Matteus 15

15
Menslike tradisie
(Mark 7:1-23)
1Toe kom daar •Fariseërs en skrifkenners uit Jerusalem by Jesus aan en sê: 2“Hoekom oortree u dissipels die tradisie van die voorouers? Want hulle was nie hulle hande wanneer hulle gaan eet nie. ” 3Hy het hulle egter geantwoord: “Hoekom oortree ook julle die gebod van God met julle tradisie? 4God het tog gesê, ‘Eer jou vader en moeder,’ en ‘Wie sy vader of moeder beledig, laat hy beslis doodgemaak word.’ 5Maar julle sê, ‘Wie vir sy vader of moeder sê, Watter voordeel u ook al van my sou kon ontvang, is 'n offergawe, 6hoef sy vader hoegenaamd nie te eer nie.’ So het julle deur julle tradisie die woord van God kragteloos gemaak. 7Skynheiliges, Jesaja het tereg oor julle geprofeteer,
8 “ ‘Hierdie volk eer My met die lippe,
maar hulle harte is ver van My af;
9tevergeefs vereer hulle My,
want hulle onderrig as leerstellings die voorskrifte van mense.’ ”
10Jesus het die skare nader geroep en vir hulle gesê: “Luister en verstaan dan: 11Dit is nie wat by die mond ingaan wat 'n mens •onrein maak nie; maar wat by die mond uitgaan, dit maak 'n mens onrein. ” 12Toe die dissipels nader kom, sê hulle vir Hom: “Weet U dat die Fariseërs aanstoot geneem het toe hulle dié uitspraak hoor?” 13Hy het egter geantwoord: “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal met wortel en al uitgetrek word. 14Los hulle – hulle is blinde leiers van blindes; en as 'n blinde 'n blinde lei, sal albei in die sloot val. ” 15•Petrus het Hom gevra: “Verduidelik hierdie gelykenis vir ons.” 16Hy het gesê: “Is ook julle nog steeds sonder begrip? 17Verstaan julle nie dat alles wat by die mond ingaan, in die maag beland en in die privaat uitgewerp word nie? 18Maar wat by die mond uitgaan, kom uit die hart, en daardie dinge maak die mens onrein. 19 Uit die hart kom daar immers bose gedagtes, moord, owerspel, onsedelikheid, diefstal, valse getuienis en lastering. 20Dit is die dinge wat 'n mens onrein maak; maar om met ongewaste hande te eet, maak die mens nie onrein nie.”
Geloof van die Kanaänitiese vrou
(Mark 7:24-30)
21Jesus het daarvandaan vertrek en na die streke van Tirus en Sidon gegaan. 22En skielik het 'n Kanaänitiese vrou uit daardie omgewing vorentoe gekom en hard uitgeroep: “Ontferm U oor my, Here, •Seun van Dawid! My dogter word geweldig geteister deur 'n demoon.” 23Hy het haar egter glad nie geantwoord nie. Sy dissipels het nader gekom en Hom versoek: “Stuur haar weg, want sy hou aan skreeu agter ons aan.” 24Hy het geantwoord: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel. ” 25Sy het egter nader gekom, voor Hom neergeval en gesê: “Here, help my!” 26Hy het geantwoord: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te neem en vir die hondjies te gooi nie.” 27Maar sy het gesê: “Ja, Here, en tog eet die hondjies van die krummels wat van hulle eienaars se tafel val. ” 28Toe het Jesus haar geantwoord: “O vrou, groot is jou geloof! Laat dit vir jou wees soos jy wil hê. ” En haar dogter was van daardie oomblik af genees.
Genesing van baie siekes
(Mark 7:31-37)
29Jesus het daarvandaan vertrek en al langs die See van Galilea geloop. Daarna het Hy teen die berg opgegaan en daar gaan sit. 30'n Groot skare het na Hom gekom met verlamdes, blindes, kreupeles, doofstommes en baie ander saam met hulle. Hulle het dié mense by sy voete neergelê, en Hy het hulle gesond gemaak, 31sodat die skare vol verwondering was toe hulle sien dat doofstommes praat, kreupeles gesond word, verlamdes loop en blindes sien. En hulle het die God van Israel verheerlik.
Tweede vermeerdering van brood
(Mark 8:1-10)
32Daarop het Jesus sy dissipels nader geroep en gesê: “Ek voel innig jammer vir die skare, want hulle is reeds drie dae by My en het niks om te eet nie. Ek wil hulle nie honger wegstuur nie, anders kan hulle onderweg beswyk.” 33 Maar die dissipels sê vir Hom: “Waar kry ons in hierdie verlate plek genoeg brood om so 'n groot skare te voed? ” 34 Jesus sê vir hulle: “Hoeveel brode het julle?” Hulle antwoord: “Sewe, en 'n paar vissies.”
35En nadat Hy die skare beveel het om op die grond te gaan sit, 36het Hy die sewe brode en die visse geneem, gedank, dit gebreek en vir die dissipels gegee, en die dissipels weer vir die skare. 37Hulle het almal geëet en versadig geword. Hulle het van die stukke wat oorgebly het, sewe mandjies vol opgetel. 38 Afgesien van die vroue en kindertjies, was daar vierduisend mans wat geëet het. 39Nadat Hy die skare weggestuur het, het Hy in die boot geklim en na die gebied van Magadan gegaan.

Tans Gekies:

Matteus 15: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid