NUMERI 4:1-20

NUMERI 4:1-20 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Jy moet die Kehat-familie tel en opskryf van wie se nageslag en van watter familie elkeen is. Jy moet almal tel wat tussen 30 en 50 jaar oud is, almal wat kan werk. Hulle moet werk met die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Die Kehat-familie moet werk met die hoog-gewyde dinge van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Wanneer die mense in die kamp moet weggaan, dan moet Aäron en sy seuns kom en hulle moet die gordyn voor die binneste kamer afhaal. Hulle moet die kis waarin die tien gebooie is, daarmee toemaak. Dan moet hulle 'n seil van sagte vel bo-oor die kis sit, en daarna 'n lap van blou wol-materiaal. Daarna moet hulle die dra-houte in die ringe van die kis sit. Hulle moet 'n blou lap oor die tafel gooi waarop die offer-brood is, en dan moet hulle die skottels, die panne, die bakke en die kanne daarop sit, die kanne waarmee hulle die drank-offer uitgooi. Die offer-brood moet ook daarby wees. Hulle moet 'n rooi lap bo-oor gooi en alles toemaak met 'n vel-seil. Dan moet hulle die dra-houte in die ringe van die tafel sit. Daarna moet hulle 'n blou lap neem en die lampstaander toemaak, saam met die lampe en die dekseltjies wat die lampe doodmaak en die olie-kanne wat daarby moet wees. Hulle moet 'n vel-seil oor alles gooi en hulle moet dit op pale sit om dit te dra. Hulle moet 'n blou lap oor die goue altaar gooi en hulle moet dit toemaak met 'n vel-seil. Dan moet hulle die altaar se dra-houte in die ringe sit. Daarna moet hulle al die gereedskap neem wat hulle in die tempel-tent gebruik en hulle moet dit in 'n blou lap sit en dit toemaak met 'n vel-seil en dit op dra-pale sit. Hulle moet die as van die altaar afvee en 'n pers lap oor die altaar gooi. Dan moet hulle al die gereedskap wat hulle by die altaar gebruik, daarop sit: die emmers, die vurke, die grawe en die bakke, al die gereedskap van die altaar, en hulle moet dit toemaak met 'n vel-seil. Dan moet hulle die altaar se dra-houte in die ringe sit. Wanneer die mense moet weggaan uit die kamp, dan moet Aäron en sy seuns eers die tempel-tent en al sy gereedskap toemaak. Wanneer hulle dit klaar gedoen het, dan kan die Kehat-familie dit kom dra. Hulle mag nie aan die gewyde dinge raak nie. As hulle dit doen, dan sal hulle sterf. Die Kehat-familie se werk is om die tent te dra waar die Here aan die Israeliete verskyn. “Eleasar seun van die priester Aäron, moet sorg dat daar olyf-olie vir die lampe is, en ook wierook, koring-offers vir elke dag, en salf-olie. Hy moet kyk dat almal reg werk in die tempel-tent en dat hulle die gereedskap reg gebruik.” Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Aäron en sy seuns moet kom en hulle moet vir elkeen van die Kehat-familie sê wat hy moet doen en wat hy moet dra. Die mense van die Kehat-familie moenie kyk na die hoog-gewyde dinge nie, hulle moet glad nie kyk nie. Want as een van hulle dit doen, dan sal hy sterf, en julle moenie dat die Kehat-familie sterf en ophou lewe tussen die Leviete nie. Julle moet dit vir hulle sê sodat hulle kan aanhou lewe.”

NUMERI 4:1-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die HERE het met Moses en Aäron gespreek en gesê: Neem die volle getal van die seuns van Kehat op, onder die seuns van Levi uit, volgens hulle geslagte, volgens hulle families, van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig is, om werk by die tent van samekoms te verrig. Dit sal die dienswerk van die seuns van Kehat by die tent van samekoms wees, naamlik die hoogheilige dinge. By die opbreek van die laer moet Aäron en sy seuns kom en die voorhangsel tot bedekking afneem en daarmee die ark van die Getuienis bedek. En hulle moet 'n dekkleed van robbevelle daarop sit en 'n doek, heeltemal van pers stof, daar bo-oor uitsprei en sy draaghoute insteek. Hulle moet ook oor die toonbroodtafel 'n pers doek uitsprei en daarop neersit die skottels en die rookpanne en die bekers en die drankofferkanne; ook moet die altyd-blywende brood daarop wees. Daarna moet hulle 'n skarlaken doek daaroor uitsprei en dit met 'n dekkleed van robbevelle toemaak en sy draaghoute insteek. Dan moet hulle 'n pers doek neem en die kandelaar tot verligting bedek, met sy lampe en sy snuiters en sy bakkies en al sy oliekanne waarmee hulle daarby diens doen. En hulle moet dit met al sy gereedskap op 'n dekkleed van robbevelle neerlê en dit op die draagbaar sit. En oor die goue altaar moet hulle 'n pers doek uitsprei en dit met 'n dekkleed van robbevelle toemaak en sy draaghoute insteek. Hulle moet ook al die gereedskap neem waarmee hulle diens in die heiligdom doen, en dit op 'n pers doek neerlê en met 'n dekkleed van robbevelle toemaak en dit op die draagbaar sit. En hulle moet die as van die altaar verwyder en daar 'n purper doek oor uitsprei. En hulle moet al sy gereedskap daarop neersit waarmee hulle daarby diens doen: die vuurpanne, die vurke en die skoppe en die komme, al die gereedskap van die altaar; en hulle moet daar 'n dekkleed van robbevelle oor uitsprei en sy draaghoute insteek. En eers nadat Aäron en sy seuns, by die opbreek van die laer, klaar is met die toemaak van die heiligdom en van al die gereedskap van die heiligdom, moet die seuns van Kehat kom om te dra; maar hulle mag nie aan die heilige dinge raak nie, sodat hulle nie sterwe nie. Hierdie dinge is dit wat die seuns van Kehat moet dra van die tent van samekoms. En die toesig van Eleásar, die seun van die priester Aäron, gaan oor die olie vir die kandelaar en die reukwerk van speserye en die voortdurende spysoffer en die salfolie; die toesig oor die hele tabernakel en oor alles wat daarin is: die heiligdom en bybehorende gereedskap. En die HERE het met Moses en Aäron gespreek en gesê: Sorg dat die stam van die geslagte van die Kehatiete nie onder die Leviete uitgeroei word nie. Maar doen vir hulle dit, sodat hulle lewe en nie sterwe nie as hulle na die hoogheilige dinge aankom: Aäron en sy seuns moet ingaan en hulle aanstel elkeen oor sy dienswerk en oor wat hy moet dra. Maar hulle moet nie inkom om vir 'n oomblik die heiligdom te sien nie, sodat hulle nie sterwe nie.

NUMERI 4:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Tel die Leviete tussen dertig en vyftig jaar, almal wat van Kehat afstam. Doen dit volgens afstamming van familie. Dit moet almal insluit wat vir diens geskik is, wat die werk in die tent van ontmoeting kan verrig. Die ampsplig van die Kehatgroep in die tent van ontmoeting het te doen met die besondere gewyde voorwerpe. “Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns nader kom. “Hulle moet die voorhangsel wat as bedekking dien, afhaal en die ark waarin die getuienis is daarmee toemaak. Hulle moet 'n seil van gebreide vel daaroor gooi, en dit met 'n groot blou doek toemaak. Dan moet hulle die draaghoute weer insteek. “'n Blou doek moet ook oor die offerbroodtafel gegooi word, en daarop moet hulle die skottels, bakke, komme en drankofferkanne sit; ook die offerbrood moet daarop gesit word. Dit moet altyd daar wees. Hulle moet 'n bloedrooi doek oor die offerbroodtafel gooi en dit met 'n seil van gebreide vel toemaak. Dan moet hulle die draaghoute insteek. “Hulle moet die kandelaar met sy lampe, pithouers, bakkies en al die oliekanne in 'n blou doek toedraai. Die kandelaar met al sy toebehore moet hulle op 'n seil van gebreide vel neersit en dit op 'n draagbaar sit. Hulle moet 'n blou doek oor die goue wierookaltaar gooi en dit dan met 'n seil van gebreide vel toemaak. Dan moet hulle die draaghoute insteek. “Hulle moet al die gereedskap neem wat vir die diens in die heiligdom nodig is, en dit op 'n blou doek sit. Dan moet hulle dit met 'n seil van gebreide vel toemaak en so op die draagbaar neersit. Hulle moet die as van die altaar afvee en dan 'n pers doek oor die altaar gooi. Al die gereedskap wat hulle vir die diens by die altaar gebruik, moet hulle op die doek neersit: al die vuurpanne, vurke, skoppe en komme, kortom, al die altaargereedskap, en dit met 'n seil van gebreide vel toemaak. Dan moet hulle die draaghoute insteek. “Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns eers die gewyde voorwerpe saam met hulle gereedskap toemaak, en dan moet die Kehatiete nader kom om dit te dra. Hulle mag nie aan die gewyde voorwerpe raak nie, want dan sal hulle sterwe. Hierdie voorwerpe van die tent van ontmoeting moet deur die Kehatiete gedra word. “Eleasar seun van die priester Aäron moet toesig hou oor die olie vir die kandelaar, die geurige wierook, die gereelde graanoffer en die salfolie. Hy moet toesig hou oor die hele tabernakel en alles wat daarin is, oor die heiligdom met sy gereedskap.” Die Here het ook nog vir Moses en Aäron gesê: “Julle moet voorsorg tref dat die Kehatgroep van Levi nie met die dood gestraf word nie. Wanneer hulle kom om die gewyde voorwerpe te dra, moet Aäron en sy seuns vir hulle presies aandui wat elkeen van hulle moet doen en dra, sodat hulle kan bly lewe en nie met die dood gestraf word nie. Die Kehatiete mag selfs nie 'n oomblik na die heiligdom kom kyk nie, want dan sal hulle sterwe.”

NUMERI 4:1-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE het met Moses en Aäron gepraat en gesê: “ Hou onder die Leviete 'n hoofdelike telling van die nageslag van Kehat, volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, van dertig jaar en ouer, tot vyftig jaar oud, elkeen wat ingaan vir diens om 'n taak te verrig in die Tent van Ontmoeting. “ Die dienswerk van die nageslag van Kehat in die Tent van Ontmoeting in verband met die allerheiligste voorwerpe is soos volg: Wanneer die kamp opgebreek word, moet Aäron en sy seuns ingaan en die voorhangsel wat as afskorting dien, afhaal en die ark met die Getuienis daarmee bedek. Hulle moet 'n sagte leerbedekking daaroor sit en 'n doek wat heeltemal pers is, daaroor gooi. Dan moet hulle die draaghoute insteek. Oor die tafel vir die vertoonbrode moet hulle ook 'n pers doek gooi. Daarop moet hulle die skottels, die bakke, die komme en die bekers vir die •drankoffers neersit. Die brood wat deurentyd op die tafel is, moet ook daar wees. Daaroor moet hulle dan 'n karmosynrooi doek gooi en dit met 'n dekkleed van sagte leer toemaak. Dan moet hulle die draaghoute insteek. Hulle moet 'n pers doek vat en dit gooi oor die menora wat lig moet verskaf, saam met sy lampe, die snuiters, die bakkies en al die oliehouers waarmee hulle by die menora take verrig. Hulle moet die menora met al sy toebehore op 'n kleed van sagte leer sit en dit op die draagbaar neerlê. Oor die goue altaar moet hulle 'n pers doek gooi en dit met 'n kleed van sagte leer toemaak. Dan moet hulle die draaghoute insteek. Hulle moet al die gereedskap neem waarmee hulle in die heiligdom take verrig, dit op 'n pers doek sit, met 'n kleed van sagte leer toemaak en op die draagbaar neerlê. Hulle moet die altaar skoonvee van vetterige as en 'n purperrooi doek daaroor gooi. Hulle moet al die gereedskap waarmee hulle by die altaar take verrig, daarop neersit: die vuurpanne, die vurke, die skoppies en offerbakke – al die gereedskap vir die altaar. Dan moet hulle 'n sagte leerbedekking daaroor gooi. Daarna moet hulle die draaghoute insteek. Aäron en sy seuns moet die heiligdom en al die heilige voorwerpe toemaak wanneer die kamp verskuif. Eers daarna kan die nageslag van Kehat kom om dit te dra. Hulle mag nie aan iets heiligs raak nie, anders sterf hulle. Dit is dan die voorwerpe in die Tent van Ontmoeting wat die nageslag van Kehat moet dra. “Die olie vir die lig, die geurige reukwerk, die gereelde •graanoffer en die salfolie staan onder die beheer van Eleasar, seun van die priester Aäron. Hy hou ook toesig oor die hele tabernakel en alles wat daarin is, oor sowel die heiligdom as sy gereedskap.” Die HERE het met Moses en Aäron gepraat en gesê: “ Moenie toelaat dat die familiegroepe van die Kehat-tak van die Leviete afgesny word nie. Dit is wat julle vir hulle moet doen, sodat hulle kan leef en nie sterf wanneer hulle die besonder heilige voorwerpe nader nie: Aäron en sy seuns moet in die tabernakel ingaan en hulle aanstel, elkeen oor sy taak en by sy drawerk. Hulle mag egter nie daar ingaan om, terwyl dit toegegooi word, na die heilige voorwerpe te kyk nie, anders sterf hulle.”

NUMERI 4:1-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die HERE het met Moses en Aäron gespreek en gesê: Neem die som van die seuns van Kehat uit die seuns van Levi, volgens hulle geslagte, volgens die huis van hulle vaders, Van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar oud, almal wat in die leër ingaan om die werk te doen in die tent van samekoms. Dit moet die diens wees van die seuns van Kehat in die tent van samekoms, oor die hoogheilige dinge: En as die laer optrek, moet Aäron en sy seuns kom, en hulle moet die deksel afneem en die ark van die Getuienis daarmee bedek. En jy moet die dekkleed van dasvelle daarop sit en 'n doek heeltemal van pers stof daaroor uitsprei en sy draaghoute insit. En oor die tafel van toonbrood moet hulle 'n pers doek uitsprei en daarop sit die skottelgoed en die lepels en die bakke en deksels om mee te bedek; en die voortdurende brood moet daarop wees. En hulle moet 'n skarlakenrooi doek daaroor uitsprei en dit met 'n dekkleed van dasvelle toemaak en sy draaghoute insteek. En hulle moet 'n pers doek neem en die kandelaar van die kandelaar en sy lampe en sy tang en sy snuffelskottels en al sy oliekanne waarmee hulle dit bedien, toemaak. En hulle moet dit en al sy voorwerpe in 'n deksel van dasvelle sit en dit op 'n staf sit. En oor die goue altaar moet hulle 'n pers doek uitsprei en dit toemaak met 'n bedekking van dasvelle en aan die draaghoute daarvan steek. En hulle moet al die bedieningsinstrumente waarmee hulle in die heiligdom dien, neem en dit in 'n pers doek sit en dit toemaak met 'n bedekking van dasvelle en dit op 'n staf sit. En hulle moet die as van die altaar afhaal en 'n purper doek daaroor uitsprei. En hulle moet al sy voorwerpe waarmee hulle dien, daarop sit, die vuurpanne, die vleishoeke en die skoppe en die komme, al die voorwerpe van die altaar; en hulle moet 'n bedekking van dasvelle daaroor uitsprei en aan die draaghoute daarvan steek. En as Aäron en sy seuns klaar gemaak het om die heiligdom en al die voorwerpe van die heiligdom te bedek soos die laer moet optrek; daarna sal die seuns van Kehat kom om dit te dra; maar hulle mag aan niks heiligs aanraak nie, sodat hulle nie sterwe nie. Hierdie dinge is die las van die seuns van Kehat in die tent van samekoms. En aan die amp van Eleasar, die seun van die priester Aäron, het die olie vir die kandelaar en die reukwerk van speserye en die daaglikse spysoffer en die salfolie en die toesig oor die hele tabernakel en oor alles wat daarin is, in die heiligdom en in sy voorwerpe. En die HERE het met Moses en Aäron gespreek en gesê: Sny die stam van die geslagte van die Kehatiete nie onder die Leviete uit nie. Maar doen so met hulle, dat hulle kan lewe en nie sterwe as hulle tot die hoogheilige dinge nader nie: Aäron en sy seuns moet ingaan en hulle elkeen aanstel vir sy diens en vir sy las. Maar hulle mag nie ingaan om te sien wanneer die heilige dinge bedek is nie, sodat hulle nie sterwe nie.

NUMERI 4:1-20 Die Boodskap (DB)

Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Tel al die Leviete tussen 30 en 50 jaar oud wat deel uitmaak van die Kehatgroep. Dit moet al die families van hierdie groep insluit, almal wat diens kan doen in die tent van aanbidding. Hulle moet werk met al die voorwerpe wat spesiaal vir my diens opsy gesit is in die tent van aanbidding. “Net voor die kamp opgebreek word, moet Aäron en sy seuns in die tabernakel ingaan en eers die voorste gordyn afhaal. Hulle moet dit dan oor die ark met die kliptafels daarin gooi. Bo-oor die gordyn moet hulle ’n seil van gebreide velle gooi. Dan moet hulle alles met ’n groot blou doek toemaak. Daarna moet hulle die pale waarmee die ark gedra word, op die regte plekke insteek. “Hulle moet ook ’n blou tafeldoek oor die tafel gooi waarop die offerbrood is wat aan die Here geoffer word. Saam met die offerbrood moet hulle ook die skottels, die bakke met die wierook, die offerbakke en die kanne met die wyn wat geoffer word, daarop neersit. “Dan moet hulle ’n bloedrooi doek oorgooi en alles met ’n seil van gebreide vel toemaak. Dan moet hulle die pale insit waarmee dit gedra word. “Hulle moet die kandelaar met sy lampe, tange, bakkies en kanne met olyfolie in ’n blou doek toedraai. Daarna moet hulle hierdie bondel in ’n gebreide leerdoek toemaak en dit op die draagbaar neersit. Dan moet hulle ’n blou doek oor die goue wierookaltaar gooi en dit met ’n gebreide leerdoek toemaak, en die pale waarmee dit gedra word, insit. “Die res van die gereedskap wat in die heiligdom gebruik word, moet dan met ’n blou doek toegedraai word. Daarna moet dit met ’n seil van gebreide vel toegedraai en op die draagbaar neergesit word. Nadat hulle al die as van die altaar afgevee het, moet hulle ’n pers doek daaroor gooi. Dan moet hulle al die gereedskap wat vir die diens by die altaar gebruik word, daarop neersit: die vuurpanne, hake, grawe en bakke. Daarna moet hulle dit met ’n seil van gebreide vel toedraai en die pale waarmee dit gedra word, insit. “Wanneer dit tyd is om die kamp te verskuif, moet Aäron en sy seuns eers al die voorwerpe wat gebruik word om die Here te dien behoorlik toemaak. Eers dan kan die Kehatiete dit kom dra na die volgende kamp toe. Hulle mag nie aan hierdie voorwerpe raak nie, anders sal hulle dadelik doodgaan. Dit is die Kehatgroep se taak wanneer die tent waar die Here aanbid word, verskuif moet word. “Aäron se seun Eleasar is verantwoordelik vir die olie vir die kandelaar, die wierook, die graanoffer wat daagliks geoffer word en die olie waarmee alles gesalf word. Eintlik is hy verantwoordelik vir die hele tabernakel.” Verder het die Here vir Moses gesê: “Julle moet seker maak dat die Kehatgroep van die Leviete nie doodgemaak word omdat hulle aan die voorwerpe geraak het wat opsy gesit is vir my diens nie. Wanneer hulle kom om hierdie voorwerpe te dra, moet Aäron en sy seuns mooi vir hulle verduidelik wat om te doen sodat hulle nie dalk aan daardie voorwerpe raak nie. Onthou, die Kehatiete mag nie eens naby die tabernakel kom terwyl die priesters die voorwerpe gereedmaak nie. Al sou hulle net vir ’n oomblik daarna kyk, sal hulle doodgaan.”

NUMERI 4:1-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het toe vir Moses en Aäron gesê: “Neem ook ’n sensus op van die Kehatiete onder die Leviete, volgens hulle afsonderlike familie- en stamgroepe. Tel almal wat tussen 30 en 50 jaar oud is, wat in die tabernakel diens kan kom doen. “Die Kehatiete sal in die tabernakel met die heel heiligste dinge werk. Wanneer julle kamp afslaan om verder te trek, moet Aäron en sy seuns die afskortingsgordyn kom afhaal en oor die ark van die verbond trek. Daar bo-oor moet hulle ’n laag gebreide vel trek en dít weer met ’n stuk blou materiaal toemaak. Dan moet hulle weer die drapale insteek. “Hulle moet dan ’n blou doek bo-oor die tafel gooi waarop die brode gesit word. Hulle moet die borde, die lepels, die bakke, die drinkbekers en die brode bo-op die doek neersit. Hulle moet dan daar bo-oor ’n rooi doek gooi en ’n stuk materiaal van gebreide bokvel bo-oor alles. Dan moet hulle die drapale weer deur die tafel se ringe steek. “Hulle moet ’n donkerblou stuk materiaal vat en die kandelaar daarmee toegooi, saam met sy ligstaanders, die snuiters en die oliehouers wat daarvoor gebruik word. Die kandelaar met sy toebehore moet dan ook in ’n gebreide vel toegedraai word. Dit moet alles op ’n draagbaar gesit word. “Bo-oor die goue wierookaltaar moet hulle ’n blou doek gooi en dit weer met ’n stuk gebreide vel bo-oor toemaak. Hulle moet dan ook sy drapale weer deursteek. Al die ander gereedskap wat by die heiligdom gebruik word, moet dan in ’n blou doek toegedraai word. Dit word weer in ’n vel gebreide leer toegedraai. Dit word dan ook op ’n draagbaar gesit. “Krap die as van die altaar af en gooi ’n rooi doek daaroor. Al die gereedskap wat by die altaar gebruik word, die vuurpanne, die hake, die grafies en die aspanne, dit alles moet bo-op die doek neergesit word en weer met ’n vel gebreide leer toegemaak word. Dan moet sy drapale weer deurgesteek word. Wanneer Aäron en sy seuns alles van die heiligdom en die dinge wat daarby hoort, klaar toegemaak het en die kamp opgebreek het, sal die Kehatiete kom om dit te dra. Hulle mag aan niks wat heilig is raak nie, anders sal hulle doodgaan. Dit is dan alles van die tabernakel wat die Kehatiete moet vervoer. “Eleasar, die priester Aäron se seun, is verantwoordelik vir die olie van die kandelaar, die geurige wierook, die daaglikse graanoffer en die salfolie. Die hele tabernakel en alles wat daarin gebruik word, is Eleasar se verantwoordelikheid.” Die HERE sê toe vir Moses en Aäron: “Julle moenie toelaat dat die Kehatiete uit die Leviete verdwyn nie. Julle moet sorg dat hulle nie sterf nie, maar bly lewe wanneer hulle die heel heiligste goed kom haal: Aäron en sy seuns moet saam met hulle kom en vir elkeen afsonderlik wys wat hy moet dra. Hulle mag nooit op hulle eie na die heilige voorwerpe kom kyk nie, want dan sal hulle sterf.”