1 Korinthiërs 10

10
Israel as waarskuwing
1Broers, ek wil nie hê julle moet hieroor onkundig wees nie: Ons voorouers was almal onder die wolk, en het almal deur die see gegaan, 2en in verbondenheid met Moses, is almal in die wolk en in die see gedoop, 3 en almal het dieselfde geestelike kos geëet, 4en almal het dieselfde geestelike drank gedrink. Want hulle het gedrink uit 'n geestelike rots wat hulle gevolg het – en die rots was •Christus. 5 Nogtans het God in die meeste van hulle nie 'n behae gehad nie, want hulle liggame is in die woestyn verstrooi. 6Hierdie dinge het gebeur as 'n voorbeeld vir ons, sodat ons nie na bose dinge sal hunker, soos hulle ook gehunker het nie. 7Moenie afgodedienaars wees, soos sommige van hulle nie; daar staan immers geskryf: “Die volk het gaan sit om te eet en te drink en opgestaan om te speel.” 8Laat ons dan nie onsedelik optree, soos sommige van hulle onsedelik opgetree het nie – daar het op een dag drie-en-twintigduisend gesterf. 9 Laat ons nie vir Christus beproef, soos sommige van hulle Hom beproef het nie – hulle is deur slange doodgemaak. 10 En moenie mor, soos sommige van hulle gemor het nie – hulle is deur die vernietiger uitgedelg. 11Dit het met daardie mense as voorbeeld gebeur, en is as waarskuwing neergeskryf vir ons wat in die eindtyd verkeer. 12Daarom moet hy wat dink hy staan, oppas dat hy nie val nie! 13Geen versoeking het oor julle gekom, behalwe 'n menslike een nie. God is egter getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle vermoë versoek word nie, maar sal saam met die versoeking ook uitkoms gee, sodat julle dit kan verduur.
14 Daarom, my geliefdes, vlug weg van die afgodediens! 15Ek praat soos met verstandige mense; oordeel self oor wat ek sê: 16 Die beker van danksegging, waaroor ons die dankgebed uitspreek, is dit nie deelname aan die bloed van •Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie deelname aan die liggaam van Christus nie? 17Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood. 18Kyk na die volk Israel: Het diegene wat van die offers eet, dan nie deel aan die altaar nie? 19 Wat bedoel ek hiermee? Dat 'n afgodsoffer tog iets is, of dat 'n afgod iets is? 20Nee, maar wat hulle offer, offer hulle aan demone, nie aan God nie – en ek wil nie hê dat julle aan demone deel moet hê nie. 21 Julle kan nie die beker van die Here drink én die beker van demone nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here én aan die tafel van demone nie. 22Of is ons besig om die Here jaloers te maak? Is ons dan sterker as Hy?
Christelike vryheid
23“Alles is geoorloof” – ja, maar nie alles is nuttig nie. “Alles is geoorloof” – ja, maar nie alles is opbouend nie. 24 Niemand moet sy eie belang soek nie, maar dié van ander. 25Enigiets wat op die vleismark verkoop word, mag julle eet, sonder om vrae te stel ter wille van die gewete, 26 want “die aarde en die volheid daarvan behoort aan die Here”. 27 Indien een van die ongelowiges julle nooi, en julle wil gaan, eet enigiets wat vir julle voorgesit word, sonder om vrae te stel ter wille van die gewete. 28 Maar as iemand vir julle sê: “Dit is 'n gode-offer dié,” moet julle dit nie eet nie, ter wille van die een wat julle ingelig het, en die gewete. 29Hiermee bedoel ek nie jou gewete nie, maar dié van die ander. Waarom word my vryheid dan beoordeel deur 'n ander se gewete? 30 As ek met dankbaarheid saam eet, waarom word ek belaster oor iets waarvoor ek dank? 31 Of julle dan eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot eer van God.
32 Julle moenie vir Jode of Grieke of die •gemeente van God 'n struikelblok wees nie. 33 Net soos ek ook probeer om alle mense in alle opsigte in ag te neem, en om nie my eie voordeel nie, maar dié van die meerderheid, na te streef, sodat hulle verlos mag word.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid