Numeri 6

6
Voorskrifte vir nasireërs
1Die Here het met Moses gepraat en gesê: 2“ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer 'n man of vrou 'n buitengewone gelofte aflê, die gelofte van 'n •nasireër om hulle aan die Here te wy, 3moet hy hom van wyn en sterk drank weerhou. Druiweasyn en asyn van sterk drank mag so iemand nie drink nie. Geen druiwesap mag hy drink nie, en druiwe, vars of droog, mag hy nie eet nie. 4Vir die volle tydperk van sy toewyding mag hy niks eet wat van die druiwestok verkry word nie, van pit tot skil.
5“ ‘Vir die volle tydperk wat sy gelofte van toewyding geld, mag 'n skeermes nie oor sy kop gaan nie. Totdat die tydperk waarin hy hom aan die Here toewy, verby is, moet hy heilig wees en die onversorgde hare op sy kop lank laat word.
6“ ‘ Vir die volle tydperk van sy toewyding aan die Here mag hy nie naby 'n dooie kom nie. 7Selfs in die geval van sy vader, moeder, broer of suster mag hy homself nie met hulle verontreinig as hulle sterf nie, want die teken van toewyding aan sy God, is op sy kop. 8 Vir die volle tydperk van sy toewyding is hy heilig vir die Here.
9“ ‘ Maar wanneer iemand by hom heel onverwags sterf, en hy sy gewyde hare verontreinig, moet hy sy hare afskeer op die dag wanneer hy rein word; op die sewende dag moet hy dit afskeer. 10 Op die agtste dag moet hy twee tortelduiwe of twee jong duiwe na die priester bring by die ingang van die •Tent van Ontmoeting. 11 Die priester moet die een as 'n •reinigingsoffer en die ander as 'n •brandoffer bring en so vir hom versoening doen vir die oortreding weens die dooie. Daardie dag nog moet hy sy hare heilig 12 en die tydperk van sy toewyding opnuut aan die Here opdra. Hy moet 'n jaaroud ramlam as •hersteloffer na die priester bring. Die aanvanklike tydperk verval omdat sy toewyding •onrein geword het.
13 “ ‘ Dit is die voorskrifte vir die nasireër: Op die dag wanneer die tydperk van sy toewyding verby is, moet hy na die ingang van die Tent van Ontmoeting gebring word. 14 Hy moet sy offer vir die Here naderbring: een jaaroud ramlam sonder gebrek as •brandoffer, een jaaroud ooilam sonder gebrek as reinigingsoffer en een ram sonder gebrek as •maaltydoffer, 15 asook 'n mandjie met ongesuurde brood van gesifte meel, ringbrode, klam gemaak met olyfolie, en platbrode, gesmeer met olyfolie, met die bypassende •graan- en •drankoffers. 16Die priester moet dit in die teenwoordigheid van die Here bring en offer as die persoon se reinigingsoffer en brandoffer. 17Die ram moet hy as maaltydoffer vir die Here bring saam met die mandjie ongesuurde brood. Die priester offer ook die persoon se graan- en drankoffer. 18 Die nasireër moet dan by die ingang van die Tent van Ontmoeting sy gewyde hare afskeer. Hy moet die gewyde hare van sy kop neem en dit in die vuur onder die maaltydoffer gooi. 19 Die priester moet die ram se gekookte blad neem en ook een ongesuurde ringbrood en een ongesuurde platbrood uit die mandjie haal. Hy moet dit dan op die handpalms van die nasireër sit nadat hy sy gewyde hare afgeskeer het. 20Daarna moet die priester dit voor die Here as simboliese offer bring. Dit is 'n heilige gawe wat die priester toekom, saam met die borsstuk, wat die gewyde gawe is, en die boud, wat die •wydingsgeskenk is. Daarna kan die nasireër wyn drink.
21 “ ‘Dit is die voorskrifte vir die nasireër wat hy, op grond van sy toewyding, as 'n offer aan die Here moet beloof, naas dit wat hy verder kan bekostig. Bo en behalwe die voorskrifte wat geld vir sy toewyding, moet hy presies handel volgens sy gelofte wat hy aflê.’ ”
Priesterlike seën
22Die Here het met Moses gepraat en gesê: 23 “ Praat met Aäron en sy seuns en sê, ‘So moet julle die Israeliete seën; sê vir hulle:
24“ ‘ Mag die Here jou seën
en jou beskerm.
25 Mag die Here sy aangesig oor jou laat skyn
en jou genadig wees.
26 Mag die Here sy aangesig na jou toe oplig
en aan jou vrede gee.’ ”
27 “So moet hulle my Naam op die Israeliete lê, dan sal Ek self hulle seën.”

Tans Gekies:

Numeri 6: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid