II KRONIEKE 16

16
Asa verbind hom met Aram teen Israel. Sy dood.
1IN die ses-en-dertigste jaar van die regering van Asa het Baésa, die koning van Israel, opgetrek teen Juda en Rama gebou om niemand van Asa, die koning van Juda, te laat uit- of ingaan nie.
2Toe bring Asa silwer en goud uit die skatkamers van die huis van die Here en van die huis van die koning en stuur dit na Bénhadad, die koning van Aram, wat in Damaskus gewoon het, om te sê:
3Daar is 'n verbond tussen my en u, en tussen my vader en u vader; kyk, ek stuur u silwer en goud; gaan verbreek u verbond met Baésa, die koning van Israel, dat hy kan optrek weg van my af.
4En Bénhadad het geluister na koning Asa en die owerstes van sy leërmagte gestuur teen die stede van Israel, en hulle het Ijon en Dan en Abel-Máim en al die voorraadstede van Náftali verwoes.
5En sodra Baésa dit hoor, het hy opgehou om Rama te bou en sy werk gestaak.
6Toe neem koning Asa die hele Juda, en hulle het die klippe en balke van Rama, waarmee Baésa gebou het, weggedra; en hy het daarmee Geba en Mispa gebou.
7En in dié tyd het die siener Hanáni na Asa, die koning van Juda, gekom en aan hom gesê: Omdat u op die koning van Aram gesteun en nie op die Here u God gesteun het nie, daarom het die leër van die koning van Aram uit u hand vrygeraak.
8Was die Kusiete en die Líbiërs nie 'n groot leërmag met buitengewoon baie strydwaens en perderuiters nie? En tog het Hy hulle in u hand gegee; omdat u op die Here gesteun het;
9want die Here — sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is; hierin het u dwaas gehandel, want van nou af sal daar oorloë teen u wees.
10Maar Asa het hom vererg vir die siener en hom in die gevangenis gesit, want hy was hieroor woedend op hom; ook het Asa in dieselfde tyd sommige uit die volk verdruk.
11En kyk, die geskiedenis van Asa die vroeëre en die latere, dit is beskrywe in die boek van die konings van Juda en Israel.
12En in die negen-en-dertigste jaar van sy regering het Asa gely aan sy voete; sy siekte was baie ernstig; maar selfs in sy siekte het hy die Here nie geraadpleeg nie, maar die geneeshere.
13En Asa het ontslaap met sy vaders en gesterwe in die een-en-veertigste jaar van sy regering.
14En hulle het hom begrawe in sy graf wat hy vir hom in die stad van Dawid gegrawe het, en hom op die bed neergelê wat vol speserye was, en dit van allerhande soorte, volgens die kuns van 'n salfmenger klaargemaak; en hulle het vir hom 'n buitengewoon groot wierookbrand aangesteek.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid