Romeine 7

7
Gelowiges die eiendom van Christus
1Of weet julle dan nie, broers – ek praat immers met mense wat die wet ken – dat die wet seggenskap het oor die mens vir so lank as wat hy leef nie? 2Volgens die wet is die getroude vrou tog aan haar man verbonde terwyl hy nog leef; maar as die man sterf, is sy onthef van die wet ten opsigte van haar man. 3Gevolglik sal sy as 'n egbreekster beskou word as sy 'n ander man se vrou word terwyl haar man nog leef; maar as haar man sterf, is sy vrygestel van die wet; en as sy 'n ander man se vrou word, is sy nie 'n egbreekster nie. 4Net so, my broers, het ook julle deur julle verbintenis met die liggaam van •Christus, wat die wet betref, gesterf om aan iemand anders te behoort, naamlik aan die Een wat uit die dood opgewek is, om vir God vrug te kan dra. 5Toe ons nog in ons sondige aard vasgevang was, het die sondige hartstogte wat deur die wet kom, in ons ledemate gewerk om vrug te dra vir die dood. 6Maar aangesien ons gesterf het, is ons nou vrygestel van die wet waarin ons vasgevang was, sodat ons diensbaar kan wees in die nuwe bedeling van die Gees, en nie in die ou bedeling van die letter van die wet nie.
Sonde en die wet
7Wat sal ons dan sê? Dat die wet sonde is? Hoegenaamd nie! Trouens, ek sou nie die sonde geken het as dit nie deur die wet was nie. Ek sou immers nie geweet het wat begeerte is as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.” 8Nadat die sonde deur die gebod 'n vastrapplek gekry het, het dit allerlei begeertes in my gewek, want sonder die wet is die sonde dood. 9Destyds, sonder die wet, was ék lewendig; maar toe die gebod gekom het, het die sonde lewe gekry, 10en ek het gesterf en gevind dat die gebod wat na die lewe moes lei, na die dood gelei het. 11Die sonde wat deur die gebod 'n vastrapplek gekry het, het my mislei en my deur die gebod doodgemaak. 12 So is die wet dan heilig; en ook die gebod is heilig en regverdig en goed.
13Het dit wat goed is, dan vir my die dood gebring? Hoegenaamd nie! Trouens, dit was die sonde – sodat dit sou blyk dat dit werklik sonde is – wat deur die goeie vir my die dood bewerk het. So het die sonde deur die gebod as uitermate sondig na vore getree.
'n Lewe uit eie sondige aard
14Ons weet wel dat die wet geestelik is, maar ek, in my sondige aard, is uitverkoop aan die sonde. 15Ek verstaan my eie optrede nie: Wat ek wil, doen ek nie; maar juis wat ek haat, dit doen ek. 16En as ek dit doen wat ek nie wil nie, gee ek toe dat die wet goed is. 17Nou is dit egter nie meer ek wat dit doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon.
18Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, dit wil sê, nie in my sondige aard nie. Die wil bestaan wel by my, maar die doen van die goeie nie. 19Die goeie wat ek wil, doen ek nie; maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. 20Maar as ek doen wat ek nie wil nie, is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon.
21Dus vind ek hierdie wet: Wanneer ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. 22In my diepste wese verbly ek my oor die wet van God, 23maar ek sien 'n ander wet wat in my ledemate oorlog voer teen die wet van my verstand en my krygsgevange neem deur die wet van die sonde wat in my ledemate is. 24Ellendige mens wat ek is! Wie sal my tog red uit hierdie doodsbestaan? 25Aan God die dank – deur Jesus •Christus, ons Here!
So dien ekself dan met my verstand die wet van God, maar met my sondige aard die wet van die sonde.

Tans Gekies:

Romeine 7: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid