Matteus 5:13-42

Matteus 5:13-42 AFR20

“Julle is die sout vir die aarde, maar as die sout sy smaak verloor het, waarmee sal dit weer sout gemaak word? Dit deug vir niks meer nie, behalwe om buite gegooi te word sodat dit deur die mense vertrap kan word. “Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie. Mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder 'n maatemmer nie, maar op 'n lampstaander, en so gee dit lig vir almal in die huis. “Laat julle lig só voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik.” “Moenie eers daaraan dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profete af te skaf nie. Ek het nie gekom om af te skaf nie, maar om te vervul. •Amen, Ek sê vir julle: Totdat die hemel en die aarde tot niet gaan, sal daar beslis geen jota of tittel van die Wet tot niet gaan nie, totdat alles vervul is. “Wie dus een van die geringste van hierdie gebooie afskaf en die mense so leer, sal die geringste in die •koninkryk van die hemele genoem word. Maar wie dit onderhou en ander daarin onderrig, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. Want Ek sê vir julle, as julle •geregtigheid nie aansienlik meer is as dié van die skrifkenners en die •Fariseërs nie, sal julle beslis nie die koninkryk van die hemele binnegaan nie. “Julle het gehoor dat daar aan die voorouers gesê is, ‘Jy mag nie moord pleeg nie, en wie moord pleeg, is strafbaar voor die reg.’ Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat kwaad is vir sy broer, strafbaar voor die reg is. En wie vir sy broer sê, ‘Raka!’ is strafbaar voor die Sanhedrin. En wie sê, ‘Jou dwaas!’ is strafbaar in Gehenna met sy vuur. “En wanneer jy jou offergawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat jou offergawe net daar by die altaar en gaan versoen jou eers met jou broer, en gaan gee dan jou offergawe. “Los 'n geskil met jou teenstander gou op, terwyl jy nog saam met hom op pad is, sodat die teenstander jou nie aan die regter oorlewer en die regter jou aan die hofdienaar oorlewer en jy in die tronk gegooi word nie. •Amen, Ek sê vir jou: Jy sal beslis nie daar uitkom voordat jy die laaste kwadrant betaal het nie. “Julle het gehoor dat daar gesê is, ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle, elkeen wat na 'n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. “As jou regteroog jou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou af weg. Want dit is voordeliger vir jou dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in Gehenna gegooi word. En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit van jou weg. Want dit is voordeliger vir jou dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in Gehenna beland. “Daar is gesê, ‘Wie van sy vrou skei, moet aan haar 'n skeibrief gee.’ Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe weens owerspel, veroorsaak dat sy egbreuk pleeg, en wie met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk. “Verder het julle gehoor dat daar vir die voorouers gesê is, ‘Jy mag nie 'n eed verbreek nie, maar jy moet jou geloftes aan die Here nakom.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet hoegenaamd nie sweer nie – nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank vir sy voete is; nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad van die groot Koning is. Jy moet ook nie by jou eie kop sweer nie, want jy kan nie een van jou hare wit of swart maak nie. Laat die woord ‘ja’ by julle werklik ‘ja’ wees, en julle ‘nee’ ‘nee’. Meer as dit is uit die bose. “Julle het gehoor dat daar gesê is, ‘'n oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand’. Maar Ek sê vir julle dat julle nie 'n slegte mens moet teengaan nie. Nee, as iemand jou op jou regterwang klap, draai ook die ander een vir hom. En as iemand jou voor die hof wil daag en jou onderkleed wil vat, gee hom ook die bokleed. En as iemand een myl van jou afdwing, loop twee myl met hom saam. Gee aan wie van jou iets vra, en moet die een wat van jou wil leen, nie wegwys nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid