Matteus 9

9
Genesing van 'n verlamde
(Mark 2:1-12; Luk 5:17-26)
1Jesus het in die boot geklim, na die oorkant gevaar en in sy tuisdorp aangekom. 2En kyk, hulle het 'n verlamde man wat op 'n slaapmat lê, na Hom gebring. En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Hou moed, kind, jou sondes word vergewe. ” 3Hierop het sommige van die skrifkenners onder mekaar gesê: “Hierdie man laster.” 4En omdat Jesus geweet het wat hulle dink, het Hy gesê: “Hoekom bedink julle bose dinge in julle harte? 5Wat is makliker, om te sê, ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê, ‘Staan op en loop’? 6Maar sodat julle kan weet dat die •Seun van die Mens volmag het om op aarde sondes te vergewe ...” – sê Hy toe vir die verlamde: “Staan op, tel jou slaapmat op en gaan na jou huis.” 7En hy het opgestaan en na sy huis gegaan.
8Toe die skare dit sien, is hulle met diep ontsag vervul, en hulle het God, wat sulke gesag aan mense gee, geprys.
Roeping van Matteus
(Mark 2:13-17; Luk 5:27-32)
9Toe Jesus van daar af verder gaan, sien Hy 'n man met die naam Matteus by die tolhuis sit en sê vir hom: “Volg My!” En hy het opgestaan en Hom gevolg.
10 Toe Hy in die huis vir ete aanleun, het daar onverwags ook baie •tollenaars en sondaars opgedaag en saam met Jesus en sy dissipels vir ete aangeleun. 11Die •Fariseërs het dit gesien en vir sy dissipels gevra: “Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?”
12Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Gesonde mense het nie 'n dokter nodig nie, maar wel die siekes. 13Gaan leer wat beteken, ‘Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie.’ Ek het immers nie gekom om •regverdiges te roep nie, maar sondaars.”
Vastyd en feestyd
(Mark 2:18-22; Luk 5:33-39)
14Toe het Johannes se dissipels na Jesus gekom en gesê: “Waarom vas ons en die •Fariseërs gereeld, maar u dissipels vas nie? ” 15Jesus het hulle geantwoord: “Die bruilofsgaste kan tog nie treur terwyl die bruidegom by hulle is nie? Maar daar kom 'n tyd wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word, en dan sal hulle vas.
16“Niemand werk 'n ongekrimpte stuk lap op 'n ou kledingstuk vas nie; want die lap trek los van die kledingstuk, en 'n groter skeur ontstaan.
17“'n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou leersakke nie; anders bars die sakke oop, die wyn loop uit en die sakke gaan tot niet. Nee, 'n mens gooi nuwe wyn in nuwe leersakke, en beide bly behoue.”
Genesing van 'n vrou en opwekking van 'n dogter
(Mark 5:21-43; Luk 8:40-56)
18Hy was nog besig om dié dinge aan hulle te sê, en kyk, daar kom 'n sekere leier aan, kniel voor Hom en sê: “My dogter het pas gesterf, maar kom lê u hand op haar, en sy sal leef.” 19Jesus het opgestaan en hom gevolg, en sy dissipels ook.
20Daar het toe skielik 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, van agter af nader gekom en die soom van sy bokleed aangeraak. 21Want, het sy vir haarself gesê: “As ek tog net sy bokleed kan aanraak, sal ek gesond word.” 22Jesus het omgedraai, haar gesien en gesê: “Hou moed, dogter, jou geloof het jou gered. ” En van daardie oomblik af was die vrou gesond.
23Toe Jesus by die huis van die leier kom en die fluitspelers sien en die klomp mense wat luidrugtig huil, 24het Hy gesê: “Gaan weg, want die dogtertjie het nie gesterf nie, maar slaap net. ” Hulle het Hom egter uitgelag. 25Toe die klomp mense uitgejaag is, het Hy ingegaan en haar aan die hand geneem en die dogtertjie het opgestaan.
26Die nuus hieroor het deur die hele omgewing versprei.
Genesing van twee blindes
(Matt 20:29-34)
27 Toe Jesus van daar af verder gaan, het twee blindes agter Hom begin aanloop en uitgeroep: “Ontferm U oor ons, •Seun van Dawid!” 28Nadat Jesus die huis binnegegaan het, het die blindes na Hom gekom, en Jesus het vir hulle gesê: “Glo julle dat Ek dit kan doen?” Hulle antwoord Hom: “Ja, Here.” 29Toe het Jesus hulle oë aangeraak en gesê: “Laat met julle gebeur soos julle glo.” 30En hulle oë is geopen. Jesus het hulle ernstig aangespreek en gesê: “Sorg dat niemand hiervan weet nie.” 31Maar hulle het uitgegaan en die nuus oor Hom in daardie hele omgewing versprei.
Genesing van 'n stomme
(Matt 12:22-24)
32Hulle het toe vertrek, en kyk, 'n man wat stom was, en deur 'n demoon besete, is na Hom gebring. 33Nadat die demoon uitgedryf is, het die stomme begin praat. Die skare was verwonderd en het gesê: “So iets is nog nooit in Israel gesien nie.” 34 Maar die •Fariseërs het gesê: “Deur die aanvoerder van die demone dryf Hy die demone uit.”
35 Jesus het in al die stede en dorpies rondgegaan, in hulle •sinagoges geleer, die evangelie van die •koninkryk verkondig, en elke siekte en elke kwaal genees.
Die groot oes
36Toe Hy die skare sien, het Hy hulle innig jammer gekry, omdat hulle verward en verstrooi was, soos skape sonder 'n herder. 37 Toe sê Hy vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. 38Bid daarom die Here van die oes dat Hy arbeiders uitstuur om sy oes in te samel.”

Tans Gekies:

Matteus 9: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid