Rut 4:1-6
Rut 4:1-6 AFR20
Boas het na die dorpspoort gegaan en daar gaan sit. Juis toe kom die losser van wie hy gepraat het, daar verby. “Draai af hierheen, kom sit hier! ” sê Boas vir hom. Die man het afgedraai en gaan sit. Boas kry toe nog tien manne, van die dorp se oudstes, en sê vir hulle: “Kom sit hier!” Nadat hulle gaan sit het, sê hy vir die losser: “Die deel van die grond wat aan Elimeleg, ons familielid, behoort, word verkoop deur Naomi, wat teruggekom het van die gebied van Moab. Ek het gedink ek moet jou inlig en vir jou sê: Neem die grond oor in die teenwoordigheid van diegene wat hier sit en oudstes van my volk. As jy as losser wil optree, doen dit dan. Maar as jy nie as losser wil optree nie, sê dit vir my, sodat ek dit weet; want daar is niemand behalwe jy wat as losser kan optree nie, en ek is die volgende ná jou.” Die man sê toe: “Ja, ek sal as losser optree.” Daarop sê Boas: “Maar die dag wanneer jy die grond by Naomi oorneem en ook by Rut die Moabiet, wat die weduwee van die oorledene is, dan neem jy dit oor, sodat die oorledene se naam oor sy familiebesit kan voortleef. ” Toe sê die losser: “Nee, dan kan ek dit nie as losser vir my verkry nie, anders bederf ek daarmee my familiebesit. Neem jy my lossingsreg oor, want ek wil nie as losser optree nie.”



