JOHANNES 4:1-40

JOHANNES 4:1-40 AFR83

Die Fariseërs het gehoor dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes. – Eintlik was dit nie Jesus wat gedoop het nie, maar sy dissipels. – Toe Jesus dit verneem, het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe gegaan. Hy moes deur Samaria gaan. Hy kom toe by 'n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag. Daar kom toe 'n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My 'n bietjie water om te drink.” Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie. Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My 'n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, jy het nie eens 'n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry? Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie?” Maar Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom 'n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.” Hy sê toe vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.” Die vrou het Hom geantwoord: “Ek het nie 'n man nie.” En Jesus sê vir haar: “Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie 'n man nie.’ Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.” Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, ek sien dat u 'n profeet is. Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar 'n mens God moet aanbid, is in Jerusalem.” Jesus sê toe vir haar: “Glo My, Mevrou, daar kom 'n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode. Maar daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.” Die vrou het vir Hom gesê: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.” Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.” Net toe het sy dissipels teruggekom en hulle was verbaas dat Hy met 'n vrou praat. Tog het niemand vir haar gevra: “Wat wil jy hê?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie. Die vrou het toe haar waterkruik net daar laat staan en na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: “Kom kyk, hier is 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?” Die mense het toe uit die dorp uit na Jesus toe begin kom. Intussen het sy dissipels by Hom aangedring: “Rabbi, eet tog 'n stukkie.” Maar Hy sê vir hulle: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.” Die dissipels sê toe vir mekaar: “Sou iemand dalk vir Hom iets te ete gebring het?” Maar Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. Sê julle nie: ‘Nog vier maande, dan is die oes daar’ nie? Maar Ek sê vir julle: Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam bly. Hier is die gesegde waar: ‘Die een saai, en die ander een maai.’ Ek het julle gestuur om 'n oes in te samel waaraan julle nie gearbei het nie. Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid.” Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom daarop aangedring om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid