Romeine 6:15-23
Romeine 6:15-23 AFR20
Wat dan? Sal ons sonde doen omdat ons nie onder die wet is nie, maar onder die genade? Hoegenaamd nie! Besef julle nie dat as julle julleself vir iemand beskikbaar stel om hom as slawe te gehoorsaam, julle slawe is van die persoon aan wie julle gehoorsaam is nie? Julle is óf slawe van die sonde, wat tot die dood lei, óf slawe van gehoorsaamheid, wat lei tot geregtigheid. Aan God die dank dat julle wel slawe van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die vorm van leer waaraan julle onderwerp is; vrygemaak van die sonde, het julle slawe van die geregtigheid geword – ter wille van julle menslike swakheid praat ek in menslike terme – want soos julle julle ledemate in diens van onreinheid en losbandigheid gestel het om losbandig te leef, stel nou so julle ledemate in diens van die geregtigheid om heilig te leef. Want toe julle nog slawe van die sonde was, was julle nie aan geregtigheid gebonde nie. Watter vrug het julle destyds verkry? Oor daardie dinge skaam julle julle nou, want die uiteinde daarvan is die dood. Maar, noudat julle van die sonde vrygemaak is en diensbaar aan God geword het, lewer julle die vrug van heiligmaking, en die uiteinde hiervan is die ewige lewe. Want die loon van die sonde is die dood; maar die genadegawe van God is die ewige lewe in •Christus Jesus ons Here.





