Matteus 8

8
Genesing van 'n melaatse
(Mark 1:40-45; Luk 5:12-16)
1Nadat Jesus van die berg afgekom het, het 'n groot skare Hom gevolg. 2En kyk, 'n melaatse het na Hom gekom, voor Hom gekniel en gesê: “Here, as U wil, kan U my rein maak.”
3Hy het sy hand uitgesteek, hom aangeraak en gesê: “Ek wil – word rein!” En hy is onmiddellik van sy melaatsheid gereinig. 4Jesus het vir hom gesê: “Sorg dat jy dit vir niemand vertel nie, maar gaan wys jouself vir die priester en bring die offergawe wat Moses voorgeskryf het, as getuienis vir hulle. ”
Genesing van 'n slaaf
(Luk 7:1-10; Joh 4:46-53)
5 Nadat Hy in Kapernaum aangekom het, het 'n centurio Hom genader en smekend vir Hom 6gesê: “Here, my slaaf lê verlam by die huis en ly baie pyn.” 7Hy het vir hom gesê: “Ek sal gaan en hom genees.” 8Die centurio het geantwoord: “Here, ek is nie werd dat U onder my dak kom nie, maar sê net 'n woord, en my slaaf sal gesond word. 9Want ook ek is 'n man wat onder gesag staan, met soldate onder my bevel. Vir die een sê ek, ‘Gaan!’ en hy gaan, en vir 'n ander, ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek, ‘Doen dit!’ en hy doen dit.”
10Toe Hy dit hoor, was Jesus verwonderd, en Hy het vir diegene wat Hom volg, gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: By niemand in Israel het Ek so 'n groot geloof gevind nie. 11 Ek sê nou vir julle dat baie uit die ooste en die weste sal kom en saam met Abraham en Isak en Jakob aanleun om te eet in die •koninkryk van die hemele, 12maar die kinders van die koninkryk sal na die duisternis daarbuite verban word. Daar sal 'n geween wees en 'n gekners van tande. ” 13Jesus het toe vir die centurio gesê: “Gaan! Dit sal gebeur net soos jy glo.”
En sy slaaf het op daardie oomblik gesond geword.
Genesings in Petrus se huis
(Mark 1:29-34; Luk 4:38-41)
14Toe Jesus •Petrus se huis binnegaan, het Hy Petrus se skoonmoeder siek van die koors sien lê. 15Hy het haar hand gevat, en die koors het haar verlaat, en sy het opgestaan en Hom bedien.
16Teen die aand het hulle baie mense wat deur demone besete was, na Hom gebring. Hy het die geeste met 'n woord uitgedryf, en almal wat siek was, gesond gemaak, 17sodat vervul sou word wat deur die profeet Jesaja gesê is:
“Hy het ons krankhede weggeneem,
en ons siektes het Hy gedra.”
Navolging van Jesus
(Luk 9:57-60)
18Toe Jesus die skare rondom Hom sien, het Hy opdrag gegee dat hulle na die oorkant vertrek.
19'n Sekere skrifkenner het toe nader gekom en vir Hom gesê: “Meester, ek sal U volg waar U ook al gaan.” 20Maar Jesus antwoord hom: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die •Seun van die Mens het geen plek waar Hy sy kop kan neerlê nie. ”
21Iemand anders, een van sy dissipels, het vir Hom gesê: “Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe. ” 22Maar Jesus sê vir hom: “Volg My, en laat die dooies hulle eie dooies begrawe.”
Stilmaak van die storm
(Mark 4:35-41; Luk 8:22-25)
23Jesus het in die boot geklim en sy dissipels het Hom gevolg. 24Skielik bars daar 'n hewige storm op die see los, sodat die golwe die boot oorspoel het. Maar Hy het geslaap. 25Hulle het Hom gaan wakker maak en uitgeroep: “Here, red ons! Ons vergaan!” 26Maar Hy het vir hulle gesê: “Hoekom is julle bang, kleingelowiges?” Toe staan Hy op en bestraf die wind en die see. En alles het baie kalm geword. 27Die mense was verwonderd en het gesê: “Watter soort mens is dit dié dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”
Bevryding van twee besetenes
(Mark 5:1-17; Luk 8:26-37)
28Toe Hy aan die oorkant kom, in die gebied van die Gadareners, het twee manne, deur demone besete, uit die rotsgrafte gekom en Hom tegemoet gegaan. Hulle was baie gevaarlik, sodat niemand met daardie pad langs verby kon reis nie. 29Skielik het hulle begin skreeu: “Los ons uit, •Seun van God! Het U voortydig hierheen gekom om ons te pynig?”
30'n Hele ent van hulle af het 'n groot trop varke gewei. 31Die demone het Hom gesmeek: “As U ons uitdryf, stuur ons in die trop varke in!” 32En Hy het vir hulle gesê: “Gaan!” Hulle het toe uitgevaar en weggegaan in die varke in. En kyk, die hele trop het op loop gesit teen die helling af, die see in, en versuip.
33Die wagters het op die vlug geslaan, en in die dorp alles gaan vertel, ook wat met die besetenes gebeur het. 34En kyk, die hele dorp het uitgegaan om Jesus te ontmoet; en toe hulle Hom sien, het hulle Hom gesmeek om uit hulle gebied weg te gaan.

Tans Gekies:

Matteus 8: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid