Amos 3

3
Profetiese uitsprake teen Israel
1 “Luister na hierdie woord wat Ek, die Here, teen julle uitgespreek het, Israeliete, teen die hele geslag wat Ek uit Egipteland laat optrek het, 2 ‘Net julle, uit al die geslagte van die aarde, het Ek geken; daarom gaan Ek van julle rekenskap eis oor al julle sondeskuld.’ ”
3Loop twee saam
sonder dat hulle afgespreek het?
4Brul 'n leeu in die bos as daar
vir hom geen prooi is nie?
Laat 'n jong leeu sy stem hoor
uit sy lêplek
sonder dat hy iets gevang het?
5Duik 'n voël af op 'n wip
op die grond as daar
vir hom geen lokaas is nie?
Klap 'n wip toe op die grond
as dit glad nie iets vang nie?
6 As 'n •ramshoring in 'n stad
geblaas word,
bewe mense nie?
As daar teenspoed in 'n stad is,
het die Here dit nie gedoen nie?
7 Ja, my Heer, die Here,
doen niks nie,
tensy Hy sy vertroulike besluit
openbaar aan sy diensknegte,
die profete.
8 'n Leeu het gebrul –
wie sal nie bang wees nie?
My Heer, die Here, het gepraat –
wie sal nie profeteer nie?
9 Basuin dit uit
oor die vestings in Asdod,
oor die vestings in Egipteland.
Sê: “Kom bymekaar op die heuwels
by Samaria,
en aanskou die groot paniek in haar,
die verdrukking in haar midde.”
10 “Hulle weet nie hoe
om reg op te tree nie,”
is die uitspraak van die Here,
“hulle wat die buit van geweld
en misdaad opstapel
in hulle vestings.”
11Daarom, so sê my Heer, die Here:
“Daar is 'n vyand,
en hy is reg rondom die land!
Hy gaan jou versterkings laat intuimel,
jou vestings word geplunder.”
12So sê die Here:
“Soos 'n skaapwagter
twee stukkies agterbeen
en die kraakbeen van 'n oor red
uit die bek van 'n leeu,
so sal die Israeliete gered word
wat in Samaria sit
met net die hoek van 'n bed
en die sykant van 'n slaapbank.
13 Luister en getuig
teen die huis van Jakob.”
Dit is die uitspraak van my Heer,
die Here, die God
wat Heerser is oor alle magte.
14“ Ja, die dag wanneer Ek
van Israel rekenskap eis
oor sy oortredings,
gaan Ek ook rekenskap eis
van die altare van Bet-El:
Die horings van die altaar
sal afgekap word;
dit sal op die grond val.
15 Ek gaan die winterhuis verwoes
saam met die somerhuis.
Die huise met ivoorinleg
sal tot niet gaan
en groot huise sal verval,”
is die uitspraak van die Here.

Tans Gekies:

Amos 3: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid