Rut 4

4
Boas as •losser
1Boas het na die dorpspoort gegaan en daar gaan sit. Juis toe kom die losser van wie hy gepraat het, daar verby. “Draai af hierheen, kom sit hier! ” sê Boas vir hom. Die man het afgedraai en gaan sit. 2Boas kry toe nog tien manne, van die dorp se oudstes, en sê vir hulle: “Kom sit hier!” Nadat hulle gaan sit het, 3sê hy vir die losser: “Die deel van die grond wat aan Elimeleg, ons familielid, behoort, word verkoop deur Naomi, wat teruggekom het van die gebied van Moab. 4Ek het gedink ek moet jou inlig en vir jou sê: Neem die grond oor in die teenwoordigheid van diegene wat hier sit en oudstes van my volk. As jy as losser wil optree, doen dit dan. Maar as jy nie as losser wil optree nie, sê dit vir my, sodat ek dit weet; want daar is niemand behalwe jy wat as losser kan optree nie, en ek is die volgende ná jou.” Die man sê toe: “Ja, ek sal as losser optree.” 5Daarop sê Boas: “Maar die dag wanneer jy die grond by Naomi oorneem en ook by Rut die Moabiet, wat die weduwee van die oorledene is, dan neem jy dit oor, sodat die oorledene se naam oor sy familiebesit kan voortleef. ”
6Toe sê die losser: “Nee, dan kan ek dit nie as losser vir my verkry nie, anders bederf ek daarmee my familiebesit. Neem jy my lossingsreg oor, want ek wil nie as losser optree nie.”
7Wanneer dit gegaan het oor lossingsreg en ruiltransaksies, was dít vroeër in Israel die gebruik om enige saak te bevestig: 'n Persoon moes sy sandaal uittrek en dit vir die ander party gee. Dit het dan in Israel as bekragtiging van die saak gegeld. 8Toe die losser vir Boas sê: “Neem die lossingsreg vir jou oor,” het hy sy sandaal uitgetrek.
9Daarop sê Boas vir die oudstes en al die mense: “Vandag is julle getuies dat ek alles wat aan Elimeleg en alles wat aan Kiljon en Maglon behoort, by Naomi oorneem. 10En ook Rut, die Moabiet, die vrou van Maglon, neem ek vir my oor as vrou om die naam van die oorledenes oor hulle familiebesit te laat voortleef, en sodat die naam van die oorledenes nie onder die familie en uit die poort van sy woonplek verdwyn nie. Julle is vandag getuies daarvan.” 11Al die mense wat by die dorpspoort was en die oudstes sê toe: “Ons is getuies. Mag die Here gee dat die vrou wat in jou huis inkom soos Ragel en Lea sal wees, die twee wat die huis van Israel gebou het. Mag jy van krag tot krag gaan in Efrata en roem verwerf in Betlehem! 12 Mag, uit die nageslag wat die Here vir jou uit hierdie jong vrou gee, jou huis wees soos dié van Peres wat Tamar vir Juda in die wêreld gebring het.”
Geboorte van Obed
13 Boas het Rut by hom geneem en sy het sy vrou geword. Hy het by haar ingegaan, en die Here het haar swanger laat word. Sy het aan 'n seuntjie geboorte gegee. 14 Die vroue het vir Naomi gesê:
“Die Here moet geprys word!
Hy het jou vandag nie sonder
'n losser gelaat nie.
Mag dié losser beroemd wees in Israel.
15Mag hy jou lewenslus herstel
en jou versorg op jou oudag.
Jou skoondogter, wat jou liefhet,
het hom in die wêreld gebring,
sy wat vir jou meer werd is
as sewe seuns. ”
16Naomi het die kind geneem en op haar skoot gesit en sy pleegmoeder geword. 17 Die buurvroue het vir hom 'n naam gegee. Hulle het gesê: “'n Seun is vir Naomi gebore”, en hom toe Obed genoem.
Geslagsregister van koning Dawid
Obed was die vader van Isai, en Isai die vader van Dawid. 18 Hier volg die geslagsregister van Peres:
Peres het Gesron verwek
19Gesron het Ram verwek
Ram het Amminadab verwek
20Amminadab het Nagson verwek
Nagson het Salmon verwek
21Salmon het Boas verwek
Boas het Obed verwek
22 Obed het Isai verwek
Isai het Dawid verwek.

Tans Gekies:

Rut 4: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid