2 KRONIEKE 16:7-9 - Compare All Versions

2 KRONIEKE 16:7-9 ABA (Bybel vir almal)

In daardie tyd het die siener Ganani na koning Asa van Juda toe gekom en vir hom gesê: “Jy het vir die koning van Aram gevra om jou te help, jy het nie vir jou God die Here gevra nie. Nou sal jy nie die leër van die koning van Aram kan oorwin nie. Die Kussiete en die Libiërs het 'n groot leër gehad met baie oorlogkarre en manne op perde, maar jy het vir die Here gevra om jou te help, en Hy het jou laat wen teen hulle. Want die Here sien alles wat op die aarde gebeur en Hy maak die mense sterk wat in Hom glo. Maar jy het 'n dom ding gedoen, en van nou af sal jy altyd oorlog moet maak.”

2 KRONIEKE 16:7-9 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En in dié tyd het die siener Hanáni na Asa, die koning van Juda, gekom en aan hom gesê: Omdat u op die koning van Aram gesteun en nie op die HERE u God gesteun het nie, daarom het die leër van die koning van Aram uit u hand vrygeraak. Was die Kusiete en die Líbiërs nie 'n groot leërmag met buitengewoon baie strydwaens en perderuiters nie? En tog het Hy hulle in u hand gegee; omdat u op die HERE gesteun het; want die HERE — sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is; hierin het u dwaas gehandel, want van nou af sal daar oorloë teen u wees.

2 KRONIEKE 16:7-9 AFR83 (Afrikaans 1983)

In dié tyd het die siener Ganani na koning Asa van Juda toe gekom en vir hom gesê: “Jy het gesteun op die koning van Aram, jy het nie op die Here jou God gesteun nie. Daarom het die leër van die koning van Aram jou ontglip. Die Kussiete en die Libiërs was 'n groot leërmag met 'n magtige getal strydwaens en ruiters, maar jy het gesteun op die Here, en Hy het hulle aan jou oorgegee. Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. Maar nou het jy dwaas opgetree en daarom sal jy van nou af oorlog hê.”

2 KRONIEKE 16:7-9 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

In daardie tyd het die siener Ganani na Asa, koning van Juda, gekom en vir hom gesê: “Omdat jy op die koning van Aram en nie op die HERE jou God gesteun het nie, daarom het die leër van die koning van Aram uit jou hand vrygekom. Was die Kussiete en die Libiërs nie 'n groot leërmag met 'n baie groot getal strydwaens en strydwabemanning nie? Maar omdat jy op die HERE gesteun het, het Hy hulle in jou hand gegee. Want die HERE, sy oë deurkruis die hele aarde, om hulle wie se harte volkome by Hom is, kragtig by te staan. Hierin het jy dwaas opgetree, want van nou af sal daar oorloë teen jou wees.”

2 KRONIEKE 16:7-9 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En in dié tyd het die siener Hanani by Asa, die koning van Juda gekom, en vir hom gesê: Omdat jy op die koning van Aram gesteun het en nie op die HERE jou God vertrou het nie, daarom het die leër van die koning van Aram ontvlug uit jou hand. Was die Kusiete en die Lubiete nie 'n groot leër, met baie strydwaens en ruiters nie? maar omdat jy op die HERE gesteun het, het Hy hulle in jou hand gegee. Want die oë van die HERE loop deur die hele aarde om sterk te wees ten behoewe van die wie se hart volkome teenoor Hom is. Hierin het jy dwaas gehandel; daarom sal jy van nou af oorloë hê.

2 KRONIEKE 16:7-9 DB (Die Boodskap)

In dié tyd het Hanani, die siener, met koning Asa gaan praat en vir hom gesê: “U het nou op die koning van Aram vertrou om u te help, in plaas daarvan om op die Here, u God, te vertrou. Daarom het u ’n kans om die leër van Aram te verslaan deur u vingers laat glip. Onthou u met hoe ’n groot leër die mense van Kus en Libië u aangeval het? Daar was verskriklik baie strydwaens en perderuiters. Maar toe het u op die Here vertrou om te help en Hy het u laat wen. Onthou net, die Here soek na mense wat Hom volkome vertrou; dan help Hy hulle. Hierdie keer was u dom! Van nou af sal u die hele tyd oorlog maak.”

2 KRONIEKE 16:7-9 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

In dié tyd het die siener Ganani na koning Asa van Juda gegaan en gesê: “Omdat jy op die koning van Aram vertrou het in plaas van op die HERE jou God, het jy die kans verloor om die leër van die koning van Aram te verwoes. Onthou jy dan nie wat gebeur het met die Kussiete en Libiërs en hulle groot leërmag met baie strydwaens en ruiters nie? Toe het jy op die HERE vertrou en Hy het hulle aan jou oorgegee. Die HERE kyk oor die hele aarde om hulle te help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. Wat ’n dwaas was jy nie! Daarom sal jy van nou af gedurig oorloë hê.”