2 Kronieke 16

16
Asa vra vir koning Ben-Hadad van Aram om hom te help
(Kyk ook 1 Kon 15:17-22)
1In die ses-en-dertigste jaar nadat Asa koning geword het in Juda, het koning Baesa van Israel besluit om Juda aan te val. Baesa het die stad Rama se mure sterker gemaak, want hy wou keer sodat mense nie na koning Asa toe kan gaan en weer kan terugkom nie. 2Asa het toe goud en silwer geneem uit die stoorkamers van die tempel en die paleis en hy het vir koning Ben-Hadad van Aram 'n boodskap gestuur. Koning Ben-Hadad het in Damaskus gewoon. Asa het vir Ben-Hadad gesê: 3“Daar is 'n ooreenkoms tussen ons en daar was 'n ooreenkoms tussen my pa en jou pa. Ek stuur silwer en goud vir jou. Jy moet jou ooreenkoms met Baesa van Israel breek, dan sal hy moet weggaan uit my land.”
4Ben-Hadad het gedoen wat koning Asa gevra het. Hy het die hoofde van sy leër gestuur om die stede van Israel aan te val. Hulle het die stede Ijon, Dan en Abel-Majim oorwin, en ook al die stede in die land Naftali waar daar stoorkamers was. 5Toe Baesa dit hoor, het hy opgehou om die stad Rama te bou, hy het al die werk gelos. 6Koning Asa het toe al die mense van Juda saamgeneem, en hulle het die klippe en die hout weggedra wat Baesa wou gebruik om te bou. Asa het die stede Geba en Mispa gebou met daardie klippe en hout.
Die siener Ganani
7In daardie tyd het die siener Ganani na koning Asa van Juda toe gekom en vir hom gesê: “Jy het vir die koning van Aram gevra om jou te help, jy het nie vir jou God die Here gevra nie. Nou sal jy nie die leër van die koning van Aram kan oorwin nie. 8Die Kussiete en die Libiërs het 'n groot leër gehad met baie oorlogkarre en manne op perde, maar jy het vir die Here gevra om jou te help, en Hy het jou laat wen teen hulle. 9Want die Here sien alles wat op die aarde gebeur en Hy maak die mense sterk wat in Hom glo. Maar jy het 'n dom ding gedoen, en van nou af sal jy altyd oorlog moet maak.”
10Asa was kwaad vir die siener. Hy was so kwaad dat hy die siener in die tronk laat sit het. Asa het in daardie tyd ook begin om slegte dinge te doen aan party van sy mense.
Asa sterf
(Kyk ook 1 Kon 15:23-24)
11Die dinge wat Asa gedoen het, voorheen en later, is geskryf in die Boek van die Konings van Juda en Israel. 12In die nege-en-dertigste jaar nadat hy koning geword het, het Asa baie siek geword, sy voete was baie seer. Dit het baie sleg gegaan met hom, maar hy het nie vir die Here gevra om hom te help nie, hy het vir dokters gevra om hom gesond te maak. 13Asa het gesterf in die een-en-veertigste jaar nadat hy koning geword het. 14Hulle het hom begrawe in die graf wat hy vir homself laat uitkap het in die Dawidstad. Hulle het sy liggaam neergesit op die plek wat vol kruie en lekkerruik-olies was. Daarna het hulle 'n baie groot vuur aangesteek vir hom om hom te eer.

Tans Gekies:

2 Kronieke 16: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid