Numeri 5

5
Voorskrifte oor onreinheid
1Die Here het met Moses gepraat en gesê: 2“Gee die Israeliete opdrag om elkeen wat 'n velsiekte het en elkeen wat 'n afskeiding het, uit die kamp te stuur, ook elkeen wat onrein is omdat hy aan 'n lyk geraak het. 3Mans sowel as vroue, moet julle uitstuur. Na die buitekant van die kamp moet julle hulle stuur, sodat hulle nie hulle kamp, waar Ek in hulle midde woon, verontreinig nie.” 4Die Israeliete het toe so gemaak. Hulle het hulle uit die kamp gestuur. Net soos wat die Here vir Moses beveel het, so het die Israeliete gedoen.
Voorskrifte oor ontrou
5Die Here het met Moses gepraat en gesê: 6“ Sê vir die Israeliete, ‘Wanneer 'n man of 'n vrou enige sonde begaan wat 'n mens kan doen, sodat daar ontrou teenoor die Here gepleeg word, is daardie persoon skuldig. 7 Hulle moet hulle sonde wat hulle gedoen het, bely. Die persoon moet ten volle vergoeding gee vir wat hy verkeerd gedoen het en 'n vyfde daarvan byvoeg. Hy moet dit gee aan wie hy ook al benadeel het. 8As iemand egter geen naaste familielid het aan wie die skuld vergoed kan word nie, val die verskuldigde bedrag terug aan die Here. Dit is tot voordeel van die priester, bo en behalwe die ram vir versoening waarmee die priester vir die persoon versoening moet doen.
9“ ‘Enige •wydingsgeskenk uit al die •heilige gawes van die Israeliete wat hulle na die priester bring, sal syne wees. 10Elkeen se heilige gawes is sy eie, maar wanneer iemand iets vir die priester gee, behoort dit aan die priester.’ ”
Voorskrifte oor agterdog
11Die Here het met Moses gepraat en gesê: 12“ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘As enigiemand se vrou op 'n dwaalspoor raak en aan hom ontrou is 13 deurdat 'n ander man met haar gemeenskap het, maar haar man nie daarvan bewus is nie – want sy het haarself in die geheim verontreinig – en daar geen getuie teen haar is en sy ook nie betrap is nie; 14 maar 'n gees van wantroue pak haar man beet en hy koester agterdog teenoor sy vrou as sy haarself verontreinig het; of ook as 'n gees van wantroue hom beetpak en hy koester agterdog teenoor sy vrou alhoewel sy haarself nie verontreinig het nie, 15 dan moet die man sy vrou na die priester neem. Hy moet die vereiste offer namens haar saamneem: 'n tiende van 'n efa garsmeel. Hy mag geen olyfolie daaroor uitgiet en geen wierook daarop neersit nie, want dit is 'n •graanoffer vir agterdog, 'n graanoffer van herinnering wat aan skuld herinner.
16“ ‘Die priester moet haar naderbring en haar in die teenwoordigheid van die Here laat staan. 17Die priester moet die heilige water wat in 'n kleipot is, neem; ook van die stof op die vloer van die •tabernakel moet hy neem en in die water gooi. 18Die priester moet dan die vrou in die teenwoordigheid van die Here laat staan. Hy moet haar hare losmaak en die graanoffer van herinnering op haar handpalms sit – dit is die graanoffer vir agterdog – terwyl die priester die water van bitterheid wat 'n vloek bring, in sy hand hou. 19Dan moet die priester haar onder eed plaas en vir die vrou sê: “As 'n ander man nie by jou geslaap het nie, en as jy nie in •onreinheid op 'n dwaalspoor geraak het terwyl jy onder die gesag van jou man was nie, wees dan vry van hierdie water van bitterheid wat 'n vloek bring. 20Maar jy, as jy op 'n dwaalspoor geraak het terwyl jy onder die gesag van jou man was, en as jy jouself verontreinig het, en iemand behalwe jou eie man met jou gemeenskap gehad het” – 21en hier moet die priester dan die vrou die eed van vervloeking laat sweer deur vir haar te sê – “mag die Here jou 'n voorbeeld van vervloeking en verwensing maak onder jou volk wanneer Hy beskik dat jou heup krimp en jou maag opswel. 22En mag hierdie water wat die vloek bring, in jou ingewande ingaan sodat jou maag opswel en jou heup krimp.” Die vrou moet dan sê: “•Amen, amen.”
23“ ‘Daarna moet die priester hierdie vervloekings in 'n •boekrol skryf en dit in die water van bitterheid uitwis. 24Hy moet die vrou die water van bitterheid wat die vloek bring, laat drink; dit sal in haar ingaan tot bitterheid. 25Die priester moet dan die graanoffer vir agterdog uit die vrou se hand neem, dit voor die Here aanbied en dit na die altaar bring. 26 Dan moet die priester 'n handvol van die graanoffer, die simboliese offer, neem, en dit op die altaar verbrand. Daarna moet hy die vrou die water laat drink. 27Nadat hy haar die water laat drink het, sal dit soos volg verloop: As sy haarself verontreinig het en 'n daad van ontrou teenoor haar man gepleeg het, sal die water van bitterheid wat die vloek bring, in haar ingaan; haar maag sal opswel en haar heup sal krimp. Die vrou sal dan dien as voorbeeld van vervloeking onder haar volk. 28Maar as die vrou haarself nie verontreinig het nie en sy rein is, sal sy vry wees van skuld en bevrug kan raak.
29“ ‘Dit is die voorskrif vir agterdog, wanneer 'n vrou op 'n dwaalspoor raak en sy haarself verontreinig terwyl sy onder die gesag van haar man is; 30of in die geval van 'n man wanneer 'n gees van wantroue hom beetpak en hy agterdog koester teenoor sy vrou. Hy moet dan die vrou in die Here se teenwoordigheid laat staan, en die priester sal met haar handel volgens hierdie hele voorskrif. 31Die man sal vry wees van skuld, maar daardie vrou sal haar skuld moet dra.’ ”

Tans Gekies:

Numeri 5: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid