PSALMS 65

65
Loflied op die goedheid van God.
1VIR die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. 'n Lied.
2Aan U kom 'n lofsang toe, o God, in Sion, en aan U moet die gelofte betaal word.
3 o Hoorder van die gebed, tot U moet alle vlees kom!
4Ongeregtige dinge het die oorhand oor my gehad, maar U versoen ons oortredinge.
5Welgeluksalig is hy wat U uitkies en laat nader kom, dat hy kan woon in u voorhowe. Ons wil versadig word met die goeie van u huis, die heiligheid van u paleis.
6Vreeslike dinge antwoord U ons in geregtigheid, o God van ons heil, vertroue van al die eindes van die aarde en van die verste see!
7Wat die berge grondves deur u krag, wat omgord is met mag,
8wat die gebruis van die seë stilmaak, die gebruis van hulle golwe en die rumoer van die volke;
9sodat die bewoners van die eindes vrees vir u tekens; U laat die uitgange van die môre en die aand jubel.
10U het die land besoek en oorvloed gegee; U verryk dit grootliks; die stroom van God is vol water. U berei hulle koring; ja, so berei U die land.
11U maak sy vore nat, sy kluite gelyk; deur reënbuie maak U dit week; U seën sy uitspruitsel.
12U kroon die jaar van u goedheid, en u voetspore drup van vettigheid.
13 Die weivelde van die woestyn drup, en die heuwels gord hulleself met gejuig.
14Die weivelde is bekleed met troppe kleinvee, en die dale is bedek met koring; hulle juig, ook sing hulle.

Tans Gekies:

PSALMS 65: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid