RUT 4:1-6 - Compare All Versions
RUT 4:1-6 AFR83 (Afrikaans 1983)
Ondertussen het Boas na die stadspoort toe gegaan en daar gaan sit. Juis toe kom die losser van wie Boas gepraat het, daar verby. Boas roep toe: “Kom sit hier, my vriend.” Nadat hy kom sit het, het Boas ook tien leiers van die stad gevra om daar te kom sit, en hulle het dit gedoen. Boas sê toe vir die losser: “Naomi, die vrou wat uit Moab teruggekom het, bied die stuk grond wat aan ons familielid Elimelek behoort het, te koop aan. Ek het gedink ek behoort dit vir jou te sê. Koop dit nou in die teenwoordigheid van almal wat hier sit en voor die leiers van die volk; indien jy bereid is om as losser op te tree, doen dit dan, maar indien nie, sê dit vir my dat ek dit weet, want ek is ná jou die volgende een wat die lossersreg moet uitoefen.” Hy antwoord toe: “Ek is bereid om as losser op te tree.” Daarop sê Boas: “Wanneer jy die stuk grond van Naomi koop, kry jy terselfdertyd vir Rut die Moabitiese weduwee sodat die grond in die oorledene se familie bly.” Die losser sê toe: “In daardie geval sal ek my reg om as losser op te tree, laat vaar, want anders sou dit beteken dat my eie eiendom in gevaar kom. Tree jy nou maar as losser op, want ek sien nie meer daarvoor kans nie.”
RUT 4:1-6 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
EN Boas het opgegaan na die poort en daar gaan sit. En toe die losser juis daar verbygaan van wie Boas gespreek het, sê hy: Vriend, kom nader, en sit hier! En hy het nader gekom en gaan sit. Daarop neem hy tien man uit die oudstes van die stad en sê: Sit hier! En hulle het gaan sit. En hy sê vir die losser: Die stuk grond van ons broer Eliméleg wil Naómi, wat uit die veld van Moab teruggekom het, verkoop. Nou het ek gedink, ek sal jou dit meedeel en sê: Koop dit voor die wat hier sit, en voor die oudstes van my volk; as jy wil los, los dan; maar as jy nie wil los nie, gee my te kenne, dat ek dit kan weet, want daar is niemand om te los behalwe jy nie, en ek ná jou. En hy antwoord: Ek sal los. Daarop sê Boas: Die dag as jy die grond uit die hand van Naómi koop, dan verwerf jy tegelyk Rut, die Moabitiese, die vrou van die dode, om die naam van die dode in stand te hou oor sy erfdeel. En die losser sê: Ek kan dit nie vir my los nie, anders bederf ek my erfdeel; neem jy my lossingsreg oor, want ek kan nie los nie.
RUT 4:1-6 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Boas het na die dorpspoort gegaan en daar gaan sit en wag. Toe die losser van wie hy gepraat het, daar verbykom, roep Boas hom. “Kom hiernatoe, vriend. Ek wil met jou praat.” Hy het by hom gaan sit. Toe roep Boas tien van die leiers van die dorp nader en vra hulle om as getuies op te tree. Boas sê vir die losser: “Naomi wat uit Moab teruggekom het, wil die landerye wat aan ons bloedverwant Elimelek behoort het, verkoop. Ek het gedink ek moet met jou hieroor praat sodat jy as losser kan optree as jy wil. As jy die landerye wil hê, moet jy hier in die teenwoordigheid van hierdie getuies verklaar dat jy as losser sal optree. Maar as jy dit nie wil doen nie, moet jy my dadelik sê, want ek is die volgende losser ná jou.” Die man antwoord hom: “Dis goed. Ek sal as losser optree.” Toe sê Boas vir hom: “Hou net in gedagte dat wanneer jy die landerye van Naomi loskoop, jy ook met Rut, die Moabitiese weduwee, sal moet trou. Op hierdie manier sal sy kinders kan hê wat haar man se naam kan voortsit en die landerye in die familie hou.” “In so ’n geval wil ek nie as losser optree nie,” antwoord die naaste losser, “want dit kan my eie erfporsie in gevaar stel. Jy kan gerus as losser optree, want ek wil nie.”
RUT 4:1-6 DB (Die Boodskap)
Intussen het Boas na die bymekaarkomplek by die ingang van die dorp toe gegaan en daar gaan sit en wag. Toe Elimeleg se naaste familielid, die een oor wie Boas met Rut gepraat het, daar verbykom, het Boas hom geroep en gesê: “Vriend, kom sit hier by my; ek wil graag met jou praat.” Die man het toe nader gestap en gaan sit. Boas het ook tien leiers van die dorp gevra om as getuies by hulle te kom sit. Boas sê toe vir die familielid: “Toe Naomi van Moab af teruggekom het, het sy besluit om die stuk grond wat aan ons familielid Elimeleg behoort het, te verkoop. Ek het gedink ek moet dit vir jou sê, en daarom is die getuies ook hier, dat jy die grond kan koop as jy dit wil hê. Dit is mos jou reg. Maar as jy dit nie wil hê nie, sê vir my, want ek is die volgende familielid wat die reg het om dit te koop as jy dit nie wil hê nie.” Die man sê toe: “Ek wil dit graag koop.” Boas antwoord toe: “Dis goed so, maar jy weet natuurlik dat as jy die stuk grond van Naomi koop, jy ook met haar skoondogter Rut moet trou sodat sy kinders kan hê wat die grond van hulle pa kan erf.” Die man sê toe: “As dit die geval is, wil ek nie die grond koop nie. Dit kan dalk my eie kinders benadeel. Koop jy dit maar liewer, ek sien nie kans daarvoor nie.”
RUT 4:1-6 ABA (Bybel vir almal)
Boas was toe al in die poort van die stad. Hy het daar gaan sit. Toe kom die ander man daar verby, die man wat ook 'n losser was. Boas het vir hom gesê: “My vriend, kom sit asseblief hier.” Die man het dit gedoen. Boas het tien van die stad se leiers geroep om ook daar te kom sit. Hulle het dit gedoen. Toe sê hy vir die man: “Daar is 'n stuk grond wat behoort het aan Elimelek wat familie van ons was. Naomi het teruggekom uit die land Moab, en sy wil hê dat 'n man wat familie is van haar man, die grond moet koop. Ek het gedink ek sal dit self vir jou sê. Jy mag nou die grond koop as jy wil, hier waar almal dit kan sien, die manne wat hier sit, die leiers van my volk. As jy dit nie wil doen nie, dan moet jy dit vir my sê, want dan moet ek dit koop.” Die man het gesê: “Goed, ek sal die grond koop.” Toe sê Boas: “Wanneer jy die grond by Naomi koop, dan kry jy ook die Moabitiese vrou Rut, die vrou van Naomi se oorlede seun. Dan moet jy 'n seun by haar kry wat die grond eendag kan erf.” Toe sê die man: “Nee, dan kan ek nie die grond koop nie, want as ek met Rut trou, dan sal ek miskien die familie-grond verloor wat ek klaar het. Jý moet Naomi se grond koop, ek kan nie.”
RUT 4:1-6 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Boas het na die dorpspoort gegaan en daar gaan sit. Juis toe kom die losser van wie hy gepraat het, daar verby. “Draai af hierheen, kom sit hier! ” sê Boas vir hom. Die man het afgedraai en gaan sit. Boas kry toe nog tien manne, van die dorp se oudstes, en sê vir hulle: “Kom sit hier!” Nadat hulle gaan sit het, sê hy vir die losser: “Die deel van die grond wat aan Elimeleg, ons familielid, behoort, word verkoop deur Naomi, wat teruggekom het van die gebied van Moab. Ek het gedink ek moet jou inlig en vir jou sê: Neem die grond oor in die teenwoordigheid van diegene wat hier sit en oudstes van my volk. As jy as losser wil optree, doen dit dan. Maar as jy nie as losser wil optree nie, sê dit vir my, sodat ek dit weet; want daar is niemand behalwe jy wat as losser kan optree nie, en ek is die volgende ná jou.” Die man sê toe: “Ja, ek sal as losser optree.” Daarop sê Boas: “Maar die dag wanneer jy die grond by Naomi oorneem en ook by Rut die Moabiet, wat die weduwee van die oorledene is, dan neem jy dit oor, sodat die oorledene se naam oor sy familiebesit kan voortleef. ” Toe sê die losser: “Nee, dan kan ek dit nie as losser vir my verkry nie, anders bederf ek daarmee my familiebesit. Neem jy my lossingsreg oor, want ek wil nie as losser optree nie.”
RUT 4:1-6 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Toe het Boas na die poort opgegaan en hom daar gaan sit; aan wie hy gesê het: O, so iemand! draai eenkant toe, gaan sit hier. En hy het weggedraai en gaan sit. En hy het tien manne van die oudstes van die stad geneem en gesê: Sit hier. En hulle het gaan sit. En hy sê vir die bloedverwant: Naomi, wat teruggekom het uit die land Moab, verkoop 'n stuk grond wat ons broer Elimeleg s'n was. En ek het gedink om jou bekend te maak deur te sê: Koop dit voor die inwoners en voor die oudstes van my volk. As jy dit wil los, los dit los; maar as jy dit nie wil los nie, sê dit dan vir my, dat ek dit kan weet; en ek is agter jou aan. En hy sê: Ek sal dit los. Toe sê Boas: Die dag as jy die stuk grond uit die hand van Naomi koop, moet jy dit ook koop van Rut, die Moabitiese vrou, die vrou van die dooies, om die naam van die dooies op sy erfdeel op te wek. Toe sê die losser: Ek kan dit nie vir my loskoop nie, sodat ek my erfdeel nie beskadig nie; los jy my reg op jouself; want ek kan dit nie loskoop nie.