees nie? sal daar onheil in 'n stad wees en die HERE het dit nie gedoen nie? Waarlik, die HERE sal niks doen nie, maar Hy het sy geheim aan sy knegte, die profete, geopenbaar.