Matteus 21

21
Intog in Jerusalem
(Mark 11:1-11; Luk 19:28-38; Joh 12:12-19)
1Toe hulle Jerusalem nader en by Betfage teen die Olyfberg kom, stuur Jesus twee dissipels 2met die opdrag: “Gaan na die dorpie daar voor julle, en julle sal dadelik 'n vasgemaakte donkie vind met 'n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. 3En as iemand vir julle iets sê, moet julle antwoord, ‘Die Here het hulle nodig’. Dan sal hy hulle dadelik laat gaan.” 4Dit het gebeur, sodat vervul sou word wat deur die profeet gesê is:
5“Sê vir die dogter van Sion:
Kyk, jou Koning kom na jou toe:
Hy is sagmoedig en Hy sit op 'n donkie,
en op 'n jong donkie,
die vul van 'n pakdier. ”
6Die dissipels het vertrek en gemaak soos Jesus hulle beveel het. 7Hulle het die donkie en die vul geneem, boklere op hulle neergesit, en Hy het daarop gaan sit. 8Die groot skare het hulle boklere op die pad oopgesprei, en ander weer het takke van die bome afgekap en op die pad oopgesprei. 9Die skare wat voor Hom uit geloop en dié wat gevolg het, het uitgeroep:
“Hosanna vir die •Seun van Dawid!
Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!
Hosanna in die hoogste!”
10Toe Hy Jerusalem binnegaan, was die hele stad in rep en roer, en hulle het gevra: “Wie is hierdie man?” 11Die skare het gesê: “Dit is die profeet Jesus, die Een van Nasaret, in Galilea.”
Reiniging van die tempelterrein
(Mark 11:15-17; Luk 19:45-46; Joh 2:13-16)
12Jesus het die tempelterrein binnegegaan en almal wat op die tempelterrein aan die koop en verkoop was, uitgejaag. Hy het die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi 13en vir hulle gesê: “Daar staan geskryf,
‘My huis sal 'n huis van gebed
genoem word’.
Maar julle het daarvan
'n rowerspelonk gemaak!”
14Blindes en verlamdes het daar op die tempelterrein na Hom gekom, en Hy het hulle gesond gemaak. 15Toe die leierpriesters en skrifkenners die wonderbaarlike dinge sien wat Hy doen, en ook die kinders wat op die tempelterrein uitroep, “Hosanna vir die •Seun van Dawid!” was hulle verontwaardig 16en het vir Hom gesê: “Hoor jy wat sê hierdie kinders?” Maar Jesus antwoord hulle: “Ja, het julle nog nooit gelees nie, ‘Uit die mond van kleuters en suigelinge het U lof vir U laat opklink’?” 17Hy het hulle verlaat, uit die stad uit na Betanië gegaan, en daar oornag.
Vervloeking van die vyeboom
(Mark 11:12-14,20-24)
18Vroegoggend, op pad terug na die stad, het Hy honger geword. 19Toe Hy 'n enkele vyeboom langs die pad sien, het Hy daarheen geloop, maar niks daaraan gevind nie, net blare. Toe sê Hy vir die vyeboom: “Mag jy tot in ewigheid nooit weer vrug dra nie!” Die vyeboom het onmiddellik verdroog. 20Toe die dissipels dit sien, was hulle verbaas en vra: “Hoe het die vyeboom so skielik verdroog?” 21 Jesus het hulle geantwoord: “•Amen, Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie net kan doen wat met die vyeboom gebeur het nie, maar selfs as julle vir hierdie berg sê, ‘Tel jouself op en werp jou in die see!’ sal dit gebeur. 22 Alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.”
Vraag oor Jesus se gesag
(Mark 11:27-33; Luk 20:1-8)
23Hy het na die tempelterrein gegaan, en terwyl Hy besig was om onderrig te gee, het die leierpriesters en die familiehoofde van die volk na Hom gekom en gevra: “Op watter gesag doen jy hierdie dinge? En wie het aan jou hierdie gesag gegee?” 24Jesus het hulle geantwoord: “Ook Ek sal julle net een vraag vra, en as julle My kan antwoord, sal Ek op my beurt vir julle sê op watter gesag Ek hierdie dinge doen: 25Die doop van Johannes, waar het dit vandaan gekom? Van die hemel of van mense? ” Hulle het toe onder mekaar geredeneer: “As ons sê, ‘van die hemel’, sal Hy vir ons sê, ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ 26Maar as ons sê, ‘van mense ...’ – ons is bang vir die skare, want almal beskou Johannes as 'n profeet. ” 27Hulle het Jesus geantwoord: “Ons weet nie.” Toe sê Hy vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”
Gelykenis van twee kinders
28“Wat dink julle? 'n Man het twee kinders gehad. Hy gaan toe na die eerste een en sê, ‘My kind, gaan werk vandag in die wingerd. ’ 29Maar hy antwoord, ‘Nee, ek wil nie.’ Later het hy egter spyt gekry en tog gegaan. 30Die man het toe na die ander kind gegaan en dieselfde gesê. Hy het geantwoord, ‘Ek sal, heer,’ maar hy het nie gegaan nie. 31Wie van die twee het die wil van hulle vader gedoen?” Hulle sê: “Die eerste een.” Jesus sê vir hulle: “•Amen, Ek sê vir julle, die •tollenaars en prostitute sal voor julle in die •koninkryk van God ingaan. 32Want Johannes het na julle gekom met die pad van •geregtigheid, en julle het hom nie geglo nie, maar die tollenaars en prostitute het hom geglo. En hoewel julle dit gesien het, het julle tog nie later berou gekry en hom geglo nie. ”
Gelykenis van die huurders
(Mark 12:1-12; Luk 20:9-19)
33 “Luister na 'n ander gelykenis. Daar was 'n grondeienaar wat 'n wingerd aangeplant het. Hy het dit omhein, 'n parskuip daarin gegrawe en 'n wagtoring gebou. Toe het hy dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan. 34Toe die oestyd aanbreek, het hy sy slawe na die landbouers gestuur om sy opbrengs te ontvang. 35Maar die landbouers het sy slawe gegryp, een afgeransel, 'n ander een doodgemaak, en nog een gestenig. 36Hy het weer ander slawe gestuur, nog meer as die eerstes, en hulle het dieselfde met hulle gedoen. 37Uiteindelik het hy sy seun na hulle gestuur, met die gedagte, ‘Hulle sal my seun met respek behandel.’ 38Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê, ‘Dit is die erfgenaam dié! Kom ons maak hom dood, en kry sy erfdeel in die hande.’ 39 Hulle het hom toe gegryp, uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak. 40Wanneer die eienaar van die wingerd kom, wat sal hy met daardie landbouers maak?” 41Hulle sê vir Hom: “Hy sal daardie slegte mense 'n aaklige dood laat sterf, en die wingerd aan ander landbouers verhuur wat aan hom die opbrengs op die regte tyd sal lewer.” 42Jesus sê vir hulle: “Het julle nog nooit in die Skrifte gelees nie:
“ ‘Die klip wat die bouers afgekeur het,
juis dit het die hoeksteen geword.
Van die Here het dit gekom,
en dit is wonderlik in ons oë.’
43“Daarom sê Ek vir julle: Die •koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan 'n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal lewer. 44 Wie op hierdie klip val, sal verpletter word; en as dit op iemand val, sal dit hom vergruis.”
45Toe die leierpriesters en die •Fariseërs Jesus se gelykenisse hoor, het hulle besef dat Hy van hulle praat. 46Hulle wou Hom gevange neem, maar was bang vir die skare, omdat dié Hom as 'n profeet beskou het.

Tans Gekies:

Matteus 21: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid