Spreuke 2:9-22
Spreuke 2:9-22 AFR20
Dan sal jy verstaan wat regverdig, billik en reg is – elke goeie pad. Want wysheid sal in jou hart inkom, en kennis sal vir jou aangenaam wees. Goeie oordeel sal oor jou wag hou, verstandigheid sal jou bewaak om jou te red van die pad van onheil, van iemand wat verdorwe uitsprake maak, van hulle wat reguit paaie verlaat om op donker weë te gaan, van hulle wat vreugde daarin vind om kwaad te doen, wat juig oor die verdorwenheid van die kwaad, hulle wie se paaie verdraai is, en wat die spoor byster is op hulle roetes, en om jou te red van 'n vreemde vrou, van die uitlander met haar vleitaal, wat die boesemvriend van haar jeug verlaat, die verbond van haar God vergeet. Ja, na die dood sak haar huis af, na die skimme haar spore. Almal wat na haar gaan – hulle keer nie terug nie, hulle bereik nie weer die paaie van die lewe nie. Dus, jy moet die pad van goeie mense loop, en die weë van regverdiges – daarby moet jy hou. Want opregtes sal die land bewoon, en wie onberispelik is, sal daarin agterbly. Maar die goddeloses sal uit die land uitgeroei word, en wie verraderlik optree, sal daaruit weggeruk word.





