RIGTERS 6:12-24

RIGTERS 6:12-24 AFR83

Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!” Maar Gideon het vir die Engel gesê: “Ekskuus, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom kom al hierdie dinge oor ons? Waar is al sy magtige dade waarvan ons voorvaders ons vertel het toe hulle gesê het: ‘Het die Here ons nie uit Egipte bevry nie?’ Nou het die Here ons in die steek gelaat: Hy het ons oorgegee in die mag van die Midianiete.” Toe het die Here na Gideon toe gedraai en vir hom gesê: “Gaan met die krag wat jy het en gaan red die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Toe, Ek stuur jou!” Maar Gideon sê vir Hom: “Ekskuus, Meneer, waarmee sal ek die Israeliete gaan red? Die familie waaraan ek behoort, is die armste in die hele Manasse, en van my pa se kinders het ek die minste aansien.” Die Here het hom geantwoord: “Ek is by jou, en jy sal die Midianiete verslaan asof hulle nie meer as een is nie.” Gideon het vir Hom gesê: “As U so vriendelik wil wees, doen tog vir my 'n wonder dat ek seker kan wees dit is U, Here, wat met my praat! Moenie hiervandaan af padgee nie dat ek tog net gou 'n offer voor U kan kom neersit.” Toe sê die Here: “Ek sal wag tot jy terug is.” Gideon het toe 'n bokkie gaan gaar maak, en van sestien kilogram meel het hy brood sonder suurdeeg gebak. Hy het die vleis in 'n mandjie gepak en die sous in 'n pan gegooi en vir die Engel van die Here gebring onder die groot boom. Toe Gideon dit naderbring, sê die Engel van God vir Gideon: “Vat die vleis en die brood sonder suurdeeg en sit dit op hierdie rots en gooi die sous daaroor.” Hy het so gemaak, en toe raak die Engel van die Here met die punt van die stok in sy hand aan die vleis en die brood. 'n Vuur het uit die rots uit opgevlam en die vleis en die brood verteer. Daarna is Hy van Gideon af weg. Gideon het besef dat dit die Engel van die Here was, en hy het uitgeroep: “Ag, Here my God, ek het die Engel van die Here van aangesig tot aangesig gesien!” Toe sê die Here vir Gideon: “Wees gerus! Moenie bang wees nie! Jy sal nie sterf nie!” Gideon het net daar 'n altaar vir die Here gebou en dit genoem: “Die Here gee rus!” Die altaar staan vandag nog in Ofra van die Abiësriete.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid