HANDELINGE 3:20-22
HANDELINGE 3:20-22 Bybel vir almal (ABA)
Dan sal julle weet dat die Christus regeer en julle sal kalm en rustig wees. En die Here sal vir Jesus stuur, Hy het vir Jesus gekies en aangestel om die Christus te wees. Jesus moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het. God het al hierdie dinge lank gelede gesê toe Hy vir sy gewyde profete gesê het om dit te sê. Moses het gesê: ‘ Julle God die Here sal vir julle 'n profeet stuur, die profeet sal wees soos ek is. Hierdie profeet sal een van julle wees. Julle moet luister na alles wat hy vir julle sal sê.
HANDELINGE 3:20-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
en Hy Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus, Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete. Want Moses het tot die vaders gespreek: Die Here julle God sal vir julle 'n Profeet verwek uit julle broeders net soos ek is; na Hom moet julle luister volgens alles wat Hy met julle sal spreek.
HANDELINGE 3:20-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
En dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom en sal Hy Jesus stuur, wat vooraf vir julle as die Christus aangewys is. Hy moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het. Dit het God reeds lank gelede deur sy heilige profete gesê. Moses het immers gesê: ‘Die Here julle God sal uit julle eie geledere vir julle 'n Profeet soos ek laat voortkom. Gehoorsaam Hom in alles wat Hy vir julle sal sê.
HANDELINGE 3:20-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
en vanaf die Here self tye van verkwikking kan aanbreek, en Hy die Christus wat vir julle aangewys is, kan stuur, naamlik Jesus. Die hemel moet Hom verwelkom tot op die tyd van die herstel van alle dinge, waarvan God lank gelede by monde van sy heilige profete gepraat het. Moses het immers gesê, ‘Die Here julle God sal vir julle net so 'n profeet soos ek uit julle broers laat opstaan. Na Hom moet julle luister, na alles wat Hy vir julle sê.
HANDELINGE 3:20-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy sal Jesus Christus stuur, wat voorheen aan julle verkondig is. Wat die hemel moet ontvang tot op die tye van herstel van alle dinge, wat God gespreek het deur die mond van al sy heilige profete van die begin van die wêreld af. Want Moses het waarlik aan die vaders gesê: 'n Profeet sal die Here julle God vir julle verwek uit julle broers soos ek; Hom moet julle hoor in alles wat Hy vir julle sê.
HANDELINGE 3:20-22 Die Boodskap (DB)
“God se feestyd sal dan in julle lewe aanbreek. Hy gaan vir Jesus Christus binnekort na julle toe terugstuur. Totdat dit gebeur, bly Hy in sy hemelse woonplek. Dit is hoekom julle Hom nie nou kan sien nie. Maar Jesus sal sekerlik terugkom om alles hier op aarde nuut te maak. Dit het God lank gelede deur sy profete belowe. Moses het al vir julle gesê: ‘God sal binnekort uit julle midde ’n profeet soos ek op die toneel laat verskyn. Julle moet na hom luister.
HANDELINGE 3:20-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dan sal die teenwoordigheid van die Here tye van oplewing tot gevolg hê, en Hy sal Jesus julle Messias weer na julle toe stuur. Hy moet in die hemel bly totdat die tyd aangebreek het wanneer God alles nuut maak, soos God dit lank gelede deur sy heilige profete belowe het. “Moses het gesê: ‘Die Here julle God sal ’n Profeet soos ek uit julle volk vir julle laat voortkom. Luister mooi na alles wat Hy vir julle sê.’