Romeine 7:7-25
Romeine 7:7-25 AFR20
Wat sal ons dan sê? Dat die wet sonde is? Hoegenaamd nie! Trouens, ek sou nie die sonde geken het as dit nie deur die wet was nie. Ek sou immers nie geweet het wat begeerte is as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.” Nadat die sonde deur die gebod 'n vastrapplek gekry het, het dit allerlei begeertes in my gewek, want sonder die wet is die sonde dood. Destyds, sonder die wet, was ék lewendig; maar toe die gebod gekom het, het die sonde lewe gekry, en ek het gesterf en gevind dat die gebod wat na die lewe moes lei, na die dood gelei het. Die sonde wat deur die gebod 'n vastrapplek gekry het, het my mislei en my deur die gebod doodgemaak. So is die wet dan heilig; en ook die gebod is heilig en regverdig en goed. Het dit wat goed is, dan vir my die dood gebring? Hoegenaamd nie! Trouens, dit was die sonde – sodat dit sou blyk dat dit werklik sonde is – wat deur die goeie vir my die dood bewerk het. So het die sonde deur die gebod as uitermate sondig na vore getree. Ons weet wel dat die wet geestelik is, maar ek, in my sondige aard, is uitverkoop aan die sonde. Ek verstaan my eie optrede nie: Wat ek wil, doen ek nie; maar juis wat ek haat, dit doen ek. En as ek dit doen wat ek nie wil nie, gee ek toe dat die wet goed is. Nou is dit egter nie meer ek wat dit doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon. Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, dit wil sê, nie in my sondige aard nie. Die wil bestaan wel by my, maar die doen van die goeie nie. Die goeie wat ek wil, doen ek nie; maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Maar as ek doen wat ek nie wil nie, is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon. Dus vind ek hierdie wet: Wanneer ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. In my diepste wese verbly ek my oor die wet van God, maar ek sien 'n ander wet wat in my ledemate oorlog voer teen die wet van my verstand en my krygsgevange neem deur die wet van die sonde wat in my ledemate is. Ellendige mens wat ek is! Wie sal my tog red uit hierdie doodsbestaan? Aan God die dank – deur Jesus •Christus, ons Here! So dien ekself dan met my verstand die wet van God, maar met my sondige aard die wet van die sonde.



