Markus 8

8
Tweede vermeerdering van brood
(Matt 15:32-39)
1 Toe daar gedurende daardie dae weer 'n groot skare was en hulle niks gehad het om te eet nie, het Jesus die dissipels nader geroep en vir hulle gesê: 2“Ek voel innig jammer vir die skare, want hulle is reeds drie dae by My en het niks om te eet nie. 3As Ek hulle honger huis toe stuur, sal hulle op pad beswyk. Sommige van hulle kom immers van ver af.” 4Sy dissipels het Hom egter geantwoord: “Waar in hierdie verlate plek sal mens brood kan kry om hulle te versadig?” 5Hy vra hulle toe: “Hoeveel brode het julle?” Hulle antwoord: “Sewe.” 6Toe beveel Hy die skare om op die grond te gaan sit. Nadat Hy die sewe brode geneem en gedank het, breek Hy dit en gee vir sy dissipels om voor te sit, en hulle het dit aan die skare voorgesit. 7Hulle het ook 'n paar vissies gehad. Nadat Hy die seëngebed daaroor uitgespreek het, het Hy gesê dat hulle ook dit moet voorsit. 8Die mense het geëet en versadig geword, en van die stukke wat oorgebly het, sewe mandjies vol opgetel. 9Daar was ongeveer vierduisend mense. Daarna het Hy hulle weggestuur. 10Hy het dadelik in 'n boot geklim en saam met sy dissipels na die streek van Dalmanuta gegaan.
Vraag vir 'n teken
(Matt 16:1-4)
11 Die •Fariseërs het na vore getree en begin om met Hom te redeneer. Om Hom te toets, het hulle Hom 'n teken uit die hemel gevra. 12Hy het in sy binneste diep gesug en gesê: “Waarom vra hierdie geslag 'n teken? •Amen, Ek sê vir julle: Aan hierdie geslag sal beslis geen teken gegee word nie.” 13Hy het hulle verlaat, weer in die skuit geklim en na die oorkant vertrek.
Suurdeeg van die Fariseërs en van Herodes
(Matt 16:5-12)
14Hulle het vergeet om brode saam te neem. Behalwe 'n brood, het hulle niks anders by hulle in die boot gehad nie. 15Jesus het hulle gewaarsku: “Pasop, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die •Fariseërs en die suurdeeg van Herodes. ”
16Hulle het toe onder mekaar bespiegel dat dit is omdat hulle nie brood het nie. 17Bewus hiervan, sê Hy vir hulle: “Waarom redekawel julle daaroor dat julle nie brood het nie? Verstaan julle nie en begryp julle nie? Het julle steeds verharde harte?
18“Het julle oë, en sien julle nie?
Het julle ore, en hoor julle nie?
“En onthou julle nie 19 toe Ek die vyf brode vir die vyfduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol stukke julle opgetel het nie?” Hulle antwoord Hom: “Twaalf.” 20 “En toe Ek die sewe brode vir die vierduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol stukke wat oorgebly het, het julle toe opgetel?” Hulle antwoord Hom: “Sewe.” 21Hy sê toe vir hulle: “Begryp julle steeds nie?”
Genesing van 'n blinde man in Betsaida
22Hulle kom toe in Betsaida aan. Die mense het 'n blinde man na Jesus gebring en Hom gesmeek om hom aan te raak. 23Toe vat Hy die blinde man aan die hand en lei hom uit die dorp uit weg. En nadat Hy op sy oë gespoeg en sy hande op hom geplaas het, vra Hy hom: “Sien jy iets?” 24Die man het opgekyk en gesê: “Ek sien die mense. Ek sien hulle rondloop soos bome.” 25Daarop sit Jesus weer sy hande oor die man se oë, en het sy oë oopgemaak, en hy was genees en kon alles duidelik sien. 26Jesus het hom huis toe gestuur en gesê: “Moenie in die dorp ingaan nie.”
Petrus se belydenis
(Matt 16:13-20; Luk 9:18-21)
27Jesus en sy dissipels het na die dorpe van Caesarea-Filippi vertrek. Op pad het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie sê die mense is Ek?” 28 Hulle antwoord Hom: “Johannes die Doper; ander sê Elia, en nog ander sê een van die profete.” 29Hy vra hulle toe: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” •Petrus antwoord Hom: “U is die Christus.” 30 Jesus het hulle toe opdrag gegee om niemand van Hom te vertel nie.
Eerste lydensaankondiging
(Matt 16:21-28; Luk 9:22-27)
31Hy het begin om hulle te leer dat die •Seun van die Mens baie moet ly, deur die familiehoofde, leierpriesters en skrifkenners verwerp en doodgemaak moet word, en ná drie dae moet opstaan. 32Hy het openlik hieroor gepraat. •Petrus het Hom eenkant toe geneem en Hom begin berispe. 33Maar Hy het omgedraai, na sy dissipels gekyk en Petrus berispe: “Gaan weg agter my, Satan! Want jy bedink nie die dinge van God nie, maar die dinge van mense.”
34Nadat Hy die skare saam met sy dissipels nader geroep het, het Hy vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg. 35 Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My en die evangelie verloor, sal dit red. 36Wat baat dit 'n mens immers as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? 37Wat sou 'n mens gee as losprys vir sy lewe? 38 Want wie hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die Mens Hom skaam wanneer Hy in die heerlikheid van sy Vader kom, saam met die heilige engele.”

Tans Gekies:

Markus 8: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid