Matteus 28

28
Opwekking van Jesus
(Mark 16:2-11; Luk 24:1-11; Joh 20:1-2,14-18)
1Ná die Sabbat, teen dagbreek op die eerste dag van die week, het Maria Magdalena en die ander Maria gegaan om na die graf te kyk. 2Skielik was daar 'n groot aardbewing, want 'n engel van die Here het uit die hemel neergedaal, nader gegaan, die steen weggerol en daarop gaan sit. 3Sy voorkoms was soos weerlig en sy klere wit soos sneeu. 4Uit vrees vir hom het dié wat die graf bewaak, gebewe en soos dooies geword. 5Toe antwoord die engel die vroue en sê: “Moenie langer bang wees nie, want ek weet julle soek Jesus, die gekruisigde. 6Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek, soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar Hy gelê het, 7en haas julle en gaan sê vir sy dissipels, ‘Hy is opgewek uit die dood! Kyk, Hy gaan voor julle uit na Galilea – daar sal julle Hom sien. Dit het ek vir julle gesê.’ ” 8Met vrees en groot blydskap het hulle haastig van die graf af weggegaan en gehardloop om die boodskap aan sy dissipels oor te dra. 9Onverwags het Jesus hulle tegemoet gekom en gesê: “Gegroet!” Hulle gaan toe nader, gryp sy voete en aanbid Hom. 10Daarop sê Jesus vir hulle: “Moenie langer bang wees nie. Gaan sê vir my broers dat hulle na Galilea moet gaan – daar sal hulle My sien. ”
Die wagte se leuen
11Terwyl die vroue op pad was, het enkele van die wagte na die stad gegaan en alles wat gebeur het, aan die leierpriesters berig. 12Die leierpriesters het toe met die familiehoofde bymekaargekom, en 'n besluit geneem om 'n groot som geld aan die soldate te gee, 13met die opdrag: “Sê, ‘Sy dissipels het in die nag gekom en hom gesteel terwyl ons geslaap het.’ 14En as die prokurator daarvan te hore kom, sal ons hom gerusstel en sorg dat julle nie in die moeilikheid beland nie.” 15Hulle het die geld toe geneem en gemaak soos hulle voorgesê is. Hierdie storie word tot vandag toe onder die Jode versprei.
Jesus se laaste opdrag
(Mark 16:15; Luk 24:46-48; Joh 20:21; Hand 1:8)
16 Die elf dissipels het na Galilea gegaan, na die berg waarheen Jesus hulle ontbied het. 17Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, maar sommige het getwyfel. 18Jesus het nader gekom en vir hulle gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde. 19Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, 20en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd. ”

Tans Gekies:

Matteus 28: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid