Matteus 3

3
Optrede van Johannes die Doper
(Mark 1:2-8; Luk 3:1-9,15-17; Joh 1:19-28)
1In daardie tyd het Johannes die Doper in die openbaar begin optree en in die woestyn van Judea verkondig: 2 “Bekeer julle, want die •koninkryk van die hemele is op hande.”
3Hy was immers die een van wie die profeet Jesaja gepraat het toe hy gesê het:
“'n Stem van iemand wat roep
in die woestyn,
‘Maak die pad vir die Here gereed,
maak sy paaie reguit!’ ”
4Hierdie Johannes het 'n kleed van kameelhaar gedra, met 'n leergordel om sy heupe, en sy kos was sprinkane en wilde heuning.
5In dié tyd het daar inwoners van Jerusalem, die hele Judea en die hele Jordaanomgewing na hom gegaan, 6en hulle is deur hom in die Jordaanrivier gedoop, terwyl hulle hulle sondes bely het.
7Maar toe hy sien dat baie van die •Fariseërs en •Sadduseërs kom na waar hy gedoop het, het hy vir hulle gesê: “Addergeslag, wie het julle wysgemaak dat julle aan die dreigende oordeel kan ontkom? 8Dra liewer vrugte wat by die bekering pas. 9En moenie eers oorweeg om by julleself te sê, ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want ek sê vir julle, God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. 10Die byl lê reeds teen die wortel van die boom. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 11Ek doop julle wel met water met die oog op bekering, maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, en ek is nie eers werd om sy sandale vir Hom aan te dra nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 12Sy hooivurk is in sy hand. Hy sal sy dorsvloer deeglik skoonmaak en sy koring in die skuur versamel, maar die kaf sal Hy met 'n onblusbare vuur verbrand.”
Doop van Jesus
(Mark 1:9-11; Luk 3:21-22; Joh 1:29-34)
13Toe het Jesus van Galilea af by die Jordaan aangekom. Hy het na Johannes gegaan om deur hom gedoop te word. 14Maar Johannes het Hom probeer teengaan met die woorde: “Ek behoort deur U gedoop te word, en U kom na my?” 15Jesus het hom geantwoord: “Laat dit nou toe, want dit is goed dat ons op hierdie manier alle •geregtigheid vervul.” Johannes het toe ingestem.
16Nadat Jesus gedoop is, het Hy dadelik uit die water opgestaan. Meteens het die hemele vir Hom oopgegaan en Hy het die Gees van God soos 'n duif op Hom sien neerdaal. 17En meteens het 'n stem uit die hemele gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.”

Tans Gekies:

Matteus 3: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid