AMOS 3:1-7

AMOS 3:1-7 AFR83

Luister na die woord wat die Here teen julle rig, Israeliete, teen al die stamme wat Hy uit Egipte laat trek het: Ek het net vir julle uitgekies uit al die volke van die aarde, daarom sal Ek julle straf oor al julle sondes. Sal twee saamloop as hulle dit nie afgespreek het nie? Sal 'n leeu in die bos brul as hy niks het om te vreet nie? Sal hy in sy boerplek roep as hy nie gevang het nie? Sal 'n voël in 'n wip op die grond val as daar nie 'n strik vir hom gestel is nie? Sal 'n wip op die grond toeklap as dit nie iets gevang het nie? Sal daar in 'n stad op 'n ramshoring geblaas word as die inwoners nie geskrik het nie? Sal daar 'n ramp oor 'n stad kom as die Here dit nie gebring het nie? Die Here God doen niks as Hy nie sy besluit bekend gemaak het aan sy dienaars die profete nie.