Markus 1

1
Optrede van Johannes die Doper
(Matt 3:1-12; Luk 3:1-9,15-17; Joh 1:19-28)
1Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die •Seun van God.
2Soos daar in die profeet Jesaja geskryf staan,
“Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit –
hy sal jou pad gereedmaak.
3 'n Stem van iemand wat roep in die woestyn,
‘Maak die pad van die Here gereed,
maak sy paaie reguit!’ ” –
4so het Johannes gekom. Hy het in die woestyn gedoop en 'n doop van bekering met die oog op die vergewing van sondes verkondig. 5Die hele landstreek van Judea en almal in Jerusalem het na hom gegaan, en hulle is deur hom in die Jordaanrivier gedoop, terwyl hulle hulle sondes bely het. 6Johannes het 'n kleed van kameelhaar gedra, met 'n leergordel om sy heupe , en hy het sprinkane en wilde heuning geëet. 7 Hy het gepreek en gesê: “Ná my kom Hy wat sterker as ek is. Ek is nie eers werd om te buk en die riempies van sy sandale los te maak nie. 8Ek het julle met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.”
Doop van Jesus
(Matt 3:13-17; Luk 3:21-22)
9In daardie dae het Jesus vanaf Nasaret in Galilea gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. 10 Net toe Hy uit die water opkom, het Hy die hemel sien oopgaan en die Gees soos 'n duif op Hom sien neerdaal. 11En 'n stem het uit die hemel gekom: “Jy is my Seun, my geliefde. Oor Jou verheug Ek My!”
Jesus word versoek
(Matt 4:1-11; Luk 4:1-13)
12Direk daarna het die Gees Hom die woestyn in gedryf. 13 Hy was veertig dae lank in die woestyn, waar Hy deur Satan versoek is. Hy was saam met wilde diere, en engele het Hom versorg.
Begin van Jesus se verkondiging
(Matt 4:12-17; Luk 4:14-15)
14Nadat Johannes gevange geneem is, het Jesus na Galilea gegaan, waar Hy die evangelie van God verkondig het. 15Hy het gesê: “Die bestemde tyd is vervul, en die •koninkryk van God is op hande. Bekeer julle en glo die evangelie.”
Roeping van die eerste dissipels
(Matt 4:18-22; Luk 5:1-11)
16Terwyl Hy langs die See van Galilea loop, het Hy Simon en Andreas, die broer van Simon, nette in die see sien uitgooi, want hulle was vissers. 17Jesus sê toe vir hulle: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense laat word.” 18Hulle het onmiddellik hulle nette gelos en Hom gevolg. 19Hy het 'n entjie verder geloop en Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die boot besig was om nette heel te maak. 20Hy het hulle dadelik geroep, en hulle het hulle vader Sebedeus met die huurarbeiders in die boot agtergelaat, en weggegaan agter Hom aan.
Genesing van 'n besetene
(Luk 4:31-37)
21Hulle het in Kapernaum ingegaan, en op die Sabbat het Jesus dadelik die •sinagoge binnegegaan en begin leer. 22 Hulle was verwonderd oor sy lering, want Hy het hulle geleer soos iemand met gesag, en nie soos die skrifkenners nie. 23Juis toe was daar in hulle sinagoge 'n man in die mag van 'n •onrein gees, en hy het hard geskreeu: 24“Los ons uit, Jesus van Nasaret! Het U gekom om ons te vernietig? Ek weet wie U is – U is die •Heilige van God!” 25Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit!” 26 Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, kliphard geskreeu en uit hom uit gegaan. 27Almal was verbaas, en het daarom onder mekaar geredeneer: “Wat is dit dié – 'n nuwe gesaghebbende lering? Hy beveel selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam Hom!” 28 Die nuus oor Hom het dadelik oral in die hele omgewing van Galilea versprei.
Genesings in Simon se huis
(Matt 8:14-17; Luk 4:38-41)
29Nadat hulle uit die •sinagoge gekom het, het hulle dadelik saam met Jakobus en Johannes na die huis van Simon en Andreas gegaan. 30Simon se skoonmoeder het siek gelê met koors, en hulle het Hom dadelik van haar vertel. 31Hy het na haar gegaan, haar hand gevat en haar opgehelp. Die koors het haar verlaat en sy het hulle bedien.
32Toe dit aand word en die son reeds onder was, het hulle almal wat siek en deur demone besete was, na Hom gebring. 33Die hele dorp het by die deur saamgedrom. 34Hy het baie siekes met allerlei kwale gesond gemaak en baie demone uitgedryf. Hy het die demone nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het.
Jesus se prediking in Galilea
(Luk 4:42-44)
35 Vroegoggend, toe dit nog stikdonker was, het Hy opgestaan, buitentoe gegaan en na 'n verlate plek vertrek. Daar het Hy gebid. 36Simon en dié saam met hom het agter Hom aan gegaan. 37Toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.” 38Maar Hy sê vir hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die naburige dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.”
39 En Hy het deur die hele Galilea gegaan, in hulle •sinagoges gepreek en demone uitgedryf.
Genesing van 'n melaatse
(Matt 8:1-4; Luk 5:12-16)
40'n Melaatse kom toe na Jesus, en terwyl hy neerkniel, smeek hy Hom en sê: “As U wil, kan U my rein maak.” 41Jesus het hom innig jammer gekry, sy hand uitgesteek, hom aangeraak en vir hom gesê: “Ek wil, word rein!” 42Die melaatsheid het hom onmiddellik verlaat en hy het rein geword. 43Jesus het hom ernstig gewaarsku, hom dadelik weggestuur 44en vir hom gesê: “Sorg dat jy vir niemand iets vertel nie, maar gaan wys jouself vir die priester, en bring die offer vir jou reiniging wat Moses voorgeskryf het as bewys vir hulle.” 45Maar hy het weggegaan en begin om dit wyd en syd te vertel en die nuus te versprei. Die gevolg was dat Jesus nie openlik in 'n dorp kon ingaan nie, maar buite in verlate plekke gebly het. Steeds het mense van oral af na Hom toe bly kom.

Tans Gekies:

Markus 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid