1 KORINTIËRS 10:11-13
1 KORINTIËRS 10:11-13 Bybel vir almal (ABA)
Hierdie dinge het met die Israeliete gebeur sodat dit vir ons kan waarsku. Dit is geskryf sodat dit vir ons iets kan leer. Ons moet beter verstaan as die Israeliete, want ons lewe nou in die tyd nádat Christus gekom het. Daarom, iemand wat dink dat hy nooit sonde sal doen nie, moet oppas dat hy nie begin om sonde te doen nie. Daar gebeur dinge wat vir julle toets, en wat vir julle wil laat ophou om God te dien. Maar julle kan hierdie dinge oorwin. God sal julle altyd help. Hy sal sorg dat hierdie dinge nie sterker is as julle geloof nie. Wanneer die dinge julle wil laat ophou glo, dan sal God julle help om sterk te wees en aan te hou glo.
1 KORINTIËRS 10:11-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as 'n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Geen versoeking het julle aangegryp behalwe 'n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.
1 KORINTIËRS 10:11-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hierdie dinge het oor hulle gekom as 'n voorbeeld vir ons en is opgeskryf as 'n waarskuwing vir ons wat die einde van die tye al beleef. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.
1 KORINTIËRS 10:11-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit het met daardie mense as voorbeeld gebeur, en is as waarskuwing neergeskryf vir ons wat in die eindtyd verkeer. Daarom moet hy wat dink hy staan, oppas dat hy nie val nie! Geen versoeking het oor julle gekom, behalwe 'n menslike een nie. God is egter getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle vermoë versoek word nie, maar sal saam met die versoeking ook uitkoms gee, sodat julle dit kan verduur.
1 KORINTIËRS 10:11-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde, en dit is opgeskryf as waarskuwing vir ons op wie die eindes van die wêreld gekom het. Daarom moet hy wat meen dat hy staan, oppas dat hy nie val nie. Geen versoeking het julle aangegryp behalwe soos 'n mens nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar sal saam met die versoeking ook 'n uitkoms maak, sodat julle dit kan verdra.
1 KORINTIËRS 10:11-13 Die Boodskap (DB)
God het hulle ’n voorbeeld vir ons gemaak. Ons kan dus nie sê dat ons nie gewaarsku is nie. Dit staan lewensgroot in die Skrif geskryf vir ons wat in die tyd leef net voor die Here weer kom. In dié tyd sal dit nie met die Christene net goed gaan nie. Wees daarom geestelik wakker. As jy gerus begin word en dink dat niks jou geestelik van stryk kan bring nie, val jy miskien juis in die kloue van versoekings en sonde. Nou praat ek nie van buitengewone versoekings nie. Die versoekings wat oor julle kom, is dieselfde as wat enige ander mens teëkom. God sal julle nie in die steek laat nie, maar doen wat Hy gesê het. Hy het mos gesê dat Hy nie dinge met jou sal laat gebeur wat jou as Christen van balans af sal gooi nie. As daar dan dinge gebeur wat jou van God se pad wil afkry, sal God jou help om die regte besluit te neem en jou dan die krag gee om te doen wat jy besluit het.
1 KORINTIËRS 10:11-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Al hierdie dinge het met hulle gebeur as ’n voorbeeld vir ons, en is neergeskryf om ons te waarsku – ons wat hier teen die einde van die wêreldgeskiedenis leef. Daarom – as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ’n val kom nie. Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ’n uitweg sorg sodat julle dit kan verduur.