ROMEINE 3:1-18

ROMEINE 3:1-18 Bybel vir almal (ABA)

Is dit belangrik dat iemand 'n Jood is of dat hy besny is? Ja, dit is baie belangrik. Die belangrikste is dat God met die Jode gepraat het en dat Hy sy woorde vir hulle gegee het. Maar party van die Jode doen nie wat hulle belowe het nie, hulle dien nie vir God nie. Sal God nou ook nie doen wat Hy vir die Jode belowe het nie? Nee, nooit nie! God doen altyd wat Hy belowe. Dit is mense wat nie doen wat hulle sê nie. Daarom is daar in die Ou Testament geskryf: O God, wanneer U iets sê, dan is dit reg. Mense wat probeer om vir U te beskuldig, verloor altyd. Party mense sê dat wanneer ons verkeerde dinge doen, dan kan 'n mens beter sien dat God altyd reg doen. Moet ons dan sê God is verkeerd wanneer Hy ons straf? Nee, nooit nie! As dit wat hulle sê, reg is, dan mag God nooit sê mense is verkeerd nie en dan mag Hy hulle nie straf nie. Party mense sê dat wanneer ons leuens vertel, dan kan ander mense beter sien dat God altyd reg doen en dan kan hulle Hom prys. Hulle sê daarom mag God nie sê ons is sondaars nie en daarom mag Hy ons nie straf nie. Maar daardie mense is verkeerd! Daar is mense wat verkeerd van ons praat. Hulle sê ons sê dat ons slegte dinge moet doen sodat daar goeie dinge met ons kan gebeur. Maar hulle praat nie die waarheid nie. God moet hulle straf, en Hy sal dit doen. Mag ons sê dat ons onskuldig is en dat ons nie sonde doen nie? Nee, nooit nie! Ek het in die begin van hierdie brief gesê dat almal skuldig is. Ek het gesê almal is vol sonde, die Jode én die mense wat nie Jode is nie. In die Ou Testament is daar geskryf: Niemand doen reg nie, nie een nie. Niemand is verstandig nie, niemand vra wat God wil hê nie. Niemand doen wat God wil hê nie, almal doen verkeerde dinge, nie een mens doen goed nie, niemand nie. Hulle sê dinge wat baie sleg is, hulle praat en dan bedrieg hulle ander mense, hulle woorde is so sleg soos die gif van slange. Hulle hou daarvan om mense te vervloek en om slegte dinge te sê. Hulle hou daarvan om mense dood te maak. Hulle breek alles en hulle maak mense baie seer. Hulle hou nie van vrede nie. Hulle respekteer nie vir God nie.

ROMEINE 3:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

WAT is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis? Groot, in alle opsigte: ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God toevertrou is. Want wat maak dit as sommige ontrou geword het? Sal hulle ontrou miskien die getrouheid van God vernietig? Nee, stellig nie! Maar God moet waaragtig wees en elke mens leuenagtig, soos geskrywe is: Sodat U geregverdig kan word in u woorde en oorwin as U gerig hou. Maar as ons ongeregtigheid die geregtigheid van God bewys, wat sal ons sê? Is God wat die toorn oor ons bring, dan nie onregverdig nie? Ek spreek menslikerwys. Nee, stellig nie! Want hoe sal God anders die wêreld oordeel? Maar as die waarheid van God deur my leuen oorvloediger geword het tot sy heerlikheid, waarom word ek dan nog as sondaar geoordeel? En moet ons nie liewer sê nie, soos ons belaster word en soos sommige beweer dat ons sê: Laat ons kwaad doen, sodat die goeie daaruit kan voortkom? Hulle veroordeling is regverdig. WAT dan? Het ons enige voorrang? Hoegenaamd nie! Want ons het tevore al Jode sowel as Grieke beskuldig dat hulle almal onder die sonde is, soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Hul keel is 'n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe. Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie.

ROMEINE 3:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

Het dit dan enige voordeel om 'n Jood te wees, en het die besnydenis enige nut? Ja, baie, in allerlei opsigte. Die belangrikste is dat God sy woorde aan die Jode toevertrou het. Maar wat nou as sommige nie getrou gebly het nie? Sal hulle ontrou die trou van God laat ophou? Beslis nie. Dit staan vas dat God betroubaar is en elke mens 'n leuenaar, soos daar geskrywe staan: “U is regverdig wanneer U uitspraak doen en U wen u saak wanneer U aangekla word.” Ons verkeerde dade laat dus blyk dat God regverdig is. Wat sal ons daarvan sê? Ek redeneer soos mense gewoonlik redeneer. Is God dan nie onregverdig as Hy ons straf nie? Beslis nie. Hoe sou God anders oor die wêreld kan oordeel? Maar as my leuenagtigheid die betroubaarheid van God duideliker aan die lig gebring het en so dien tot eer van God, waarom word ek dan nog as sondaar veroordeel? Beteken dit dat ons sê: Laat ons die verkeerde doen sodat die goeie daaruit kan voortkom? Daar is mense wat ons dit wel lasterlik in die mond lê, maar hulle kry die oordeel wat hulle verdien. Waarop kom dit neer? Is ons as Jode dan beter as die ander? Glad nie, want ons het al bewys dat Jode en nie-Jode almal in die mag van die sonde is. Daar staan immers geskrywe: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. “Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. “Hulle keel is 'n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. “Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. Hulle laat 'n spoor van verwoesting en ellende agter. Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie, ontsag vir God het hulle nie. ”

ROMEINE 3:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Wat is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis? Baie, in elke opsig. Want in die eerste plek is die woorde van God aan hulle toevertrou. Maar wat nou? As sommige ontrou geword het, maak hulle ontrouheid God se getrouheid ongedaan? Hoegenaamd nie. Al is elke mens vals, laat God waaragtig wees. Soos daar geskryf staan, “sodat U reg bewys kan word deur u woorde, en U sal wen wanneer U oordeel”. Maar as ons ongeregtigheid die regverdigheid van God bewys, wat sal ons sê? Is God dan onregverdig – ek redeneer nou soos 'n mens – wanneer Hy sy toorn oor ons bring? Hoegenaamd nie! Want hoe sal God dan oor die wêreld oordeel? Maar as deur my valsheid God se waarheid oorvloedig blyk, tot sy heerlikheid, waarom word ek dan nog as sondaar geoordeel? Moet ons nie sê – soos wat ons belaster word, en soos sommige ons dit in die mond lê, “kom ons doen die slegte, sodat die goeie daaruit kan voortkom” nie? Tereg verdien sulke mense hulle veroordeling. Wat dan? Is ons beter daaraan toe? Hoegenaamd nie! Want ons het alreeds tevore Jode sowel as Grieke daarvan aangekla dat almal onder die sonde is; soos daar geskryf staan: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie; daar is niemand verstandig nie, daar is niemand wat God soek nie. Almal het afgedwaal; saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” “Hulle keel is 'n oop graf; met hulle tonge bedrieg hulle; die gif van adders is op hulle lippe. ” “Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.” “Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is op hulle paaie, en 'n pad van vrede ken hulle nie.” “In hulle oë is daar geen vrees vir God nie.”

ROMEINE 3:1-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Watter voordeel het die Jood dan? of watter voordeel is daar van die besnydenis? Veel op elke manier: hoofsaaklik omdat die woorde van God aan hulle toevertrou is. Want wat as sommige nie geglo het nie? sal hulle ongeloof die geloof in God tot niet maak? God verhoed dit: ja, laat God waaragtig wees, maar elke mens 'n leuenaar; soos geskrywe is: Sodat jy geregverdig kan word in jou woorde en oorwin kan word as jy geoordeel word. Maar as ons ongeregtigheid die geregtigheid van God prys, wat sal ons sê? Is God onregverdig wat wraak neem? (Ek praat as 'n man) God verhoed dit, want hoe sal God dan die wêreld oordeel? Want as die waarheid van God deur my leuen meer oorvloedig geword het tot sy eer; waarom word ek ook as sondaar geoordeel? En nie eerder, soos ons lasterlik gerapporteer word en soos sommige beweer dat ons sê: Laat ons kwaad doen, sodat die goeie kan kom nie? wie se verdoemenis regverdig is. Wat dan? is ons beter as hulle? Nee, geensins nie, want ons het tevore beide Jode en heidene bewys dat hulle almal onder die sonde is; Soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, ook nie een nie; Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat na God soek nie. Hulle het almal uit die pad gegaan, saam het hulle nutteloos geword; daar is niemand wat goed doen nie, ook nie een nie. Hulle keel is 'n oop graf; met hulle tonge het hulle bedrog gebruik; die gif van adders is onder hulle lippe: Wie se mond vol vloek en bitterheid is: Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle weë: En die weg van vrede het hulle nie geken nie: Daar is geen vrees vir God voor hulle oë nie.

ROMEINE 3:1-18 Die Boodskap (DB)

Maak dit dan saak dat jy ’n Jood is en dat jy besny is? Ja, tog! God het Hom immers aan Israel kom bekendmaak. Hy het ook toegelaat dat Israel sy woorde en dade op skrif stel. Maar wat dan as party Israeliete ongehoorsaam aan God is? Bring hulle ongehoorsaamheid God se lojaliteit in die gedrang? Nee, beslis nie. God hou altyd sy woord. Hy bly lojaal selfs al lieg en bedrieg almal op aarde. Dit is soos een van die psalms sê: “Dit wat U sê, is reg. U wen altyd u saak wanneer mense U beskuldig dat U ontrou is.” God is heeltemal reg as Hy ons straf as ons verkeerde dinge doen. Sy straf is mos nie ’n teken dat Hy nou skielik onregverdig is nie. (Nou praat ek op ’n doodgewone manier.) Nee, natuurlik nie. God moet sy eer op die een of ander manier beskerm. Daarom veroordeel Hy almal wat nie doen wat Hy vra nie. Party mense sê egter dat God onregverdig is as Hy hulle oor hulle sondes straf. Hulle loop en vertel dat al hulle leuens eintlik ’n groot hulp vir God is. Dit bied glo aan Hom die geleentheid om te wys dat Hy die waarheid gepraat het toe Hy gesê het dat Hy sondaars vergewe. Die ergste van alles is dat hierdie mense agter my rug sê dat hulle dit by my gehoor het. Natuurlik is dit ’n leuen. Ek verkondig nie sulke dinge nie. Die mense wat dit oor my sê, sal hulle verdiende straf kry. Wat dan? Help dit regtig om ’n Jood te wees? Nee, glad nie. Ek het mos vroeër al gesê dat ons almal in die greep van die sonde vasgevang is, of ons nou Jode is of nie. Die Bybel stel dit baie duidelik: “Niemand op aarde leef reg nie, niemand nie, niemand probeer om volgens God se wil te leef nie. Almal het die spoor byster geraak. Hulle het in sonde verval. Niemand doen goed nie, nie ’n enkele een nie. Hulle kele is ’n oop deur na die doderyk toe. Hulle tonge is vol bedrog. Hulle lippe is vol van die dodelikste gif. Elke woord wat hulle sê, is gelaai met bitterheid. Hulle vloek links en regs. Hulle kan nie voorbly om mekaar dood te maak nie. Agter hulle lê ’n spoor van vernietiging en ellende. Hulle weet nie wat dit beteken om in vrede met ander mense te leef nie. Hulle het geen eerbied vir God nie.”

ROMEINE 3:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Beteken dit dan enigiets besonders om ’n Jood te wees? Of hou die besnydenis enige voordeel in? Inderdaad! Dit hou baie voordele in. Die belangrikste is die feit dat God sy openbaring aan die Jode toevertrou het. Wat sê dit vir ons? Impliseer die feit dat party Jode ontrou geword het dan nie dat God se getrouheid aan sy beloftes ook daarmee heen is nie? Beslis nie! Al sou elke mens ’n leuenaar wees – God se waaragtigheid staan steeds vas. Soos die Skrif sê: “U sal reg bewys word in wat U sê, en U sal u regsaak wen.” “Maar,” kan party sê, “dan dien ons ongeregtigheid tog ’n goeie doel, want as God ons ten spyte van ons sondes vryspreek, sal dit vir die mense wys hoe wonderlik goed Hy is. En dan sou God mos onregverdig wees as Hy die sonde wel straf!” Ja, so sou mense nogal geneig wees om te redeneer. Maar dit is natuurlik ondenkbaar! As God onregverdig was, hoe sou Hy ooit as die regter van die hele wêreld kon kwalifiseer? Party sal egter nog bly sê: “Maar hoe kan God my nog steeds as ’n sondaar veroordeel as my oneerlikheid juis sý waaragtigheid oorvloedig laat blyk en tot sy verheerliking dien?” Volgens hierdie absurde redenasie sou ons moes sê: “Kom ons doen die slegte sodat die goeie daaruit kan voortkom!” Dié wat sulke onsin verkondig, verdien tereg God se oordeel – en tog belaster sommige mense my deur te beweer dis presies wat ek preek! Waarop kom dit neer? Dat ons wat Jode is, voor God beter is as ander? Hoegenaamd nie! Ons het immers reeds duidelik aangetoon dat die Jode sowel as die nie-Jode almal onder die mag van die sonde verkeer. Dit is soos die Skrif sê: “Niemand is goed nie – selfs nie een nie. Daar is nie een wat verstandig is nie; niemand wat ernstig na God soek nie. Almal het hulle rug op God gekeer; almal het sleg geword. Daar is niemand wat die goeie doen nie – selfs nie een nie.” “Hulle keel is soos ’n geopende graf. Met hulle tonge pleeg hulle bedrog.” “Die gif van dodelike slange drup van hulle lippe.” “Hulle monde is vol vervloeking en bitterheid.” “Hulle is haastig om moord te pleeg. Oral waar hulle gaan, laat hulle verwoesting en ellende agter. Hulle weet nie waar ware vrede lê nie.” “Eerbied vir God speel by hulle geen rol nie.”