ROMEINE 15

15
Die voorbeeld van Christus
1Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van dié wat nie sterk is nie. Ons moenie aan onsself dink nie: 2elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou. 3Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie, inteendeel. Dit was met Hom soos daar geskrywe staan:
“Die beledigings waarmee mense U beledig,
het op My neergekom.”
4Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees. 5En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. 6Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus.
Die evangelie is vir alle mense
7Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. 8Ek bedoel dít: Christus het gekom om in belang van die Jode 'n dienaar te word; Hy moes vir hulle die waarheid van God bevestig deur die beloftes wat die voorvaders ontvang het, waar te maak. 9Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik, soos daar geskrywe staan:
“Daarom sal ek U loof voor die nasies,
en tot eer van u Naam sal ek 'n lofpsalm sing.”
10En elders lui dit:
“Verbly julle, ander nasies,
saam met sy volk.”
11En:
“Prys die Here, alle nasies!
Loof Hom, alle volke!”
12En Jesaja sê ook:
“Isai sal 'n nakomeling hê,
en Hy sal opstaan om die nasies te regeer;
op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.”
13Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!
Paulus se sendingopdrag
14My broers, ek is self maar alte bewus dat julle vol goeie hoedanighede is en omvattende kennis besit, en dat julle mekaar self op die regte weg kan help. 15Tog is ek in my brief plek-plek nogal uitgesproke. Dit was maar om julle aan die een en ander te herinner. God het my immers in sy genade die voorreg gegee 16om in diens van Christus Jesus onder die heidennasies te werk. Dit is my priesterlike taak om die evangelie van God aan hulle te bedien, sodat daar uit die heidennasies 'n offergawe mag wees wat vir God aanneemlik is en deur die Heilige Gees geheilig is. 17In Christus Jesus is ek trots op wat ek in diens van God verrig. 18Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as oor wat Christus deur my tot stand gebring het om heidennasies aan God gehoorsaam te maak nie. Dit het Hy deur my gedoen met woord en daad, 19deur kragtige tekens en wonders, in die krag van die Gees van God. En so kon ek van Jerusalem af al verder tot in Illirikum my taak om die evangelie van Christus te verkondig, ten volle uitvoer. 20Ek het my eer daarin gestel om die evangelie te verkondig waar die mense nog nie van Christus gehoor het nie, want ek wil nie op die fondament van iemand anders bou nie, 21maar soos daar geskrywe staan:
“Dié wat nie van Hom vertel is nie, sal sien,
en dié wat nie van Hom gehoor het nie, sal verstaan.”
Paulus se plan om Rome te besoek
22Dit is dan ook die rede waarom ek baie keer verhinder is om na julle toe te kom. 23Maar nou is daar vir my in hierdie streke nie meer 'n nuwe arbeidsveld nie, en ek koester al baie jare die begeerte om julle te besoek 24as ek na Spanje toe gaan. Ek hoop om julle dan op my deurreis te sien; trouens, ek sou graag ook eers 'n tydjie by julle wou deurbring en dan met julle hulp verder na Spanje toe reis. 25Maar nou is ek eers op pad Jerusalem toe met geldelike hulp vir die gelowiges daar. 26Die gemeentes in Masedonië en Agaje het dit naamlik goedgedink om iets by te dra vir die armes onder die gelowiges in Jerusalem. 27Hulle het self so besluit, en hulle is dit buitendien ook verskuldig, want as die gelowiges uit die Jode hulle geestelike rykdom met die heidennasies gedeel het, is die gelowiges uit die heidene dit aan die gelowiges uit die Jode verskuldig om hulle met stoflike hulp by te staan. 28As ek daarmee klaar is en die volle bedrag wat ingesamel is, veilig aan hulle besorg het, sal ek by julle langs na Spanje toe reis. 29Ek weet dat as ek na julle toe kom, dit met die volle seën van Christus sal wees.
30Ek versoek julle dan dringend, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus en op grond van die liefde wat van die Heilige Gees kom: Stry saam met my deur vir my te bid 31dat God my veilig mag hou tussen al die ongelowiges in Judea en dat my hulp aan Jerusalem aanvaarbaar mag wees vir die gelowiges daar. 32En as dit die wil van God is, sal ek vol blydskap na julle toe kom om 'n tydjie by julle te rus.
33God wat vrede gee, sal by julle almal wees! Amen.

Tans Gekies:

ROMEINE 15: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid