Maleagi 2

2
1Daarom dan, vir julle geld hierdie beslissing, priesters: 2 “As julle nie luister nie, en dit nie ter harte neem om my Naam te eer nie,” sê die Here, Heerser oor alle magte, “sal Ek 'n vloek onder julle instuur en Ek sal dit wat vir julle tot seën moet wees, vervloek. Trouens, Ek het dit reeds vervloek omdat julle die saak nie ter harte neem nie. 3 Kyk, Ek gaan julle en julle nageslag teregwys: Ek gaan pensmis in julle gesigte spat – die pensmis van julle •feesoffers!
“Ek sal julle uit my teenwoordigheid verwyder. 4Dan sal julle besef dat Ek hierdie beslissing oor julle gebring het, sodat my verbond met Levi kan bly bestaan, ” sê die Here, Heerser oor alle magte. 5“My verbond met hom was bedoel om lewe en vrede te gee; Ek het dit aan hom gegee om ontsag te wek. Hy het vir My ontsag gehad en vir my Naam het hy gesidder. 6 Betroubare onderrig in die wet het uit sy mond gekom en onreg is nie op sy lippe gevind nie. In vrede en opregtheid het hy saam met My geloop en hy het baie laat afsien van sonde. 7 Die lippe van 'n priester moet immers kennis in stand hou. Mense soek onderrig in wat hy sê, omdat hy 'n boodskapper is van die Here, Heerser oor alle magte. 8Maar júlle het afgewyk van die pad en baie mense laat struikel deur julle onderrig. Julle het die verbond met die Leviete geskend,” sê die Here, Heerser oor alle magte. 9“Op my beurt sal Ek julle veragte en vernederde mense in die oë van die hele volk maak, omdat julle nie nougeset op my paaie bly nie en menslike voorkeure laat geld in die onderrig van die wet.”
Ontrou van gelowiges
10 Het ons nie almal een Vader nie? Het een God ons nie geskep nie? Waarom is ons dan ontrou aan mekaar en ontheilig ons die verbond wat met ons voorouers gesluit is? 11Juda was ontrou, en iets afstootliks is in Israel en Jerusalem gedoen: Juda het die heiligdom van die Here waarvoor Hy lief is, ontheilig. Juda het met dogters wat vreemde gode dien, getrou. 12Mag die Here iemand wat dit doen, en wie hom beskerm en verdedig, uit die tente van Jakob uitroei – hy wat 'n offer bring vir die Here, Heerser oor alle magte.
13Die tweede ding wat julle doen, is dat julle die altaar van die Here met trane bedek, met 'n geween en 'n gesug, omdat Hy nie meer ag slaan op julle offers nie en dit nie gunstig aanvaar nie. 14 En dan vra julle: “Waarom?” Omdat die Here self as getuie optree tussen jou en die vrou met wie jy getroud is toe jy jonk was en teenoor wie jy ontrou is, terwyl sy jou lewensmaat is en 'n vrou van dieselfde verbond as jy. 15 Hy het nie net één mens gemaak nie, maar ook 'n geesgenoot vir die mens, waarna dié een mens op soek was, 'n goddelike geslag. Bewaar daarom julle gees van eensgesindheid. Moenie ontrou wees aan die vrou met wie jy getroud is toe jy jonk was nie. 16Want Hy haat egskeiding, het die Here, die God van Israel, gesê. So iemand het hom met geweld omhul, het die Here, Heerser oor alle magte, gesê. Bewaar daarom julle gees van eensgesindheid: Moenie ontrou wees nie, het die Here, Heerser oor alle magte, gesê.
Aankondiging van die dag van oordeel
17 Julle vermoei die Here met julle woorde, en dan vra julle: “Hoe het ons Hom vermoei?” Deur te sê: “Almal wat verkeerd doen, is goed in die oë van die Here, teenoor hulle is Hy goedgesind.” Of julle sê: “Waar is die God wat oordeel?”

Tans Gekies:

Maleagi 2: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid