Romeine 6

6
Dood vir die sonde en lewend vir God
1 Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly voortleef, sodat die genade kan toeneem? 2Hoegenaamd nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog langer daarin bly leef?
3Of weet julle nie dat ons wat in •Christus Jesus in gedoop is, in sy dood in gedoop is nie? 4 Deur die doop is ons dus saam met Hom in die dood begrawe, sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, ook ons só 'n nuwe lewe kan lei. 5 As ons inderdaad met Hom saamgegroei het in 'n dood soos syne, sal ons ook met Hom saamgroei in 'n opstanding soos syne. 6Dit weet ons: dat ons ou mens saam met Hom gekruisig is, sodat ons sondige bestaan tot niet gemaak kan word, en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie. 7 Wie gesterf het, is immers vrygemaak van die sonde. 8As ons saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal leef. 9Ons weet dat Christus, nadat Hy uit die dood opgewek is, nie weer sterf nie – die dood het nie meer seggenskap oor Hom nie. 10Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy ter wille van die sonde eens en vir altyd gesterf, maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. 11 Beskou julleself dan so dat julle in Christus Jesus dood is vir die sonde, maar lewend vir God.
Alles tot beskikking van God
12 Laat die sonde dan nie langer oor julle sterflike liggaam heers, om julle sy begeertes te laat gehoorsaam nie. 13Julle moet ook nie meer julle ledemate as wapens van ongeregtigheid tot beskikking van die sonde stel nie. Nee, as mense wat uit die dood lewend geword het, stel julleself tot beskikking van God, en julle ledemate as wapens van •geregtigheid tot beskikking van God. 14Die sonde mag beslis nie oor julle heers nie; julle is immers nie onder die wet nie, maar onder die genade.
15Wat dan? Sal ons sonde doen omdat ons nie onder die wet is nie, maar onder die genade? Hoegenaamd nie!
16 Besef julle nie dat as julle julleself vir iemand beskikbaar stel om hom as slawe te gehoorsaam, julle slawe is van die persoon aan wie julle gehoorsaam is nie? Julle is óf slawe van die sonde, wat tot die dood lei, óf slawe van gehoorsaamheid, wat lei tot geregtigheid. 17 Aan God die dank dat julle wel slawe van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die vorm van leer waaraan julle onderwerp is; 18vrygemaak van die sonde, het julle slawe van die geregtigheid geword 19– ter wille van julle menslike swakheid praat ek in menslike terme – want soos julle julle ledemate in diens van onreinheid en losbandigheid gestel het om losbandig te leef, stel nou so julle ledemate in diens van die geregtigheid om heilig te leef. 20Want toe julle nog slawe van die sonde was, was julle nie aan geregtigheid gebonde nie.
21Watter vrug het julle destyds verkry? Oor daardie dinge skaam julle julle nou, want die uiteinde daarvan is die dood. 22Maar, noudat julle van die sonde vrygemaak is en diensbaar aan God geword het, lewer julle die vrug van heiligmaking, en die uiteinde hiervan is die ewige lewe. 23 Want die loon van die sonde is die dood; maar die genadegawe van God is die ewige lewe in •Christus Jesus ons Here.

Tans Gekies:

Romeine 6: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid