I KORINTHIËRS 10

10
Laat ons God nie versoek soos Israel gedoen het nie.
1WANT ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het,
2en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see,
3en almal dieselfde geestelike spys geëet het,
4en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit 'n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus.
5Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn.
6En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie.
7En wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie, soos geskrywe is: Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan om te speel.
8En laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag drie-en-twintigduisend geval.
9En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom.
10En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom.
11Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as 'n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
12Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.
13Geen versoeking het julle aangegryp behalwe 'n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.
Die afgodery, gemeenskap met duiwels.
14DAAROM, my geliefdes, vlug vir die afgodediens.
15Ek spreek soos met verstandige mense; oordeel self wat ek sê:
16 die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie?
17Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood.
18 Let op Israel na die vlees: het die wat die offers eet, nie gemeenskap met die altaar nie?
19Wat sê ek dan? Dat 'n afgod iets is, of dat 'n afgodsoffer iets is?
20Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie.
21 Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie.
22Of wil ons die ywer van die Here opwek? Is ons miskien sterker as Hy?
Die Christelike vryheid; die liefde.
23 ALLES is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar nie alles stig nie.
24 Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van 'n ander.
25Eet alles wat in die slaghuis verkoop word sonder om navraag te doen, ter wille van die gewete.
26Want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan.
27En as een van die ongelowiges julle nooi en julle is gewillig om te gaan, eet dan alles wat julle voorgesit word sonder om navraag te doen, ter wille van die gewete.
28Maar as iemand aan julle sê: Dit is afgodsoffer — moet dit dan nie eet nie, ter wille van hom wat dit te kenne gegee het, en ter wille van die gewete — want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan —
29ek bedoel die gewete, nie van jouself nie, maar van die ander; want waarom word my vryheid geoordeel deur 'n ander se gewete?
30En as ek iets met danksegging geniet, waarom word ek belaster oor iets waarvoor ek dank?
31 Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.
32 Wees geen oorsaak van struikeling vir Jode of Grieke of vir die gemeente van God nie;
33net soos ek almal in alles behaag en nie my eie voordeel soek nie, maar dié van baie, sodat hulle gered kan word.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid