1 Konings 16

16
Die regering van Baesa
1Die Here het met die profeet Jehu seun van Hanani gepraat, en Jehu het die boodskap aan Baesa gaan oordra. 2“Jy was niks, absoluut niks in my oë nie. Ek het jou uit die stof opgetel,” het die Here vir Baesa gesê. “Nogtans het Ek jou koning van Israel gemaak. Jy moes my mense lei, maar jy het Jerobeam se pad geloop en hulle verkeerde dinge laat doen. Hulle sonde het My baie kwaad gemaak. 3Ek sal daarom met jou maak soos met Jerobeam. Jou hele familie sal uitgewis word. 4Enigeen wat in die stad sterf, sal deur die honde opgevreet word en dié wat in die veld doodgaan, sal deur aasvoëls verslind word.”
5Alles wat Baesa gedoen het, kan ’n mens in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings gaan naslaan.
6Baesa is dood en in Tirsa begrawe. Sy seun Ela het hom opgevolg.
7Die profeet Jehu het vir Baesa van die Here se planne met hom en sy familie vertel. Baesa se sonde het die Here kwaad gemaak. Hy het dieselfde pad as Jerobeam geloop. Boonop het hy Jerobeam se familie op ’n wrede manier vermoor. Baesa en sy familie sou ook uitgewis word.
Ela word die koning van Israel
8In die 26ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Ela die seun van Baesa koning van Israel geword. Hy het in Tirsa gebly en twee jaar daar regeer.
9Simri, ’n senior offisier en die hoof van ’n groot deel van die oorlogswaens, wou Ela uit die weg ruim. Hy het net vir die regte oomblik gewag. Op ’n dag was Ela in die huis van Arsa, die hoof van die paleis. Ela het te veel gedrink en was dronk. 10Simri het toe by die huis ingebars en Ela op die plek vermoor. So het Simri koning van Israel geword. Dit het gebeur in die 27ste jaar van koning Asa van Juda se regering.
11Simri het onmiddellik Baesa se hele familie begin uitmoor. Al die mans, asook hulle vriende, is uitgewis. 12Dit het gebeur presies soos die Here dit deur die profeet Jehu gesê het. Simri het gesorg dat die hele Baesafamilie doodgemaak word. 13Baesa en sy seun Ela se talle afgode was ’n groot skande voor die Here, die God van Israel. En hulle het Israel ook verlei om ander gode te aanbid.
14Alles wat Ela gedoen het, is in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings opgeteken.
Omri se opstand teen Simri
15In die 27ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Simri koning van Israel geword. Hy het in Tirsa gewoon en het net sewe dae daar regeer. 16Terwyl Israel se troepe onder leiding van Omri die stad Gibbeton in die Filistynse gebied beleër het, het hulle van Simri se optrede gehoor. Hulle kon nie glo dat Simri nou koning was nie en het sommer daar op die plek vir Omri koning van Israel gemaak. 17Omri en die troepe is onmiddellik daar weg en het Tirsa gaan beleër. 18Toe Simri sien hy gaan die stryd verloor, het hy hom in die binneste deel van die paleis gaan toesluit en die gebou aan die brand gesteek. Hy het in die vuur doodgebrand. 19Simri het ’n wrede dood gesterf en ’n verskriklike prys vir sy sondes betaal. Soos Jerobeam het hy met al sy afgode die Here oneer aangedoen. Hy het Israel ook baie verkeerde dinge laat doen.
20Meer inligting oor al Simri se optrede, asook sy sameswering teen Ela, kan in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings nageslaan word.
21Die mense van Israel was verdeel. Die helfte wou Tibni, die seun van Ginat, hierna as koning hê, terwyl ander sterk ten gunste van Omri was. 22Gaandeweg het die Omrigroep sterker geword en na Tibni se skielike dood het Omri koning van die hele Israel geword.
Omri se regering
23In die 31ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Omri koning van die hele Israel geword. Hy het ses jaar in Tirsa regeer, maar hy was altesaam twaalf jaar lank koning van Israel.
24Op ’n dag het hy Samariaberg vir 68 kilogram silwer van Semer gekoop. Hy het die berg heeltemal herbou en dit Samaria genoem ter ere van die vorige eienaar, Semer.
25Omri het baie verkeerde dinge voor die Here gedoen. Hy was selfs erger as sy voorgangers. 26Soos Jerobeam voor hom het Omri ook die Here se Naam groot oneer aangedoen. Hy het Israel verlei om ander gode te dien en die Here, die God van Israel, te vergeet.
27Oor alles wat Omri gedoen het en sy dapper optrede kan ’n mens verder in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings gaan lees.
28Omri het gesterf en hulle het hom in Samaria begrawe. Sy seun Agab het hom opgevolg.
Agab word koning van Israel
29In die 38ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Agab die seun van Omri koning geword. Hy het in Samaria gewoon en 22 jaar daar regeer.
30Agab was selfs nog erger as sy voorgangers, want hy het die allerverskriklikste goed gedoen. 31Dit was al erg genoeg dat Agab soos Jerobeam gemaak het, maar toe loop trou hy ook nog met Isebel. Sy was die dogter van Etbaäl, die koning van Sidon. Agab het toe voor Baäl gebuig en hom aanbid. 32Hy het selfs in Samaria ’n tempel vir Baäl gebou en ook ’n altaar ter ere van hom opgerig. 33Verder het hy ’n beeld van die godin Asjera gemaak. Agab was lief vir al hierdie afgode. Hy het die Here soos nog geen ander koning voor hom beledig nie.
34In Agab se dae het Giël, ’n man uit Bet-El se omgewing, die stad Jerigo herbou. Nadat die fondamente gelê is, het Giël se oudste seun, Abiram, skielik gesterf. Toe hy met die poorte klaar was, is sy jongste, Segub, onverwags dood. Lank gelede al het die Here dit deur Josua die seun van Nun voorspel.

Tans Gekies:

1 Konings 16: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid