LUKAS 23

23
Jesus voor Pilatus
(Matt. 27:1-2,11-14; Mark. 15:1-5; Joh. 18:28-38)
1Daarna het die hele vergadering opgestaan en Jesus na Pilatus toe gebring. 2Daar het hulle die aanklag teen Hom begin deur te sê: “Ons het bevind dat hierdie man ons volk ophits: hy belet hulle om aan die keiser belasting te betaal en beweer dat hy die Christus, die koning, is.”
3Pilatus vra Hom toe: “Is jy die koning van die Jode?”
Hy antwoord hom: “Dit is soos u sê.”
4Daarop sê Pilatus vir die priesterhoofde en die skare: “Ek vind geen skuld in hierdie man nie.”
5Maar hulle het sterker aangedring en gesê: “Die hele Joodse land deur stook hy die volk op met sy leer. Hy het van Galilea af begin en tot hier daarmee gekom.”
Jesus voor Herodes
6Toe Pilatus dit hoor, vra hy of die man dan 'n Galileër is. 7Nadat hy te wete gekom het dat Jesus uit die magsgebied van Herodes afkomstig was, het hy Hom na Herodes toe gestuur, wat juis in daardie tyd self in Jerusalem was.
8Herodes was baie bly om Jesus te sien. Omdat hy soveel van Hom gehoor het, het hy al 'n geruime tyd die begeerte gehad om Hom te sien. Hy het ook gehoop om Hom een of ander wonderwerk te sien doen. 9Hy het allerlei vrae aan Hom gestel, maar Jesus het hom niks geantwoord nie. 10Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het Hom heftig gestaan en beskuldig. 11Herodes en sy soldate het Hom toe met veragting behandel. Hy het Hom 'n deftige kleed laat omhang, met Hom die spot gedryf en Hom daarna na Pilatus toe teruggestuur.
12Op daardie dag het Herodes en Pilatus vriende geword. Voorheen was daar kwaaivriendskap tussen hulle.
Pilatus lewer Jesus uit om gekruisig te word
(Matt. 27:15-26; Mark. 15:6-15; Joh. 18:39 – 19:16)
13Daarna het Pilatus die priesterhoofde, die lede van die Joodse Raad en die volk bymekaar geroep 14en vir hulle gesê: “Julle het hierdie man voor my gebring as 'n opruier van die volk. Nou het ek in julle teenwoordigheid die saak ondersoek, en ek het in hierdie man geen grond gevind vir die aanklag wat julle teen hom inbring nie. 15Herodes het ook nie, want hy het hom na ons toe teruggestuur. Hy het beslis niks gedoen wat die dood verdien nie. 16Ek sal hom dus laat gesel en dan loslaat.”
18Maar soos een man het hulle geskreeu: “Weg met hom! 19Laat Barabbas vir ons los!”
Barabbas was in die tronk oor 'n opstand in die stad en oor moord.
20Omdat Pilatus vir Jesus wou loslaat, het hy weer met hulle gepraat, 21maar hulle het aanhoudend uitgeroep: “Kruisig, kruisig hom!”
22Die derde keer sê Pilatus vir hulle: “Watter kwaad het die man gedoen? Ek het in hom niks gekry wat die doodstraf regverdig nie. Ek sal hom dus laat gesel en dan loslaat.”
23Hulle het egter met 'n harde geskreeu aangehou om te eis dat Jesus gekruisig moes word, en met hulle geskreeu het hulle die oorhand gekry. 24Pilatus het toe besluit dat aan hulle eis voldoen moes word. 25Die man wat oor opstand en moord in die tronk was, het hy vrygelaat, soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy uitgelewer, soos hulle wou hê.
Jesus word gekruisig
(Matt. 27:31-44; Mark. 15:21-32; Joh. 19:17-27)
26Terwyl hulle Hom weglei, gryp hulle 'n sekere Simon van Sirene, wat toe net van buite die stad af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra.
27'n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het. 28Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: “Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders, 29want daar kom dae waarin hulle sal sê: ‘Hoe gelukkig is die onvrugbare vroue en dié wat nooit 'n kind in die wêreld gebring het of gevoed het nie.’
30“Dan sal hulle vir die berge sê:
“ ‘Val op ons!’
“en vir die heuwels:
“ ‘Bedek ons!’
31“As hulle dit met die groen hout doen, wat sal dan met die droë hout gebeur?”
32Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word.
33Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant. 34Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
Hulle het sy klere verdeel deur te loot.
35Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.”
36Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied 37en gesê: “As jy die koning van die Jode is, red jouself.”
38Daar was ook 'n opskrif bokant Hom: “Dit is die koning van die Jode.”
39Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!”
40Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! 41In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” 42Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”
43Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
Jesus sterwe
(Matt. 27:45-56; Mark. 15:33-41; Joh. 19:28-30)
44Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur; 45die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur. 46Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.”
Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.
47Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: “Hierdie man was werklik onskuldig.”
48Al die mense wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk en gesien het wat daar gebeur het, het verslae huis toe gegaan. 49Maar al Jesus se vriende, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op 'n afstand bly staan. Hulle het al hierdie dinge gesien.
Jesus word begrawe
(Matt. 27:57-61; Mark. 15:42-47; Joh. 19:38-42)
50-51Daar was 'n man met die naam Josef, afkomstig van 'n Joodse dorpie Arimatea. Hy was 'n goeie en opregte man en het die koms van die koninkryk van God verwag. Hoewel hy lid van die Joodse Raad was, het hy nie met hulle besluit en optrede saamgestem nie. 52Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra. 53Nadat hy dit van die kruis afgehaal het, het hy dit in linne toegedraai en in 'n rotsgraf neergelê waarin nog nooit tevore iemand begrawe was nie. 54Dit was Vrydag, en die sabbat het al begin aanbreek.
55Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het saamgeloop en die graf gesien en gekyk hoe sy liggaam neergelê word. 56Daarna het hulle huis toe gegaan en reukolie en salf reggemaak.
Op die sabbatdag het hulle gerus, soos die gebod bepaal.

Tans Gekies:

LUKAS 23: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid