Markus 7

7
Menslike tradisie
(Matt 15:1-20)
1Die •Fariseërs en sommige van die skrifkenners wat van Jerusalem af gekom het, het toe by Hom byeengekom. 2 Hulle merk toe dat sommige van sy dissipels brood eet met •onrein, dit is met ongewaste, hande. 3Die Fariseërs en al die Jode eet immers nie tensy hulle hulle hande deeglik gewas het nie, omdat hulle vasklou aan die tradisie van die voorouers. 4En wanneer hulle van die markplein af kom, eet hulle nie voordat hulle hulleself gewas het nie. Daar is nog baie ander oorgelewerde gebruike waaraan hulle vasklou: die was van bekers, kruike, koperhouers en eetbanke. 5Toe vra die Fariseërs en skrifkenners Hom: “Waarom tree u dissipels nie op in ooreenstemming met die tradisie van die voorouers nie, maar eet hulle brood met onrein hande?” 6En Hy antwoord hulle: “Jesaja het tereg oor julle skynheiliges geprofeteer, soos daar geskryf staan,
“ ‘Hierdie volk eer My met die lippe,
maar hulle harte is ver van My af.
7Tevergeefs vereer hulle My,
want hulle onderrig as leerstellings
die voorskrifte van mense.’
8“Julle versaak die gebod van God en klou vas aan die tradisie van mense.”
9Hy het ook vir hulle gesê: “Julle verstaan die kuns goed om die gebod van God opsy te skuif en sodoende julle tradisie te handhaaf. 10Want Moses het gesê, ‘Eer jou vader en jou moeder,’ en ‘Wie sy vader of moeder beledig, laat hy beslis doodgemaak word.’ 11Maar julle sê, ‘As 'n mens vir jou vader of moeder sê, “Watter voordeel u ook al van my sou kon ontvang, dit is korban” – dit is 'n offergawe – 12dan hoef 'n mens hoegenaamd niks meer vir sy vader of moeder te doen nie.’ 13So ontneem julle die woord van God sy gesag deur die tradisie wat julle oorgelewer het, en julle doen ook nog baie soortgelyke dinge.”
14Hy het die skare weer nader geroep en vir hulle gesê: “Luister julle almal na My en verstaan! 15Daar is niks wat van buite af in 'n mens ingaan wat jou onrein kan maak nie, maar die dinge wat uit 'n mens uitkom, dit is wat jou onrein maak.”
17En toe Hy 'n huis binnegegaan het, weg van die skare af, het sy dissipels Hom oor die gelykenis uitgevra. 18Hy sê toe vir hulle: “Is ook julle so sonder begrip? Verstaan julle nie dat niks wat van buite af in 'n mens ingaan, jou onrein kan maak nie? 19Die kos gaan immers nie na jou hart nie, maar na jou maag, en word dan in die privaat uitgewerp.” So het Hy alle kos rein verklaar. 20Maar Hy het gesê: “Wat uit 'n mens uitgaan, dit maak 'n mens onrein. 21Want van binne af, uit die hart van mense, kom slegte gedagtes, onsedelikheid, diefstal, moord, 22owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, geslepenheid, onwelvoeglikheid, jaloesie, lastering, hoogmoed, dwaasheid. 23Al hierdie slegte dinge kom van binne af en maak 'n mens onrein.”
Geloof van die Siro-Fenisiese vrou
(Matt 15:21-28)
24Hy het daarvandaan weggegaan en na die gebied van Tirus vertrek. Hy het 'n huis binnegegaan en wou nie hê dat iemand dit moes weet nie; maar Hy kon nie onopgemerk bly nie. 25En gou het daar 'n vrou wie se dogtertjie 'n onrein gees gehad het, van Hom gehoor, en voor sy voete kom neerval. 26Dit was 'n Griekse vrou, van Siro-Fenisiese afkoms. Sy het Hom gevra om die demoon uit haar dogter uit te dryf. 27Hy het vir haar gesê: “Laat die kinders eers versadig word, want dit is nie mooi om die kinders se brood te neem en vir die hondjies te gooi nie.” 28Sy antwoord Hom toe: “Here, die hondjies onder die tafel eet darem van die kindertjies se krummels.” 29Daarop sê Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, gaan huis toe! Die demoon het reeds uit jou dogter uitgegaan.” 30En toe sy by haar huis kom, kry sy die kindjie op die bed lê, en die demoon was reeds uit haar uit.
Genesing van 'n doofstom man
31Jesus het weer uit die gebied van Tirus vertrek en deur Sidon na die See van Galilea gegaan, deur die gebied van Dekapolis. 32Hulle bring toe iemand wat doof was en met 'n spraakgebrek na Hom, en smeek Hom om die man die hande op te lê. 33 Nadat Hy die man eenkant toe geneem het, weg van die skare af, het Hy sy vingers in die man se ore gesteek, gespoeg en sy tong aangeraak. 34Nadat Hy na die hemel opgekyk het, sug Hy en sê vir hom: “Effata!” dit is, ‘Gaan oop!’ 35En dadelik is sy ore geopen, die band van sy tong losgemaak, en hy kon normaal praat. 36Jesus het hulle beveel om dit aan niemand te vertel nie. Maar hoe meer Hy hulle dit beveel het, hoe meer het hulle dit uitbasuin. 37Hulle was uitermate verwonderd en het gesê: “Hy het alles goed gedoen – selfs dowes laat Hy hoor en stommes laat Hy praat.”

Tans Gekies:

Markus 7: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid