Markus 2

2
Genesing van 'n verlamde
(Matt 9:1-8; Luk 5:17-26)
1Toe Hy ná 'n paar dae weer in Kapernaum kom, het dit bekend geword dat Hy by die huis was. 2Baie mense het daar saamgedrom, met die gevolg dat daar nie meer plek was nie, selfs nie voor die deur nie. Hy was besig om die woord aan hulle te verkondig. 3Toe kom daar mense wat 'n verlamde, gedra deur vier van hulle, na Hom bring. 4Omdat hulle hom vanweë die skare nie tot by Jesus kon bring nie, het hulle 'n deel van die dak bokant waar Hy was, opgelig, en nadat hulle dit oopgebreek het, het hulle die slaapmat waarop die verlamde gelê het, laat afsak. 5Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde man: “Kind, jou sondes word vergewe. ”
6Maar sommige van die skrifkenners het daar gesit en in hulle harte geredeneer: 7“Wie is hy dat hy so praat? Hy laster! Wie is in staat om sondes te vergewe behalwe net Een, en dit is God? ” 8Jesus het onmiddellik in sy gees geweet dat hulle so by hulleself redeneer, en het vir hulle gesê: “Waarom het julle bedenkinge in julle harte hieroor? 9Wat is makliker, om vir die verlamde te sê, ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê, ‘Staan op, tel jou slaapmat op en loop’? 10Maar sodat julle kan weet dat die •Seun van die Mens volmag het om op aarde sondes te vergewe ...” – sê Hy toe vir die verlamde: 11“Ek sê vir jou, staan op, tel jou slaapmat op en gaan na jou huis.” 12Hy het toe opgestaan, sy slaapmat dadelik opgetel en voor almal uit geloop, sodat almal verbaas was en God geprys en gesê het: “So iets het ons nog nooit gesien nie!”
Roeping van Levi
(Matt 9:9-13; Luk 5:27-32)
13Jesus het weer weggegaan na die see toe. Die hele skare het na Hom gekom, en Hy het hulle geleer. 14In die verbygaan sien Hy Levi, die seun van Alfeus, by die tolhuis sit en sê vir hom: “Volg My!” En hy het opgestaan en Hom gevolg. 15Terwyl Jesus in Levi se huis aangeleun het vir ete, het baie •tollenaars en sondaars saam met Hom en sy dissipels aangeleun, want daar was baie mense wat Hom gevolg het. 16 Toe die skrifkenners onder die •Fariseërs sien dat Hy saam met die sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gevra: “Waarom eet hy saam met die tollenaars en sondaars?” 17Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Gesonde mense het nie 'n dokter nodig nie, maar wel die siekes. Ek het nie gekom om •regverdiges te roep nie, maar sondaars.”
Vastyd en feestyd
(Matt 9:14-17; Luk 5:33-39)
18Johannes se dissipels en die •Fariseërs was besig om te vas. Hulle kom sê toe vir Hom: “Waarom vas die dissipels van Johannes en die dissipels van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie?” 19En Jesus antwoord hulle: “Die bruilofsgaste kan tog nie vas terwyl die bruidegom by hulle is nie? Solank hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. 20Daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word. Dan sal hulle vas, op daardie dag. 21Niemand werk 'n ongekrimpte stuk lap op 'n ou kledingstuk vas nie; anders skeur die nuwe stuk van die oue af, en word die skeur net groter. 22En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die wyn die leersakke laat oopbars, en sowel die wyn as die leersakke sal tot niet gaan. Nee, nuwe wyn in nuwe leersakke!”
Jesus Here oor die Sabbat
(Matt 12:1-8; Luk 6:1-5)
23Terwyl Hy op die Sabbat deur die gesaaides loop, het sy dissipels in die verbygaan begin om are te pluk. 24Die •Fariseërs sê toe vir Hom: “Kyk, waarom doen hulle op die Sabbat iets wat nie toelaatbaar is nie?” 25Hy vra toe vir hulle: “Het julle nooit gelees wat Dawid en dié saam met hom gedoen het toe hulle in nood was en honger geword het nie? 26Hoe hy in die tyd toe Abjater hoëpriester was, die huis van God binnegegaan en die •vertoonbrode geëet het – waarvan niemand behalwe die priesters mag eet nie – en ook vir dié wat saam met hom was, daarvan gegee het? ” 27Hy het ook vir hulle gesê: “Die Sabbat is gemaak vir die mens, en nie die mens vir die Sabbat nie; 28daarom is die •Seun van die Mens Here ook van die Sabbat.”

Tans Gekies:

Markus 2: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid