Romeine 3:1-18

Romeine 3:1-18 AFR20

Wat is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis? Baie, in elke opsig. Want in die eerste plek is die woorde van God aan hulle toevertrou. Maar wat nou? As sommige ontrou geword het, maak hulle ontrouheid God se getrouheid ongedaan? Hoegenaamd nie. Al is elke mens vals, laat God waaragtig wees. Soos daar geskryf staan, “sodat U reg bewys kan word deur u woorde, en U sal wen wanneer U oordeel”. Maar as ons ongeregtigheid die regverdigheid van God bewys, wat sal ons sê? Is God dan onregverdig – ek redeneer nou soos 'n mens – wanneer Hy sy toorn oor ons bring? Hoegenaamd nie! Want hoe sal God dan oor die wêreld oordeel? Maar as deur my valsheid God se waarheid oorvloedig blyk, tot sy heerlikheid, waarom word ek dan nog as sondaar geoordeel? Moet ons nie sê – soos wat ons belaster word, en soos sommige ons dit in die mond lê, “kom ons doen die slegte, sodat die goeie daaruit kan voortkom” nie? Tereg verdien sulke mense hulle veroordeling. Wat dan? Is ons beter daaraan toe? Hoegenaamd nie! Want ons het alreeds tevore Jode sowel as Grieke daarvan aangekla dat almal onder die sonde is; soos daar geskryf staan: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie; daar is niemand verstandig nie, daar is niemand wat God soek nie. Almal het afgedwaal; saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” “Hulle keel is 'n oop graf; met hulle tonge bedrieg hulle; die gif van adders is op hulle lippe. ” “Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.” “Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is op hulle paaie, en 'n pad van vrede ken hulle nie.” “In hulle oë is daar geen vrees vir God nie.”

Video vir Romeine 3:1-18