LUKAS 23:6-16

LUKAS 23:6-16 AFR83

Toe Pilatus dit hoor, vra hy of die man dan 'n Galileër is. Nadat hy te wete gekom het dat Jesus uit die magsgebied van Herodes afkomstig was, het hy Hom na Herodes toe gestuur, wat juis in daardie tyd self in Jerusalem was. Herodes was baie bly om Jesus te sien. Omdat hy soveel van Hom gehoor het, het hy al 'n geruime tyd die begeerte gehad om Hom te sien. Hy het ook gehoop om Hom een of ander wonderwerk te sien doen. Hy het allerlei vrae aan Hom gestel, maar Jesus het hom niks geantwoord nie. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het Hom heftig gestaan en beskuldig. Herodes en sy soldate het Hom toe met veragting behandel. Hy het Hom 'n deftige kleed laat omhang, met Hom die spot gedryf en Hom daarna na Pilatus toe teruggestuur. Op daardie dag het Herodes en Pilatus vriende geword. Voorheen was daar kwaaivriendskap tussen hulle. Daarna het Pilatus die priesterhoofde, die lede van die Joodse Raad en die volk bymekaar geroep en vir hulle gesê: “Julle het hierdie man voor my gebring as 'n opruier van die volk. Nou het ek in julle teenwoordigheid die saak ondersoek, en ek het in hierdie man geen grond gevind vir die aanklag wat julle teen hom inbring nie. Herodes het ook nie, want hy het hom na ons toe teruggestuur. Hy het beslis niks gedoen wat die dood verdien nie. Ek sal hom dus laat gesel en dan loslaat.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid