Matteus 4

4
Versoeking van Jesus
(Mark 1:12-13; Luk 4:1-13)
1Hierna is Jesus deur die Gees die woestyn ingelei om deur die Duiwel versoek te word. 2Veertig dae en veertig nagte lank het Hy gevas, en later honger geword. 3Toe het die versoeker nader gekom en vir Hom gesê: “As u die •Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode moet word.” 4Maar Hy antwoord: “Daar staan geskryf,
“ ‘Van brood alleen
sal die mens nie leef nie,
maar van elke uitspraak
wat uit die mond van God kom.’ ”
5Toe neem die Duiwel Jesus na die heilige stad en laat Hom op die hoogste punt van die tempelgeboue staan 6en sê vir Hom: “As u die Seun van God is, spring hier af! Daar staan immers geskryf,
“ ‘Hy sal sy engele opdrag oor jou gee –
op hulle hande sal hulle jou dra,
sodat jy nie dalk teen 'n klip
jou voet stamp nie.’ ”
7Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskryf,
“ ‘Jy mag die Here jou God
nie versoek nie.’ ”
8Hierna neem die Duiwel Hom na 'n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in hulle prag, 9en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir u gee as u neerkniel en my aanbid. ” 10Toe sê Jesus vir hom: “Gaan weg, Satan! Want daar staan geskryf,
“ ‘Die Here jou God moet jy aanbid
en Hom alleen dien.’ ”
11Toe het die Duiwel Hom met rus gelaat, en kyk, daar het engele gekom en Hom versorg.
Begin van Jesus se verkondiging
(Mark 1:14-15; Luk 4:14-15)
12Toe Jesus hoor dat Johannes in hegtenis geneem is, het Hy na Galilea teruggekeer. 13Hy het Nasaret verlaat en in Kapernaum by die see gaan woon, in die gebied van Sebulon en Naftali, 14sodat die woorde vervul sou word wat deur die profeet Jesaja gesê is:
15 “Land van Sebulon
en land van Naftali,
die pad langs die see,
oorkant die Jordaan,
Galilea van die heidene:
16 Die volk wat in duisternis woon
het 'n groot lig gesien;
vir hulle wat in die gebied
en die skadu van die dood leef,
het 'n lig opgegaan.”
17Van toe af het Jesus met sy verkondiging begin en gesê: “Bekeer julle, want die •koninkryk van die hemele is op hande.”
Roeping van die eerste dissipels
(Mark 1:16-20; Luk 5:1-11; Joh 1:40-42)
18Terwyl Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy twee broers gesien, Simon, wat •Petrus genoem word, en Andreas, sy broer. Hulle was besig om 'n treknet in die see uit te gooi, want hulle was vissers. 19Hy sê vir hulle: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak!” 20Hulle het onmiddellik hulle nette gelos en Hom gevolg.
21Hy het van daar af verder geloop en twee ander broers gesien: Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was saam met hulle vader Sebedeus in die boot besig om hulle nette heel te maak, en Hy het hulle geroep. 22Hulle het onmiddellik die boot en hulle vader verlaat en Hom gevolg.
Genesing en onderrig in Galilea
(Mark 3:7-8; Luk 6:17-19)
23 En Jesus het in die hele Galilea rondgegaan, in hulle •sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig, en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees. 24 Die nuus oor Hom het deur die hele Sirië versprei. Hulle het almal wat ongesteld was, dié wat deur allerlei siektes en pyne geteister is, na Hom gebring, ook almal wat deur demone besete en maansiek was, en verlamdes – en Hy het hulle genees. 25 Groot skares het Hom gevolg, uit Galilea en Dekapolis en Jerusalem en Judea en van oorkant die Jordaan af.

Tans Gekies:

Matteus 4: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid