ROMEINE 15:1-13

ROMEINE 15:1-13 AFR83

Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van dié wat nie sterk is nie. Ons moenie aan onsself dink nie: elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou. Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie, inteendeel. Dit was met Hom soos daar geskrywe staan: “Die beledigings waarmee mense U beledig, het op My neergekom.” Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees. En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus. Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. Ek bedoel dít: Christus het gekom om in belang van die Jode 'n dienaar te word; Hy moes vir hulle die waarheid van God bevestig deur die beloftes wat die voorvaders ontvang het, waar te maak. Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik, soos daar geskrywe staan: “Daarom sal ek U loof voor die nasies, en tot eer van u Naam sal ek 'n lofpsalm sing.” En elders lui dit: “Verbly julle, ander nasies, saam met sy volk.” En: “Prys die Here, alle nasies! Loof Hom, alle volke!” En Jesaja sê ook: “Isai sal 'n nakomeling hê, en Hy sal opstaan om die nasies te regeer; op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.” Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Gratis leesplanne en oordenkings oor ROMEINE 15:1-13

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid