Matteus 6

6
Bergrede: Oor liefdadigheid
1“Wees op julle hoede dat julle nie julle •geregtigheid voor die mense beoefen om deur hulle gesien te word nie, anders is daar vir julle geen beloning by julle Vader in die •hemele nie.
2“Wanneer jy liefdadigheid beoefen, moet dit nie uitbasuin soos die skynheiliges in die •sinagoges en in die strate maak, sodat hulle deur mense geëer kan word nie. •Amen, Ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning ontvang. 3Maar wanneer jy liefdadigheid beoefen, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, 4sodat jou liefdesdaad verborge kan bly. En jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”
Bergrede: Oor gebed
(Luk 11:2-4)
5“En wanneer julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie, want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid, sodat hulle deur die mense gesien kan word. •Amen, Ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning ontvang. 6Maar jy, wanneer jy bid, gaan na jou binneste kamer, maak jou deur toe en bid tot jou Vader wat in die verborgenheid is, en jou Vader wat in die verborgenheid sien, sal jou beloon.
7“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed woorde gebruik nie, want hulle dink dat hulle op grond van hulle baie woorde verhoor sal word. 8Moenie soos hulle wees nie, want julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle Hom vra.
9“Só moet julle dan bid:
“Ons Vader wat in die •hemele is,
laat u Naam geheilig word.
10Laat u koninkryk kom.
Laat u wil geskied,
soos in die hemel, so ook op die aarde.
11Gee ons vandag ons daaglikse brood.
12 En vergeef ons ons skulde,
soos ook ons hulle vergeef
wat teenoor ons skuldig staan.
13En bring ons nie in versoeking nie,
maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. •Amen.
14 “Want as julle die mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. 15 Maar as julle die mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”
Bergrede: Oor vas
16“Wanneer julle vas, moenie soos die skynheiliges met hulle lang gesigte wees nie, want hulle trek hulle gesigte, sodat die mense kan sien dat hulle vas. •Amen, Ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning ontvang. 17Maar wanneer jy vas, salf jou kop met olie en was jou gesig, 18sodat jy nie die mense nie, maar net jou Vader, wat in die verborgenheid is, laat sien dat jy vas. En jou Vader, wat in die verborgenheid sien, sal jou beloon.”
Bergrede: Die ware skat
(Luk 12:33-34; 11:34-36; 16:13; 12:22-32)
19“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie, daar waar mot en roes verniel, en waar diewe inbreek en steel. 20Maar maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, daar waar mot en roes nie verniel nie, en waar diewe nie inbreek en steel nie. 21Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.
22“Die oog is die lamp van die liggaam. As jou oog suiwer is, sal jou hele liggaam verlig wees. 23Maar as jou oog boos is, sal jou hele liggaam donker wees. As die lig in jou donker is, hoe groot is die duisternis nie!
24“Niemand kan twee base dien nie. Want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.
25“Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor wat julle sal drink, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Is die lewe dan nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? 26Let op die voëls van die hemel: Hulle saai nie en hulle maai nie, en hulle versamel niks in skure nie. Tog sorg julle hemelse Vader vir hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie? 27Wie van julle kan deur hom te bekommer, een el by sy lewe voeg? 28En waarom is julle oor klere bekommerd? Let op die wilde narsings, hoe hulle groei. Hulle swoeg nie en hulle spin nie. 29Maar Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy prag was nie soos een van hulle geklee nie. 30As God die gras van die veld, wat vandag daar staan en môre in 'n oond gegooi word, so klee, hoeveel te meer nie vir julle nie, kleingelowiges?
31“Moet julle daarom nie bekommer en vra, ‘Wat sal ons eet?’ of ‘Wat sal ons drink?’ of ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. 32Dit is immers alles dinge waarna die heidennasies soek. Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het. 33 Maar soek eers die •koninkryk van God en sy •geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. 34Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre sal hom oor homself bekommer. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.”

Tans Gekies:

Matteus 6: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid