Numeri 4:1-20

Numeri 4:1-20 AFR20

Die HERE het met Moses en Aäron gepraat en gesê: “ Hou onder die Leviete 'n hoofdelike telling van die nageslag van Kehat, volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, van dertig jaar en ouer, tot vyftig jaar oud, elkeen wat ingaan vir diens om 'n taak te verrig in die Tent van Ontmoeting. “ Die dienswerk van die nageslag van Kehat in die Tent van Ontmoeting in verband met die allerheiligste voorwerpe is soos volg: Wanneer die kamp opgebreek word, moet Aäron en sy seuns ingaan en die voorhangsel wat as afskorting dien, afhaal en die ark met die Getuienis daarmee bedek. Hulle moet 'n sagte leerbedekking daaroor sit en 'n doek wat heeltemal pers is, daaroor gooi. Dan moet hulle die draaghoute insteek. Oor die tafel vir die vertoonbrode moet hulle ook 'n pers doek gooi. Daarop moet hulle die skottels, die bakke, die komme en die bekers vir die •drankoffers neersit. Die brood wat deurentyd op die tafel is, moet ook daar wees. Daaroor moet hulle dan 'n karmosynrooi doek gooi en dit met 'n dekkleed van sagte leer toemaak. Dan moet hulle die draaghoute insteek. Hulle moet 'n pers doek vat en dit gooi oor die menora wat lig moet verskaf, saam met sy lampe, die snuiters, die bakkies en al die oliehouers waarmee hulle by die menora take verrig. Hulle moet die menora met al sy toebehore op 'n kleed van sagte leer sit en dit op die draagbaar neerlê. Oor die goue altaar moet hulle 'n pers doek gooi en dit met 'n kleed van sagte leer toemaak. Dan moet hulle die draaghoute insteek. Hulle moet al die gereedskap neem waarmee hulle in die heiligdom take verrig, dit op 'n pers doek sit, met 'n kleed van sagte leer toemaak en op die draagbaar neerlê. Hulle moet die altaar skoonvee van vetterige as en 'n purperrooi doek daaroor gooi. Hulle moet al die gereedskap waarmee hulle by die altaar take verrig, daarop neersit: die vuurpanne, die vurke, die skoppies en offerbakke – al die gereedskap vir die altaar. Dan moet hulle 'n sagte leerbedekking daaroor gooi. Daarna moet hulle die draaghoute insteek. Aäron en sy seuns moet die heiligdom en al die heilige voorwerpe toemaak wanneer die kamp verskuif. Eers daarna kan die nageslag van Kehat kom om dit te dra. Hulle mag nie aan iets heiligs raak nie, anders sterf hulle. Dit is dan die voorwerpe in die Tent van Ontmoeting wat die nageslag van Kehat moet dra. “Die olie vir die lig, die geurige reukwerk, die gereelde •graanoffer en die salfolie staan onder die beheer van Eleasar, seun van die priester Aäron. Hy hou ook toesig oor die hele tabernakel en alles wat daarin is, oor sowel die heiligdom as sy gereedskap.” Die HERE het met Moses en Aäron gepraat en gesê: “ Moenie toelaat dat die familiegroepe van die Kehat-tak van die Leviete afgesny word nie. Dit is wat julle vir hulle moet doen, sodat hulle kan leef en nie sterf wanneer hulle die besonder heilige voorwerpe nader nie: Aäron en sy seuns moet in die tabernakel ingaan en hulle aanstel, elkeen oor sy taak en by sy drawerk. Hulle mag egter nie daar ingaan om, terwyl dit toegegooi word, na die heilige voorwerpe te kyk nie, anders sterf hulle.”