Numeri 4

4
Telling en dienswerk van die Kehatgroep
1 Die Here het met Moses en Aäron gepraat en gesê: 2“ Hou onder die Leviete 'n hoofdelike telling van die nageslag van Kehat, volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, 3van dertig jaar en ouer, tot vyftig jaar oud, elkeen wat ingaan vir diens om 'n taak te verrig in die Tent van Ontmoeting.
4“ Die dienswerk van die nageslag van Kehat in die Tent van Ontmoeting in verband met die allerheiligste voorwerpe is soos volg: 5 Wanneer die kamp opgebreek word, moet Aäron en sy seuns ingaan en die voorhangsel wat as afskorting dien, afhaal en die ark met die Getuienis daarmee bedek. 6 Hulle moet 'n sagte leerbedekking daaroor sit en 'n doek wat heeltemal pers is, daaroor gooi. Dan moet hulle die draaghoute insteek. 7Oor die tafel vir die vertoonbrode moet hulle ook 'n pers doek gooi. Daarop moet hulle die skottels, die bakke, die komme en die bekers vir die •drankoffers neersit. Die brood wat deurentyd op die tafel is, moet ook daar wees. 8 Daaroor moet hulle dan 'n karmosynrooi doek gooi en dit met 'n dekkleed van sagte leer toemaak. Dan moet hulle die draaghoute insteek. 9 Hulle moet 'n pers doek vat en dit gooi oor die menora wat lig moet verskaf, saam met sy lampe, die snuiters, die bakkies en al die oliehouers waarmee hulle by die menora take verrig. 10Hulle moet die menora met al sy toebehore op 'n kleed van sagte leer sit en dit op die draagbaar neerlê. 11 Oor die goue altaar moet hulle 'n pers doek gooi en dit met 'n kleed van sagte leer toemaak. Dan moet hulle die draaghoute insteek. 12 Hulle moet al die gereedskap neem waarmee hulle in die heiligdom take verrig, dit op 'n pers doek sit, met 'n kleed van sagte leer toemaak en op die draagbaar neerlê. 13Hulle moet die altaar skoonvee van vetterige as en 'n purperrooi doek daaroor gooi. 14Hulle moet al die gereedskap waarmee hulle by die altaar take verrig, daarop neersit: die vuurpanne, die vurke, die skoppies en offerbakke – al die gereedskap vir die altaar. Dan moet hulle 'n sagte leerbedekking daaroor gooi. Daarna moet hulle die draaghoute insteek. 15 Aäron en sy seuns moet die heiligdom en al die heilige voorwerpe toemaak wanneer die kamp verskuif. Eers daarna kan die nageslag van Kehat kom om dit te dra. Hulle mag nie aan iets heiligs raak nie, anders sterf hulle. Dit is dan die voorwerpe in die Tent van Ontmoeting wat die nageslag van Kehat moet dra.
16 “Die olie vir die lig, die geurige reukwerk, die gereelde •graanoffer en die salfolie staan onder die beheer van Eleasar, seun van die priester Aäron. Hy hou ook toesig oor die hele tabernakel en alles wat daarin is, oor sowel die heiligdom as sy gereedskap.”
17Die Here het met Moses en Aäron gepraat en gesê: 18“ Moenie toelaat dat die familiegroepe van die Kehat-tak van die Leviete afgesny word nie. 19Dit is wat julle vir hulle moet doen, sodat hulle kan leef en nie sterf wanneer hulle die besonder heilige voorwerpe nader nie: Aäron en sy seuns moet in die tabernakel ingaan en hulle aanstel, elkeen oor sy taak en by sy drawerk. 20 Hulle mag egter nie daar ingaan om, terwyl dit toegegooi word, na die heilige voorwerpe te kyk nie, anders sterf hulle.”
Telling en dienswerk van die Gersongroep
21Die Here het met Moses gepraat en gesê: 22“ Hou 'n hoofdelike telling ook van die nageslag van Gerson volgens hulle families, volgens hulle familiegroepe, 23van dertig jaar en ouer, tot vyftig jaar oud. Skryf hulle in, elkeen wat ingaan om diens te doen om 'n taak te verrig in die Tent van Ontmoeting.
24“ Dit is die taak wat die familiegroepe wat van Gerson afstam, moet uitvoer by die drawerk: 25Hulle moet die tabernakel se tentdoeke en die Tent van Ontmoeting dra, die dekkleed en die dekkleed van sagte leer wat bo-oor kom, die gordyn by die ingang van die •Tent van Ontmoeting, 26 die voorhof se seildoeke wat rondom die tabernakel en die altaar is, en die afskorting by die ingang van die poort na die voorhof, asook die toue daarvan en al die voorwerpe wat deel uitmaak van hulle taak; ja, alles wat daarmee gedoen moet word, is hulle taak. 27 Volgens die bevele van Aäron en sy seuns moet elke taak van die nageslag van Gerson uitgevoer word. Dit geld vir al hulle drawerk en al hulle take. Julle moet vir hulle by die naam al hulle drawerk aanwys. 28 Dit is die taak van die familiegroepe van die nageslag van Gerson by die Tent van Ontmoeting. Hulle verpligtinge staan onder die beheer van Itamar, seun van die priester Aäron.”
Telling en dienswerk van die Merarigroep
29“ Wat die nageslag van Merari betref – volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, moet jy hulle inskryf. 30 Van dertig jaar en ouer, tot vyftig jaar oud, elkeen wat ingaan vir diens om by die Tent van Ontmoeting 'n taak te verrig, moet jy inskryf. 31 Die drawerk wat hulle verplig is om te doen, al hulle take by die Tent van Ontmoeting, sluit die volgende in: die houtraamwerk van die tabernakel, sy dwarshoute, pilare en voetstukke, 32die pilare rondom die voorhof, die voetstukke, penne, toue en al die bypassende gereedskap, alles wat deel uitmaak van hulle taak. Julle moet vir hulle by die naam die voorwerpe wat hulle verplig is om te dra, aanwys. 33Dit is die taak van die familiegroepe uit die nageslag van Merari. Al hulle take by die Tent van Ontmoeting staan onder die beheer van Itamar, seun van die priester Aäron.”
Getalle van die Leviete
34 Moses en Aäron en die leiers van die volksvergadering het die nageslag van Kehat ingeskryf volgens hulle familiegroepe en families, 35van dertig jaar en ouer, tot vyftig jaar oud, elkeen wat ingaan vir 'n diens om 'n taak te verrig in die Tent van Ontmoeting. 36Dié wat ingeskryf is volgens hulle familiegroepe, was 2 750. 37Dit was dié wat ingeskryf is van die familiegroepe wat van Kehat afstam, elkeen wat in die Tent van Ontmoeting 'n taak verrig het. Moses en Aäron het hulle ingeskryf op bevel van die Here deur die diens van Moses.
38Dié wat ingeskryf is van die nageslag van Gerson, volgens hulle familiegroepe en families, 39van dertig jaar en ouer, tot vyftig jaar oud, elkeen wat ingaan vir diens om 'n taak te verrig in die Tent van Ontmoeting, 40ingeskryf volgens familiegroepe en families, was 2 630. 41Dit was dié wat ingeskryf is van die familiegroepe van die nageslag van Gerson, elkeen wat in die Tent van Ontmoeting 'n taak verrig het, wat Moses en Aäron in opdrag van die Here ingeskryf het.
42Dié wat ingeskryf is van die familiegroepe van die nageslag van Merari, ingeskryf volgens hulle familiegroepe en families, 43van dertig jaar en ouer, tot vyftig jaar oud, elkeen wat ingaan vir diens om 'n taak te verrig in die Tent van Ontmoeting – 44dié wat ingeskryf is volgens familiegroepe, was 3 200. 45Dit was dié wat ingeskryf is van die familiegroepe van die nageslag van Merari. Moses en Aäron het hulle ingeskryf op bevel van die Here by monde van Moses.
46Al dié wat ingeskryf is, die Leviete wat Moses en Aäron en die leiers van Israel ingeskryf het volgens hulle familiegroepe en families, 47van dertig jaar en ouer, tot vyftig jaar oud, elkeen wat ingaan om 'n taak te verrig en drawerk te doen in die Tent van Ontmoeting – 48dié wat ingeskryf is, was 8 580. 49Volgens die bevel van die Here by monde van Moses, is hulle oor hulle taak en drawerk opdragte gegee, elkeen wat Moses ingeskryf het soos die Here hom beveel het.

Tans Gekies:

Numeri 4: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid