MATTEUS 15:10-20

MATTEUS 15:10-20 AFR83

Toe het Jesus die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Julle moet nou luister en mooi verstaan! Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie. Maar wat by die mond uitkom, dit maak 'n mens onrein.” Daarna het die dissipels na Hom toe gekom en gesê: “Weet U dat die Fariseërs hulle vererg het toe hulle gehoor het wat U sê?” Maar Jesus antwoord: “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal uitgetrek word. Laat staan hulle maar; hulle is blinde leiers van blindes. As 'n blinde 'n blinde lei, val altwee in die sloot.” Petrus sê toe vir Hom: “Verduidelik tog vir ons die beeldspraak.” “Verstaan ook julle dit nog nie?” antwoord Jesus. “Begryp julle nie dat alles wat by die mond ingaan, na die maag toe gaan en daarna uit die liggaam uitgaan nie? Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dít is die dinge wat die mense onrein maak. Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery. Dít is die dinge wat 'n mens onrein maak, maar om met ongewaste hande te eet, maak 'n mens nie onrein nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid